Is ons helde ooit nog helde?

Lank, lank gelede, toe ons almal nog jonk en jikkerig (seker eintlik jeukerig, maar dit val nie so lekker op die oor nie) was, was goed nog goed en sleg was sleg. Daar was goeie ouens en daar was slegte ouens. Cowboys en crooks. Boere en Kakies. Voortrekkers en Zoeloes. Soldaat teenoor terroris. En ‘n paar nog minder polities korrekte moontlikhede wat ek liewer nie hier gaan noem nie.

Maar die wêreld het ingewikkelder geword. (Of ons het maar net oud genoeg geword om sy ingewikkeldheid te besef.) Ons het agtergekom die goeie ouens het ‘n bietjie (of heelwat) sleg in hulle, die slegte ouens het dikwels goeie harte. Die cowboys kon dalk maar netso skelm wees soos die crooks. Elke Kakie was ook maar ‘n ma se seun, Afrika toe gestuur om koloniale gierigheid te bevredig. Die Boere het helaas ook maar gruwelikhede in die oorlog gepleeg. Ons vermoed deesdae al hoe meer die Voortrekkers was ook maar nie altyd engeltjies nie. Vandag is daar stories van SA dienspligtiges wat jare later kollegas en selfs vriende geword het van die terroris op wie hy destyds moes skiet.

Maar die wêreld van die verbeelding het nog altyd die onderskeid vir ons mooi getrek. Die goeie ouens was die helde en het op die ou end gewen, die slegte ouens het in die tronk beland. Ook op hierdie terrein begin die grense egter verdof. House is alles behalwe ‘n goeie mens. Eintlik is hy’n dwelmverslaafde vark. Maar ons vrek oor hom, want hy is so diep menslik. Niel van White Collar is ‘n con man en dief wat eintlik in die tronk hoort. Maar ons kom weer en weer terug na nog ‘n episode.  En nie net oor sy mooi gesiggie nie.

Ook in ontspanningslektuur is die grense tussen helde en gewone mense nie meer so rigied nie. Storiekarakters word nou meer menslikheid gegun.

In die hedendaagse romanse is die held en heldin nie meer absoluut beeldskoon en volmaak nie. Nee, hulle is gewone mense met foute (hoewel darem nie te veel nie!). Hulle is word steeds geteken soos die meeste van ons graag wil wees – jonk, maer, mooi, altyd gereed met die gepaste antwoord – maar daar word toegelaat vir hulle menslikheid. Hy mag maar soms (effens) onseker wees, sy mag maar reken sy is nie maer genoeg nie. En die nare tert wat hom wil afvry, het miskien ‘n tragiese verlede.

In die moderne liefdesroman is die hoofkarakters hoegenaamd nie meer volmaakte helde en heldinne nie. Hier word hulle op eg-menslike wyse geteken, as doodgewone mense met doodgewone vrese, verlangens en foute. Deurweef met die liefdesverhaal is daar dan ook dikwels ‘n proses van persoonlike groei by albei hoofkarakters, wat hulle uiteindelik meer geskikte kandidate vir ‘n geslaagde verhouding maak. Dit geld veral vir die romantiese held, wat voorheen dikwels eensydig uitgebeeld is en selde veel persoonlikheidsgroei ondergaan het.

Omdat die aanslag romanties van aard is, word ‘n gelukkige einde minstens geimpliseer vir die verhaal, al word dit nie altyd uitgespel nie. ‘n Liefdesroman eindig meestal ten minste met hoop. Dit is dikwels waarom lesers romantiese lektuur lees – vir daardie sprankie van hoop in ‘n dikwels hopelose en hooplose wêreld.

My persoonlike siening is dat daar iets van ‘n held in die doodgewoonste mens skuil. Mettertyd het die manlike hoofkarakters in my liefdesromans dan ook meer menslik en minder volmaak geword – daar is Marius, die vark in die rolstoel in Geur van vergifnis; daar is Chris, die hakkelende hartebreker in Seisoen van genade. Nie volmaakte mense nie, maar helde in eie reg.

There’s a little bit of bad in the best of us
And a little bit of good in the rest of us.

Of so iets

Lewer kommentaar