Depressie word dikwels die siekte van ons tyd genoem, maar daar is heelwat ander wat ook kan kompeteer vir hierdie titel. Hiervan is fibrositis of fibromyalgia (ek sien allerhande verskillende spellings hiervan) sekerlik een.
Al hoe meer mense (almal waarvan ek weet, is vroue) word deesdae hiermee gediagnoseer. Ek het nie ‘n idee of daar ‘n toename in die toestand is, of dokters net meer bewus daarvan en ingelig daaroor is nie en of hulle dit maar net vir ons sê as hulle nie weet wat om verder met ons aan te vang nie. ‘n Mens weet nie, maar vermoed daar is voorheen baie mense nooit gediagnoseer nie – of daar is gesê of geimpliseer hulle makeer nie regtig iets nie.
Hieronder plaas ek ‘n opsomming wat ek ‘n hele paar jaar gelede uit verskillende bronne op die internet (wat ek nie meer kan onthou nie!) af gemaak het. Vir ingeval dit vir iemand iets kan beteken. Self vind ek dat ‘n sekere baie goedkoop generiese pilletjie, plus gereelde oefening en ‘n gesonde leefstyl (behalwe vir gereelde Lindt- en ander soetigheidverwante glipsies) my in staat stel om baie gemaklik met die pyne saam te leef. (Ek moet byvoeg dat my pyne seker met die helfte verminder het toe ek myself van my Coke Light verslawing gespeen het.)
FYBROMYALGIA SINDROOM (FIBROSITIS):
Sindroom: Samestelling van simptome waaraan ‘n mens ‘n siekte kan herken, sê die woordeboek. Dikwels simptome wat ook by ander siektes kan voorkom, nie net spesifiek tot hierdie ding nie.
Dit veroorsaak (soms) spierpyn wat jou bewegings kan beperk, en moegheid.
Die pyn kom voor op die plekke waar die spiere vaskom aan bene of ligamente. Die pyn stem ooreen met dié van artritis.
Die gewrigte word egter nie aangetas soos by artritis nie.
Dit begin gewoonlik in een area, dikwels die nek en skouers, en versprei dan verder.
Die meeste mense sê hulle voel feitlik altyd ‘n mate van pyn, maar dit wissel baie a.g.v. tyd van die dag, weersveranderinge, fisiese aktiwiteit of spanning.
Die pyn is dikwels erger na ‘n slegte nagrus.
Slaaploosheid en moegheid is die heel algemeenste simptoom. Baie mense ervaar wisselinge in konsentrasie en gemoedstemming. Ander moontlike simptome is migraine, duiseligheid, krieweling of doodheid van hande en voete, maag-probleme (soos spastiese dikderm), winderigheid.
Behandeling moet die volgende insluit:
- Oefening om pyn te verminder en spiere sterker te maak.
- Gereelde slaapgewoontes
- Medisyne vir slaap en vir ander simptome wat die persoon ervaar
- Emosionele ondersteuning om simptome te hanteer en spanning te verminder.
Die sindroom kan bestuur word sodat die persoon ‘n vol en sinvolle lewe kan hê.
Die ondersteuning van familie en vriende is noodsaaklik. ‘n Mens moet jou nie laat afsit deur tye wanneer dit slegter gaan nie – dit wissel blykbaar dikwels.
OEFENING IS BAIE BELANGRIK. Dit voorkom die verswakking van spiere, laat voel ‘n mens goed en verminder (op die lange duur) moegheid en pyn.
Oefening moet GELEIDELIK vermeerder word.
Stap, swem en oefenfiets trap is goeie keuses.
Strekoefening is baie belangrik, maar moet BAIE versigtig gedoen word.
Sielkundig: ‘n Mens moet probeer dink aan die pyn as maar net een negatiewe aspek in die lewe, en onthou van ander dinge wat nog reg is. Pasiënte dryf hulself dikwels voort tot hulle heeltemal ineenstort, en dan dink hulle hulle is te sleg om te cope.
GOEIE SLAAP IS UITERS BELANGRIK.
‘n Gesonde dieet met lae vetinhoud en baie vesel, baie vars groente en vrugte, is die beste. Daar is nie bewys dat enige spesifieke dieet wonders kan verrig vir die pyn nie.
MANIERE OM SPANNING TE VERMINDER:
DIEP ASEMHALING: Asem stadig in deur neus vir 10 tellings, jou maag moet in en uit gaan (nie jou bors nie), en dan weer uit vir 10. Doen dit 5-10 maal op ‘n keer, ‘n paar keer per dag as jy gejaag/gespanne voel.
ONTSPANNING VAN DIE SPIERE:
Haal stadig asem en span en ontspan jou spiere van jou kop af, geleidelik tot by jou tone, sorg dat jy almal bykom. Span die spiere so styf soos jy kan, en probeer dit dan weer heeltemal ontspan. Dit werk om aan die slaap te raak ook.
ONTSPANNING VAN JOU GEDAGTES:
As jy iets doen, bv. skottelgoed was, konsentreer doelbewus op jou onmiddellike omgewing, bv. die skuim, die temperatuur, ens. Sodra jy weer begin bekommer, keer terug na die rustige ervaring van jou sintuie.
MASSERING verminder spanning en laat jou beter slaap.
Onlangs het ek twee interessante dinge raakgelees:
Eerstens is sensitiewe mense geneig om dit te kry. (Kon nog nie besluit of dit ‘n kompliment is nie!)
Tweedens is daar in studies gevind dat dit dikwels by verkragtingslagoffers voorkom. Hieruit kan ‘n mens seker aflei dat erge trauma dit kan veroorsaak en/of vererger. Self het ek genadiglik nog nooit so iets beleef nie, maar die sindroom het wel ontstaan op ‘n tyd in my lewe toe ek baie besig, gejaagd, gespanne en redelik depressief was. Die gejaagdheid is vererger deur ‘n depressiepil wat my op ‘n onnatuurlike high gesit het. In dieselfde tyd het die artritis in my hande kop uitgesteek. Dokters weier om enige verband tussen hierdie dinge te lê, maar ek dink nogal daar is waarskynlik ‘n verband.
Ek hoor graag van ander mense wat dalk spesifieke dinge gekry het wat vir hulle help!
Twee van ons kinders ly aan fibromialgie. Die oudste en die jongste is definitief deur spesialiteite gedaignoseer, hoewel ons middel seun ook simptome toon, maar wees finansies nie by diagnose uitkom nie. Ek neig om saam te stem oor die feit dat sensitiewe mense geneig is daartoe en nie die “stoomrollers” nie. Ons oudste seun is op Lyrica en die spesialis onder wie se behandeling hy nou is het sy dosis verhoog – gevolglik is die pyn verligting baie beter!
Genade, ek het nie eens geweet kinders/jongmense kry dit ook nie! Baie sterkte vir julle almal!
halo alta my dogter wat 15 is het fibriomalgia en joint mobility sy is erg in pyn wat kan hulle drink
Adele, ek vind baie baat by Trepilene, maar het nie ‘n idee of dit vir kinders geskik is nie. Sterkte, hoor!
Hallo Theresa,
Kan jy moontlik vir my aandui wat hul simptome is?My dogter(10) het nou al vir die afgelope 18mde vreeslike lyfseer.
Groete
Maxie, ek dink die heel maklikste is om dit te Google of op Health24 te gaan soek.
Ek is so op soek na n afrikaanse ondersteunins groep vir mense met fibro.ek het die siekte en sal graag hoor of ander die selfde pyne en skete het soos ek want die siekte raak te slim vir my dokter lol kan jy help asb
Hallo Teresa! Ek weet ongelukkig nie van ‘n ondersteuningsgroep nie. Is jy op Facebook? Daar is heelwat Engelse groepe en een Afrikaanse groep by https://www.facebook.com/groups/Fibromi/?fref=ts Waar woon jy? Die beste is natuurlik om sommer self ‘n ondersteuningsgroep te begin. Groete en sterkte!
Hi ek is Jolanda Scott van ons groepie as jy wil ek het n toe groep gemaak as jy belang stel om daar op te wees dit gaan vir mense wees wat sommer net wil af pak sonder om te warrie wat ander se of dat ander sien wat jy se my groep is,
ek sal nog by ons adner groep ook wees ek het nie n probeleem met n oop groep nie maar daar was al mense wat gevra het vir n toe groep so toe maak ek een oop vir almal wat graag net wil af pak lol Groete daar
https://www.facebook.com/groups/955568311150508/
Dankie vir die laat weet, Jolanda!
Di is n plesierkie 😘
Hallo Alta!! Ek wil weet of jy nie van n dokter weet wat my kan help nie asb? My meds help my niksnie.
Hallo Wouna! Ek weet ongelukkig nie van iemand spesifiek nie. Maar dis belangrik dat jy aanhou soek tot jy iets kry wat help en metodes om jou pyn te bestuur. Sterkte!
Ek het so week terug begin pyne in my gewrigte ervaar…. nou spierpyne…kan dit Fibro wees? ek het sommer spierpyne gegoogle en op hierdie afgekom…
Google kan mens lekker die skrik op die lyf jaag, Janine – gaan maar liewer dokter toe!
Ek het al jare en jare al hierdie pyne wat fibro veroorsaak, maar is deur ‘n dr gediagniseer 1 en half jaar terug.
Ek het letterlik alles onder die son gedrink en gesmeer.
Ek besef dit help net vir korte duur.
Die beste medikasie is praat praat praat. Dan is gebed nog belangriker, want alleen by God lê die genesing.
Ek is op die herstel pad en dit is alles aan God te danke
Dokter toe met jou, Janine – Google kan mens soms onnodig die skrik op die lyf jaag!
My vrou het dit nou al vir meer as 10 jaar, onder andere ook ME en CFS. die siektes is verbind aanmekaaar. My vrou (baie aktief) het tot 2 dae voor my my seun se geboorte nog 5 km geloop strand toe. 2 jaar later, het sy een oggend net geen balans gehad, n buzz in die ore, en algemene swakheid. dit het ons seker R500 000 gekos om n diagnose te kry. CFS onder die ou dokters bestaaaan nie, ek het eerste hand kennis, en weet dit is daar. Kontak Potch Universiteit vir inligting, daar is nou n navorsing eenheid wat dit a kyk. My huis dkter (Danie van er merwe) het soontoe gegaan, om meer uit te vind. Sy medikasie het my vrou al baie gehelp. (ps: gewoonlik met Fibro, MS en CFS sukkel pasiente om op n laptop te werk, daagliikse take te doen, en natuurlik, baie ligaamlike uitputting.
Baie sterkte vir julle vorentoe, James!
Direkte kontak naam of nr by Potch as u dit het asb? n Vriendin ly daaraan en wil graag bietjie help. Sy is soos drs en behandelinge wat skrik vir niks,sal graag dat sy bd regte diagnose/behandeling uitkom…
Ek is ook die week gediagniseer met die siekte.My hele lyf brand van my nek tot my lae rug en ek is n sensetiewe mens.Die dr het Yelate duloxetine voorgeskryf en ek het vrydag met dit begin so ek sal nou sien of dit werk en my pyn verlig.
Baie sterkte vir jou! Ek vind Trepilene maak my lewe draaglik. Die droë mond wat dit veroorsaak, het my baie water leer drink.
Ek drink saans 50mg Trepilene, en slaappil maar dit maak tans gaan verskil. Ek besef dat die koue en nat van winter die pyn verseker meer maak! Moedeloos…
Douwlene, hoor by jou dokter of jy die Trepilene kan opskuif. Ek drink meer as dit en die winter kry my nie onder nie. Sterkte en vasbyt!
Dit is hel. Daar’s vermoede dat ek nou nog lupus het ook. Omdat ek basies so arm is dat ek eintlik in n shelter hoort, dink sassa ek sit aan om geld te kry. Ander mense dink ek is lui. Sommige dae kan ek letterlik staan en slaap. Geen ondersteuningstelsel. Niemand wat worrie of ek vandag beter is of nie. Jy kan net van dag tot dag Beplan. Ek kan bv nie se ek gaan more huis vee nie want ek kan dalk more skaars beweeg.
Eks n baie sensitiewe mens en is deur erge trauma. Enigiets traumaties gooi my in n paniekaanval in. Die pyn word baie erger met spanning. Ekt my hele tyd wat ek gewerk het, dit so geniet om net onder druk te werk. Ek kan nie meer nie.
Ek was borrelend en altyd reg vir die volgende avontuur. Ek was Elsa. Ek weet nie wie ek nou is nie. Ek hoop die help vir die mense wat nie so vrolik voel oor hul fibro nie, trepeline laat my te diep slaap ek is alleen en moet as iets gebeur kan wakker word. Phenerine werk egter goed. Staatsdokters stel bitter min belang. Een het my gese my geloof is nie sterk genoeg nie. Ander ene op my geskreeu dat ek n dwelmverslaafde is want ek het vir tramadol gevra.
Ek is in die hel, waar Elsa is, weet ek nie.
Ek ly ook aan FM vir 9 jaar al en dit raak nie vir my beter nie ek voel net elke dag sieker en slegter en bly in Walvisbaai Namibia en vir die wat nie weet nie, dit is elke dag `n baie baie moeilike stryd, ek is bly Huisgenoot het iets daarin gepubliseer oor FM, want die mense wat dit die moeilikste verstaan is die mense in jou gesin, dit het al huwelike verwoes en ek glo omdat die mans en vrouens van FM leiers dit nie verstaan nie en ook party nie daarin glo nie. Dankie Huisgenoot ek hoop ons kan meer daarvan aan die mans en vrouens van FM leiers verduidelik, om hulle te help verstaan die leier is nie net te lui of soek verskonings om iets te doen nie maar om elke dag op te staan is al `n wonderwerk.
Hi daar ek sou ook graag wou meer inligting he bv n goeie dr op die Wesrand wat hierdie siekte verstaan baie dankie
Hallo Susan! Ek stel voor jy Google vir meer inligting en as jy op Facebook is, kan jy gerus daar vra ivm dokters. Baie sterkte!
Hi, ek het gister gehoor ek het ook die siekte. Dr het my net pynstillers en slaappille gegee.
Water spesifieke kossoorte kan ek EET asook vleis, vis of hoender.? Seker ook geen Wyn of enige drank?
Dankie vir die artikel.
Hallo Ricky! Ek oorleef baie goed met Trepiline en verder net ‘n gesonde leefstyl en probeer gewig onder beheer hou. Matige oefening en probeer eet oor die algemeen gesond. Ek sny niks spesifieks uit nie. Groete en sterkte – dit kan ‘n verligting wees as mens eers weet wat jou makeer en meer kennis daaroor kan inwin.
Ek het nou al 8 jaar Fibromalgie en niks het vir my gewerk nie todat ek Relislim dieet pille gekry het ek drink 2 in die oggend, nie net verloor ek stadig gewig nie maar dit gee my energie en ek kan weer `n amper normale lewe lei ek is so bly dit werk.
Anelien Maass
Walvisbaai Namibie
Wonderlik, Annelien! Groete en sterkte uit ‘n nat Boland.
Dankie Alta
Ek het ook fibro en dit is hoekom ek n toe groep gestug het vir net dames, ek weet mans kry ook fibro maar ons as dames wil dalk persoonlike goed oor chat wat baie dames nie wil he mans moet weet nie😃, ek het uit gevind so 3 jaar trug ek het fibro vir die laaste 11 jaar het die pyne my gek gemaak maar na so veel toets en pille en baie geld uit gee vir ekstraale en nog meer net om te hoor daar is niks voud nie tot ek hier in pe een dag in stap by n Dr en sy my vertel van fibro, nou jou ja sy het my ook al op n paar pille probeer en ek kry al die nuwe efekte van pille so ek vat gee pille nie en alles brand my maag ook, al wat ek sal vat is as dit regtug erg raak is dit oor die toon bank pille nie dat enige iets help nie ie, my fibro het die laaste 2 jaar ver erger, eers was dit net in my lyf pyne styf heid moeg heid, nou het fibro in my borskas spiere in geterk en ook vir die laaste 6 maande het dit ook in my bo beene spiere in getrek dat as ek le of staan of loop of trappe klim dit baie seer is, dit trek af tot in my beene en in my voete my voet raak ook erg seer, dan in die aande is dit n gerond rol want die pyn in my beene raak erg dat my spiere laans my heepe so seer raak dat ek nie lank kan le op dit nie, so my helle lyf het nou fibro dan praat ek nie eers van die erg moeg heid naar heid en dan kry ek ook die duisligheid ook, ai en die fibro fog ,en wat n storie om op te staan in die oggende ek rol rol uit die bed uit want daar is nie plek wat nie seer is nie ,dan moet ek nou op staan as ek eers reg op is mmmm dan die been spiere wat nie saam wil speel nie dit voel of jy viets gery het waar heen weet ek nie dat elke spier trek voel of dit van jou been wil af skeur, nou begin ek loop ek stap soos n stokmantjies wat nie aan die gang kan kom nie ai en n mense vat so lank om aan die gang te kom, die siekte maak mense vies, maar ek sal nie dat die fibro ny onder kry nie en ek is so bly ek het n manlief wat verstaan en my help met alles en saam my gaan na elk Dr afspraak toe, en ek is so bly vir my groepie wat ek het daar verstaan ons mekaar en ondersteun mekaar daar pak ons af as ons n slegte daggie het en ons hou mekaar op.Dankie dat ek my storie hier kan deel hulle moet n lekker daggie he 😙 💜
Ek kan glad nie trepeline gebruik nie was op dit en dit bring my duisligheid meer aan en maak my erg moeg deur die dag, my Dr se ek is een van n paar mense wat pille nie akedeur met my nie omdat ek al die nuwe efekte kry van pille ai is maar mooielik as mense se lighaam nie seeker goed aan vaar nie 😃
Jolanda waar kry ek jou groepie. Die Dr het my Mrt 2016 daarmee gediagnoseer nadat my man met my moes jaag in die oggend ure toe ek begin hoes het en nie asem kon kry nie agv n angsaanval!
Ek wil weet of ek ook aan hierdie ondraaglike siekte lei. Ek het met erge spierpyn in my bo-arm begin en toe in my nek en skouer. Nou kan ek amper nie loop van die spierpyne in my bene nie, as ek sit is alles piekfyn maar staap op en loop dan kramp my bene so dat ek wil skree van die pyn, die dr het bloed getrek en wag nou op die uitslag. Kan iemand sê of dit dalk die siekte is?
Hallo Amanda!
Ek is nie ingelig en opgelei genoeg om ‘n mening uit te spreek nie. Ons los dit maar vir die dokters. Maar ek wil in elk geval vir jou sê daar is baie hulp om dit te beheer en te bestuur, dit hoef nie ‘n vonnis te wees nie. Baie sterkte!
My hande en voete het permanent pins and needles. Self n dooie gevoel. Vanaf bo my kniee tot by my voete is is asof die spiere styf trek. Ek verloor ook my balans maak. Dan het ek skop beweegings as ek slaap. My voete swel op. Ek haat om so te voel. My lewens maats se slaap word om ver gegooi deur die skop bewgings in die aand. Het baie van my spiere oor my hele liggaam verloor. Was altyd gesonde 65 kg nou is ek maar 49. O ja het n eetlus wat mans laat skrik,maar tel geen gewig op nie. Help asb
O aarde, Daleen, ek het nie die kennis om jou te help nie. Jy moet so gou as moontlik by ‘n dokter uitkom. Sterkte!
Hallo Alta. Wat ‘n wonderlike idee om die ondersteuningsgroepie te stig. Dit help al klaar om te weet daar is ander wat weet en verstaan. Ek wonder wat die oorsaak daarvan kan wees. Mens het tog nie vroeër jare daarvan gehoor nie. Ek persoonlik dink dat eetgewoontes ‘n baie groot rol speel en daarmee bedoel ek dat ons eintlik so min regtige vars en organise produkte inneem. Dis nie onmoontlik nie, maar verg nogals heelwat navorsing en is duur. Ek is bly dat jy noem oor die Coke light verslawing. Ek vind defnitief dat ek beter is wanneer ek nie gaskoeldranke inneem nie. Lekker aand
Hallo Alta, dalk klink my problem so bietjie anders. Ek het net een klagte en dit is die lam pyn wat ek ondervind tussen die skouerknop en die elmboog. Dit is n spierpyn en is sonder pynpille ondraaglik. Dit maak my humeurig en is geweldig irreterend. Kan jy my van hulp wees?
Nee, Helene, dis beslis ‘n saak vir jou dokter!
Ek was einde Augustus 2016 baie geskok toe ek gediagnoseer is. Ontkennend dat dit FM is het ek maar soos vroeër na pynpille gegryp. Maart 2017 is ek na ‘n ander dokter en hy het dit bevestig. Hy het my aanvanklik op trepline gesit saam serdep, bilocor en dynaville, omdat ek hoë bloeddruk en ‘n baie vinnige hartklop het. Die bilocor en trepline het hy verhoog en stilpayne saam dit voorgeskryf. Ek moet sê dat ek nou baie rustger is en nie meer so erg emosioneel nie. Ek doen alles so stadig moontlik en probeer soveel moontlik rusposes inwerk, anders gaan my hart op loop. In my geval lyk dit of die een ding die ander wil kniehalter. Al hierdie probleme het ek al van kindsbeen af, maar daar was altyd net by my bloeddruk wat te hoog is vasgesteek. Ek het die laaste 6 maande soveel as moontlik navorsing gedoen en dit het my nêrens gebring
Dagga olie…weet van teveel waar al hierdie probleme weg is.
Ek sukkel met presies dieselfde probleme,eintlik 100% dieselfde.Ek sit (bestuur)baie ure elke dag.Ek glo dit kom van die spanning,sit,bestuur en stres.Migraines ,nek styf,skouer spiere styf,arms gaan dood,oog spring,gewrigs pyne,spastiese dikderm.Eks baie raad op.Was al by al wat n dokter en fisio gewees.Ek oefen en als,maar dit voel of dit net erger raak.
Groete Niel
Hallo Niel! Dis net ongelooflik hoeveel mense hierdie probleme het. Vir my maak ‘n pilletjie met die naam Trepeline ‘n groot verskil en my lewe draaglik. Ek hoop jy vind ook medikasie wat vir jou help. Groete!
Prof Helgard Meyer in huisartskunde van TUKS spesialiseer in behandeling van Fibromialgie. Verstommend dat só baie mediese praktisyns nog soveel onkunde daaroor openbaar.
Sterte. Dit bestaan inderdaad.
Groete en beterskap.
Lydia Potgieter
Dankie, Lydia!
Alta,
ek het ook die simtome en het nie geweet wat is nou met my verkeerd nie tot dat ek nou op jou blog afgekom het en myne het ook begin weens omstandighede in ons huis wat skierlik verskriklik besig geraak het soveel so dat daar dae is wat ek net in trane uitbars omdat ek nie kan by hou nie ek is nou 60..
ek swem gereeld 2dae n week en stap elke dag 2keer n week so + – 14 km somtyd is dit beter andertyd gaan die pyn af tot in my regterarm in ek weet nie wat kan ek nog doen nie as dit vir my onhoudbaar raak drink ek maar n cataflame pilletjie ek moet ook se ek is nie n gereelde pil drinker nie …laat weet as daar iets anders is wat ek kan probeer baaie danki
Hallo Francina
Lekker om van jou te hoor! En ja, dis altyd lekker as mens besef jy is nie alleen nie. Die heel beste sal egter wees as jy na jou dokter toe gaan; daar is sekere kriteria waarvolgens hulle fibro diagnoseer. Ek vind baat by ‘n pilletjie met die naam Trepilene, wat mens ook lekker laat slaap. Baie mense kla van die newe-effekte, maar ek het geleer om daarmee saam te leef (hoofsaaklik die uitdrogende effek). Dis net belangrik dat mens moet eksperimenteer met die korrekte tyd om dit saans te drink, dat jy nie soggens soos ‘n zombie voel nie.
Verder probeer ek ‘n gesonde leefstyk handhaaf en rus wanneer dit nodig is. Miskien is jy bloot oorwerk en moet jy kyk of daar nie iets is wat jy kan uitskakel om dinge ligter te maak nie. Onthou, die jare begin nou aan ons knaag – ek raak beslis moeër as voorheen.
Groete – en kyk mooi na jouself!
Francina, ek is so jammer ek het jou briefie gemis!
Sjoe, dit klink kwaai. Maar ek dink jy is op die regte pad met jou oefening en pilletjie wanneer dit noodsaaklik is. Ek vermoed fibromyalgia is ‘n leefstylsiekte wat uit ons gejaagde lewe spruit, daarom help dit ook as mens jou leefstyl kan aanpas. Basies kom dit op gesond leef neer – genoeg slaap, matige oefening, gesond eet, genoeg om te doen maar nie te veel nie, streshantering.
Mooi wense vir jou!
Hi Alta ek het gisteraand n baie slegte nag gehad. Dit het gevoel asof steekpyne my liggaam aanrand veral in die bene. Ek het n snaakse emosie ervaar en ek moes soms my mond toe druk om nie te skree nie. Dit het gevoel asof ek van my kop afraak. Ek kry gereeld steekpyne in my voete en bene. Baie Dankie Mercia
Hallo Mercia – dankie dat jy jou ervaring deel. Ek kan hoor jy kry regtig swaar. Al wat ek kan vra is dat jy so goed as enigsins moontlik na jouself moet kyk. Ons is so geneig om die mense rondom ons altyd eerste te stel en van ons eie behoeftes te vergeet.
Groete en sterkte!
Enige medikasie oor die toonbank
Kontak liewer jou dokter.