Wanneer gee kom uit gebrek en nie uit Mammon se oorvloed deur Abraham H. de Vries het in Die Burger verskyn:
Amice,
Ons het saamgestem: soos die kasregisters nou rinkel, gedenk Kersfees elke jaar meer en meer die geboorte van Mammon. Die handelaars is teruggenooi in die Tempel.
Kersfees het die jaargety geword van goeterse, soos jou ouma altyd als genoem het waarvoor sy nie gou genoeg die regte woord kon kry nie.
Speelgoed, eetgoed, lapgoed, soetgoed, drinkgoed, leesgoed.
Blinkgoed en raasgoed. Weggeegoed en weggooigoed. Moeë wense, verslete taal.
Ons beste bedoelings het ’n afdraaipad gevat en in ’n droë leegte beland; tussen die duurste goeterse het twee oortjies iewers weggeraak waarna ons soek soos kinders soek as die aand toesak oor nog ’n Kersdag en begeertes waardeloos rondlê tussen stukke blink papier.
Insigte lê soms toegedraai in byna vergete ondervindings.
Op pad terug huis toe onthou ek: by alles wat ek al vir jou vertel het van die Kersfeeste van my jeug in die Klein-Karoo is daar iets wat ek nié vertel het nie.
Ek bely sonder skaamte my waardering vir, selfs sentimentaliteit oor die plaaswerkers van Winkelplaas en Buffelsdrift se Kerssang by pitlamplig op Oukersaande, die klein groe- pie met hul vrouens en kinders en vriende wat na middernag van plaashuis tot plaashuis Kersliedere gesing het. Natuurlik het ons almal mekaar geken.
Natuurlik kan jy dit ook maar die sang noem van werkers by die heersers in ’n laat feodale tyd.
In my geheue was hulle veel meer. Die Winkelplaas van Kersoggende was nie dieselfde as die Winkelplaas van voor Kersfees nie.
Soos elke jaar se somerwind het iewers vandaan opnuut eerbied en geborgenheid deur alles gewaai.
Daardie eerste Kersaand ná die Groot Veranderings het ons nie geweet of die tradisie voortgesit sou word nie.
Ons mag nie toelaat dat in ons nostalgie en plaasromantiek die misgekykte pyn van ander laat blý swyg nie. Ons was bedag op wat stilte sou kon vertel.
Gelukkig maar dat ons op Montagu by ’n Saterdagbasaar ekstra koek en koeldrank en droëvrugte gekoop het.
Ons het Oukersnag al weggedommel toe ek wakker word. Soos die windgedruis van die doringbome soms die stilte inneem in al die vertrekke van Volmoed met sy opgekleide mure het die bekende woorde van “Stille nag, heilige nag”, sag gesing, byna gefluister die hele ouhuis ingeneem.
Ons het nie die lig aangeskakel nie, net opgestaan, die voordeur gaan oopmaak en geluister. Nie net ons nie, ook agter ons die Van der Vyver en De Vries voorgeslagte in ovaal rame teen die mure, die seuntjie op die tekening wat deur die engel weggehou word van die afgrond af (Be ye holy for I am holy) en almal op die Breë en die Smalle Weg.
Buite op die groot stil werf onder die hoë somersterre, verlate in ’n eindelose ruimte, Ouma Lena en haar familie uit die vroeëre Van der Vyver-plaasopstal, tant Hester en haar man, Louis uit die tweevertrek- modderhuisie oorkant die begraafplaas, kinders uit die Kaap, ’n paar vriende – ’n klein groepie wat by die lig van ’n pitlamp teen die groot stilte in, vir die nag vertel het: Die Heiland is gebore in stille Betlehem en Kom herwaarts getroues.
Saam met hulle, byna hoorbaar, byna sigbaar in die yl maanlig, was diegene voor hulle: Dawid Windvogel, Maria en Anna Breda, Bellie Zelungu, Katrien en Julie Appels, Flora en Mannetjies. Nou was die groepie klein. My vrou het by hulle gaan staan, saam gesing.
Skuins agter agter Ouma Lena, wie se dogter haar kom haal het Kraaifontein toe omdat sy so van haar pensioentjie besteel word deur die jong spul werkloses, het die dief gestaan, almal het geweet wie dit is, sy was ook nie meer so jonk nie. (’n Paar maande later is Ouma Lena by haar dogter op Kraaifontein oorlede.)
Maar nou, amice, dit wat ek nie vertel het nie. By die groepie daardie Oukersnag het iemand ontbreek. Oupie was nie daar nie.
Oupie was sy noemnaam by almal op Winkelplaas, nie net by Boet Muller waar hy gehelp koeie melk het en klawer sny en groente plant nie.
Oupie met die breë sweetband om sy hoed waaragter hy die dag se melkkaartjie ingesteek het; Oupie wat somers en winters altyd netjies was in sy gehawende baadjie en sy broek met die baie lappe en die uitgerafelde some.
Oupie wat lank gedink het as jy vir hom vra waar in die wêreld hy gebore is. Dan het hy met sy hand na die Kleinswartberg toe gewys en gesê: “Doer agter daai berg is die wêreld so plat soos jou hand. Hou plat jou hand, vir wie maak jy vuis?
Winters is dit daar so koud dat net die diere se neuse uitsteek bokant die sneeu.
Dan soek jy soggens na die wit wolkies dat jy kan sien waar het die skape onder die sneeu oornag. Daar het ek groot gekom word. En toe kom ek hiernatoe.”
Kersoggend vroeg het Oupie met sy klaende kruiwa en sy blink melkemmers in die pad afgekom. Hanna het die ontbyttafel onder die doringbome gedek.
Hier en daar het geel poeierkwassies uit die boom op die tafel geval. Die geel Kersvlokkies van die Klein-Karoo.
Ek het die paar velskoene wat ek by Johan Olde Oldhoff van die Tarzan-skoenfabriek gekry het gaan haal en gewag dat Oupie moes terugkom van die melkkraal af.
Dis toe wat gebeur het wat ek nog nie tevore vertel het nie.
Oupie was vol kopskud en lyfswaai oor die nuwe velskoene – blydskap wat nie beweeg nie is mos g’n blydskap nie – want het hy gesê, hy het nog net een ander paar ooit in sy lewe gehad, die paar waarmee hy deske jare van anderkant die berg af gekom het. Velskoene is oor die berg se maniere.
Hier dra almal mos skoene.
Toe sit hy die skoendoos voor hom neer, kyk my reguit in die oë, vat my aan die arms en beloof: “Ek sal vir jou bid.”
Eintlik maar van verleentheid het ek hom bedank en weer ’n geseënde Kersfees toegewens. Oupie het voor die son onder was kom berig. Hy het net kom sê, hy het gemaak soos hy beloof het.
Dié nag kon ek nie slaap nie.
As ek weggedut het, het die plaasmense vir my iets probeer sê, die klein groepie van die nag op die werf en ook dié voor hulle. Hulle wou iets vir my sê maar ek kon dit nie hoor nie.
Net Oupie, ek kon net Oupie hoor.
Toe ek voordag wakker word, het ek gelê en wonder: is dit nie ons taalgoeterse, ons oorvloed woorde wat ons doof maak nie?
Want nie uit oorvloed nie maar uit gebrek het hy gegee.
Oupie se gebed was al wat hy gehad het.