Speak your mind … without the fear of stuttering!

Jammer vir die Engels by ‘n Afrikaanse post, maar dit sê dit so mooi.

Die meeste van ons kan nie eens altyd effektief sê wat ons op die hart het nie – sonder dat hakkel enigiets daarmee te doen het.

Ek vra dat jy vandag dink aan die hakkelaar(s) wat jy dalk ken.

En ‘n oomblik stil staan en jou seëninge tel. En hulle salueer.

Ek dink hakkel is een van die vernederendste goed wat daar is.

Dit kan ‘n hoogs intelligente volwassene binne oomblikke tot ‘n patetiese bondel verleentheid reduseer.

Ek wil nie eens dink wat dit aan ‘n alreeds selfbewusde (of is dit -te?) tiener doen nie.

Hakkel is ook een van die heel moeilikste dinge om reg te stel.

Jare se soektog het my tot een gevolgtrekking laat kom: Daar bestaan nie ‘n kitsoplossing nie.

My lieflike, talentvolle en intelligente kind sou nooit sy volle potensiaal bereik nie, want hy sal nooit ordentlik kan praat nie (veral nie voor ‘n gehoor nie).

Enige ma sal verstaan van die magtelose nagte wat ek omgehuil het.

En toe sit ek op daardie wonderlike dag in 2006 (ek wens ek het die presiese datum gehad) in my man se kantoor en soek weer eens rond op die internet vir uitkoms. En kry die McGuire Foundation. Toe my wederhelf omkyk, is ek verswelg onder ‘n vloed van trane (ek is nie een wat sommer voor mense – selfs voor hom – huil nie).

http://www.mcguireprogramme.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=1&Itemid=9

Ek het dadelik geweet: Hier is iets anders. Hier is iets spesiaal.

Dit was die begin van een van die grootste redes tot dankbaarheid in my hele lewe (en daar is baie).

Nee, Ouboet het nie summier opgehou hakkel nie. Hy hakkel nou nog soms. Hy sal vir altyd daarmee moet saamleef.

Maar hy het van iemand wat wegkruip vir die lewe verander na iemand wat die lewe kaalvuis aanpak.

Daardie onvergeetlike Wildtuintrip is die kind wat nie met vreemdes kon praat nie, die een wat by elke kamp ons bespreking gaan bevestig.

Terug by die huis staan hy onmiddellik vir Huiskom in sy koshuis.

Twee jaar later gaan spreek hy ‘n internasionale konferensie in sy vakgebied toe.

Op die foto wat sy maat geneem het, sien ek hy staan VOOR die kateder. Kruip nie daaragter weg soos die meeste van ons nie.

Dis vir my simbolies. Hy kruip nie meer weg nie.

Met daardie trip slaan hy vir hom ‘n pos los by ‘n internasionale navorsingsinstansie.

Hy deins nie terug hiervoor nie. (Soos ek – SONDER ‘n hakkelprobleem – in my lewe al vir verskeie uitdagings teruggedeins het nie). Hy vind sy tuiste in ‘n vreemde land met ‘n vreemde kultuur. Hy leer die taal aan. Hy maak vriende. Hy vind sy voete.

Nee, ek sit en spog nie net met my kind nie.

Ek skryf hierdie goed vir ingeval hier dalk ‘n moedelose hakkelaar lees.

Of vir ingeval jy wat hier lees, ‘n (moedelose) hakkelaar ken.

Om te sê ‘n ryk, vol lewe is wel moontlik vir ‘n hakkelaar.

Want hy kan verander in ‘n HERSTELLENDE hakkelaar. (recovering stutterer).

Vir my kind het McGuire dit gedoen.

Dalk kan dit dieselfde vir jou doen.

Dalk vind jy op ‘n ander plek die regte hulp vir jou spesifieke variasie van die probleem.

Dit maak nie saak nie.

MOET NET NIE OPHOU SOEK NIE!!!!

EN ONTHOU: DAAR IS NIE KITSOPLOSSINGS NIE.

7 gedagtes oor “Speak your mind … without the fear of stuttering!

  1. MMMMMMMMM Ja…… Ek is nou 52 en het ‘n GOEIE werk verloor deur my hakkel!! nou April maand 2012…… deurdat ek te stadig praat as ek ‘n dringende oproep kry van my baas……..

    Het die ding aangeleer by my oom as kind.

    Ek het my onttrek uit die samelewing, voel baie ontsteld as ek iets wil sê en dit wil nie uit!!

    En ja!!! Hoe bevooreg is die wat kan glad praat, hul besef nie regtig hoe gelukkig hul is!!!!

    Maar shoe ja!!! Dankie tog vir JESUS CHRISTUS wat my REGTIG lief het nes ek is, en my pyn ken, en help dra daaraan, OPGEE IS NIE ‘N OPSIE!!! “”;~))””

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s