RSS

Dagboek van ‘n depressievegter: Destigmatiseer depressie en selfdood só

09 Jul

Ek het die vrymoedigheid geneem om die volgende brief aan Die Burger van prof. Lizette Rabe, bekende joernalis en akademikus, volledig hier te plaas. Ek dink wat sy sê, is geldig en baie belangrik. Tot my spyt het ek nie die oorspronklike skakel gebêre nie.

Oor die aktrise wat probeer het om haar lewe te beëindig (DB, 07.07): In ’n tyd waarin ons oorbewus is, uiteindelik, en met reg, van menseregte en onsensitiewe woorde, word terminologie om depressie, die mens se waarskynlik mees verskriklike siekte, steeds gebruik sonder enige inagneming van dié wat daaraan ly, of sterf.

Ek verwys na die frase “selfmoord pleeg”. In ’n tyd dat ons so bewus is van basiese regte, behoort ons dié wat ly aan die siekte wat die oorsaak van selfbeëindiging is, met meer respek en menswaardigheid te behandel. Bowendien is die term argaïes en gelaai met inkriminasie en morele veroordeling.

Ons behoort die frase wat so sonder nadenke gebruik word wanneer iemand sy lewe aan depressie verloor, uit ons woordeskat te weer. Meer aanvaarbaar is “aan selfdood sterf”, of “eie lewe neem”, of die veel meer humanitêre: dat iemand aan depressie gesterf het – soos wat iemand aan kanker kan sterf. Die media behoort ook ’n leidende rol hierin te speel.

Só kan die siekte gedestigmatiseer en gedemistifiseer word en word hopelik ’n bietjie meer begrip gekweek vir die feit dat dit ’n biologiese siekte is, veroorsaak deur die chemiese wanfunksionering van die brein, op sy beurt veroorsaak deur endogene of eksterne faktore. Indien ons die siekte normaliseer, sal meer mense besef hulle moet vroeër vir behandeling gaan vir ’n beter kans op lewensgehalte en oorlewing. Daarmee word ook die onkunde daaroor verbreek, want soos ander biologiese siektes vereis dit medikasie en behandeling.

Die algemene onkunde blyk uit kommentaar in die berig oor Lindie Stander: “Ek is seker sy is sterk genoeg om hierdeur te kom.” Nee, ’n depressielyer wat haarself probeer vernietig, is terminaal siek en kan nie net “sterk genoeg” wees nie. Mediese behandeling is nodig sodat die brein weer normaal kan funksioneer om uit die selfvernietigingspiraal te kan kom.

Lizette Rabe

Somerset-Wes

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , , , , ,

6 responses to “Dagboek van ‘n depressievegter: Destigmatiseer depressie en selfdood só

  1. colourmecrazee

    09/07/2012 at 14:42

    dis baie waar – het nog nie so daaraan gedink nie. dis net soos ek nie van “stiefma” en “stiefkinders” hou nie … 😦

    dankie vir deel …

     
    • Alta Cloete

      11/07/2012 at 19:51

      Ja, daar is eintlik baie terme wat al vir jare (eeue?) gebruik word en eintlik baie onsensitief is.

       
  2. lidiatheron

    09/07/2012 at 15:42

    Dankie dat jy dit hier geplaas het. Ek het ook die brief in die koerant gelees en so daarmee saamgestem. Ek was ook al op daardie punt dat ek ‘n handvol pille gesluk het. My suster, wat ‘n verpleegster is, het lang my bed gesit toe ek wakker word en onmiddellik met my begin raas. Seker maar van blydskap. Vir dae lank daarna, het ek nie geweet of ek dankbaar moes wees dat ek wakker geword het nie want niks het verander nie. Na behandeling kon ek weer die wêreld in die oë kyk en aangaan al het die oorsaak nie weggegaan nie. Ek kon dit net beter hanteer.
    .

     
    • Alta Cloete

      11/07/2012 at 19:52

      Ja, ‘n mens kan eers regtig verstaan as jy al daar was. Dankie vir die deel, Lidia!

       
  3. Colette Pretorius

    09/07/2012 at 22:47

    Dankie hiervoor Alta. Ek ly self, nes Lindie, aan Bipolere Gemoeds Versteuring. Wat ek nou al agtergekom het is dat almal wat dit het dit anders ervaar, maar dit is hel en ek wens dit niemand toe nie. Ook dat mense soms vir rukke aaneen cope en dan terugslae beleef. Dat die stigma daarom enorm is. Dat die mense wat veronderstel is om te verstaan glad nie doen nie. Dat familie baie kan seermaak, juis oor hulle nie verstaan nie. Dat dit ongelooflik moed verg om dag vir dag te veg. Dat jy jou familie ontsettend liefhet en nodig het want hulle doen hul bes al verstaan hulle nie en al maak hulle jou seer. Dat God jou dra. Dat jy sterker is as wat jy dink. En dat daar hoop is. Ek skryf die nou terwyl ek ok voel. ‘n Ander keer voel ek miserabel en wil ek sterf. Maar vir nou hou ek vas. Bid vir my en ons!

     
    • Alta Cloete

      11/07/2012 at 19:53

      Dankie dat jy daaroor praat, Colette – dit dra by tot die destigmatisering van hierdie dinge. Baie, baie sterkte vir jou!

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: