RSS

Lig wankelend – Gerard Scholtz

08 Jul

Lig Wankelend is ‘n juweel wat met sy verskyning in 2010 op een of ander manier by my (wat hard probeer om op hoogte te bly van wat in Afrikaans verskyn) verby gegaan het. Danksy leesvriende op facebook het dit egter onlangs onder my aandag gekom – en baie gou ook in my hande.

Die verhaal van Utte Reuter word hoofsaaklik deur terugflitse vertel, vanwaar sy haar as pasiënt in ‘n versorgingsoord vir Alzheimers-pasiënte bevind. Die verskriklikhede van die Tweede Wêreldoorlog vorm ‘n groot deel van ‘n verhaal en bepaal uiteindelik die verloop van haar lewe, omdat sy nooit daarin slaag om werklik daaroor te praat en dit te verwerk nie. Voeg hierby haar lewenslange verlange na haar geliefde Félix en haar ongelukkige huwelik met die Afrikaanse Christiaan Hofmeyr, en jy kan seker nie anders as om op ‘n tragedie af te stuur nie.

Baie dinge uit die boek sal nog lank in my kop bly vassteek: die geweldige impak van oorlog (enige oorlog – soos ook getoon deur Utte se seun se betrokkenheid by die latere SA grensoorlog) op die individu, die parallelle tussen Duitse en Afrikaanse nasionalisme en die impak daarvan op individue en nasies, die beperkte en beperkende rol wat aan die vrou toegeken is binne die destydse Afrikaner-opset, die vir die buitestaander onverstaanbare besluite wat haar drie keer van dieselfde man laat skei en weer met hom laat trou, die allesoorheersende liefde van ‘n ma en die omvang van haar diens aan haar kind wat met ‘n afwyking gebore is, die  uiteindelike losmaking van kinders t.s.p. bogenoemde liefde, die algehele verlorenheid van ‘n mens wat haar uiteindelik nêrens en by niemand heeltemal tuis voel nie.

Ja, dis nie ‘n opgewekte boek nie en humor sal jy nie maklik daarin vind nie. Maar vir hierdie leser is die donker gegewens verlig deur die wonderlike Afrikaans waarin die boek geskryf is. Utte se gedagtewêreld toon ‘n ryk geskakeerde en begaafde persoonlikheid waarvan die buitewêreld moontlik baie min gesien het, intense emosies en buitengewone waarnemingsvermoë en ‘n eindelose soeke na geluk en aanvaarding. Terwyl ‘n resensent die taalgebruik as geforseerd beskryf, het ek dit ervaar as die effektiewe uitbeelding van die intensiteit van haar belewing en haar waarneming van en leef saam met die natuurelemente wat haar basis in Suid-Afrika vorm.

Lig Wankelend is nie heeltemal ‘n biografie nie, ook nie ‘n liefdesverhaal nie, maar val êrens in ‘n klas van sy eie. Dalk is dit die rede vir die min publisiteit wat die boek ontvang het – dit pas (soos die hoofkarakter) nie maklik in ‘n bepaalde boksie nie.

As jy ligte ontspanningsleesstof soek – hou verby. As jy wil dink, jou wil verwonder aan die gebruik van Afrikaans en moontlik ‘n hele paar trane wil stort – maak seker dat jy hierdie boek in die hande kry.

Hierdie resensie laat myns insiens reg aan die boek geskied:

http://www.letterkunde.up.ac.za/resensies/48_2/22%20Resensies%20Thiart%2003.pdf

NS. Soos al my boekbesprekings, is hierdie stukkie geen professionele resensie nie, maar bloot die persoonlike mening van ‘n leser met die doel om andere aan te moedig om Afrikaans te lees.

 
8 Kommentaar

Posted by op 08/07/2012 in Boeke, Lees, Skrywers, Suid-Afrika

 

Etikette: , , , , , , , , , ,

8 responses to “Lig wankelend – Gerard Scholtz

  1. Lidia Theron

    08/07/2012 at 19:26

    Ai, hierdie moes ek nooit onder oë gekry het nie. Nou MOET ek eenvoudig hierdie boek lees.

    Dis ook nie ‘n leen of bib boek nie, dis ‘n moet hê boek.

     
    • Alta Cloete

      11/07/2012 at 19:54

      Laat hoor wat jou ervaring daarvan is, hoor.

       
  2. MaanKind

    08/07/2012 at 19:27

    Ware verhale het nou maar eenmaal die manier om mense te bekoor, veral as die waarheid vreemder is as fiksie.

     
    • Alta Cloete

      11/07/2012 at 19:54

      En hoe dikwels is dit nie vreemder as fiksie nie!

       
  3. hoendersop

    09/07/2012 at 11:46

    Alta, ek het hierdie aangrypende boek gelees toe dit verskyn het en dit baie geniet – soos jy sê dis ‘n juweel. In ‘n onderhoud het die skrywer gesê dat die verhaal vir hom vervelig was in chronologiese volgorde. Hy gooi toe die manuskrip op die vloer en soos hy die blaaie opgetel het, het hy die verhaal in daardie volgorde vertel.

     
    • Alta Cloete

      11/07/2012 at 19:55

      ‘n Mens moet nogal byhou met die tydspronge in die boek – nou weet ek hoekom!

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: