Eindelik: My tiende romanse

In teenstelling met wat ‘n mens geneig is om te dink, word skryf nie noodwendig makliker as jy alreeds gepubliseer het nie. Inteendeel, dit wil vir my lyk of dit veel eerder moeiliker word. Daar is dinge om mee rekening te hou … Is my tema nie maar elke keer dieselfde nie? Is my STORIE nie maar elke keer basies dieselfde nie? Verskil my karakters ooit? Handhaaf ek dieselfde kwaliteit? Is daar variasie? Is daar groei in my werk?

Om dit te demonstreer, het dit my die skryf van twee volle romanses gekos om hierdie tiende een in publikasie te sien. Die eerste poging vir die titel van Nommer 10 was my eerste romanse wat nie net gekritiseer is deur die uitgewers, maar afgekeur is. ‘n Swaar slag vir die ego … Tot jy die verslag deeglik bestudeer en agterkom: Ja, hulle was weer eens reg. Dan bêre jy hom diep in ‘n laai (waar hy nog weer eendag sal opstaan, ek belowe!) en begin met ‘n nuwe poging.

Die tweede poging was ook nie sonder lyding nie. Ek het ‘n doelbewuste poging aangewend om dit lig te hou (soos romanses veronderstel is om te wees) en om humor te benut. Dit het gewerk – solank die humor vanself gekom het. Toe die humor geforseer raak … Wel, toe sneuwel die boek.

Gelukkig vir ‘n goeie streep koppigheid. Ek het gesif en geskuif en oorgeskryf en deurgebyt – en die resultaat is stukke beter as die eerste poging. Dink ek. Ek hoop maar my lesers dink ook so!

Haar grootste geskenk sal deur die loop van Oktober op die rakke van “alle goeie boekwinkels” verskyn, asook op die gewone plekke op die internet.

Later meer oor die storie. Genoeg om te sê dis ‘n ware groepspoging, waarin verskeie mense én diere uit my buurt ‘n aandeel het.

NS. Nee, ek weet ook nie hoe hulle haar oë so blou gekry het nie!
Maar dis presies hoe sy moet lyk.

5 gedagtes oor “Eindelik: My tiende romanse

Lewer kommentaar