Manchester – 22 Junie

  1. Manchester is eintlik ‘n pragtige stad – as ‘n mens tyd sou gehad het.
  2. Dit reën gereeld in Manchester. Soos op al die plekke waar ons was.
  3. Wonderlik dat daar spesiale busse stadion toe loop – maar waarom steek die mense hulle aan die anderkant van ‘n yslike gebou weg?
  4. Reën wat deur wind aangedryf word, maak nog natter as regaf reën.
  5. Etihad Stadion is nogal groot en indrukwekkend. Al beïndruk sokker jou nie.
  6. Wat in Sunderland die box office was, word hier iets anders genoem. (Ek het vergeet wat – maar ons het dit darem gekry.)
  7. ‘n Mens voel eers werklik veilig as jy daardie kaartjie in jou hand het.
  8. Nee, ek weet nie wat ek met vier kitaar pics met Bruce-prentjies gaan maak nie. Dalk in my Bybel bêre?
  9. En daar vergeet ek toe om die Springsteen onesie vir my (non-existent) kleinkinders te koop. (Om my kinders mee te treiter, natuurlik.). As jy nie weet wat ‘n onesie is nie, moenie alleen voel nie!
  10. Toilet toe gaan by openbare plekke is nie vir sissies nie. (Vir spesiale tegnieke, kontak my reisgenoot.)
  11. Dis salig, salig om in te stap en op jou bespreekte plekkie neer te sak.
  12. En van bo af lyk dinge bedrieglik stigtelik en ordelik doer onder in die pit.
  13. En jy sien nou eers presies hoe klein daardie afgebakende stukkie is.
  14. En jy besef hoe gelukkig jy was om daar te beland (en te oorleef sonder dat Bruce met die waterbottel moes kom aandraf.)
  15. En jy is dankbaar vir die wenk van ‘n internasionale fb-vriend wat ons daar gekry het. Plus ‘n goeie skoot doodgewone koppigheid.
  16. Jy voel soos ‘n ou hand wanneer jy hier van bo af die voorbereidings op die verhoog volg – gisteraand het jou mond oopgehang. (Veral vir daai manne wat daai toulere in die dak in klim – pure sirkusartieste.)
  17. Dit voel weer eens soos ‘n ekstra stukkie genade dat die reën wraggies vir die show ophou.
  18. Weer eens begin die show net ‘n paar minute laat. En jy besef hoeveel dinge in plek moet val – dis nie net hy wat sy kitaar moet vat en uitkom nie.
  19. Dit help nie veel as jy met jou maat probeer wed waarmee hy gaan begin en julle wed dieselfde nie.
  20. En is toe albei darem gelukkig reg.
  21. En nommer 2 is die eerste van vele verrassings in die program.
  22. Toe maar, ek gaan nie elke liedjie hier bespreek nie. Dit sal ek jou spaar! 🙂

(Word vervolg)

Foto: Nadia de Kock

4 gedagtes oor “Manchester – 22 Junie

  1. Klink asof dit heerlik was. Dalk sal dit in ander seisoene nie so vreeslik reên nie. Die weer was hier min of meer dieselfde.

    1. Ek dink die somer was oor die algemeen kouer as wat die winter hier is. Maar ek kla nie – ek sou nog swaarder gekry het op die trip as dit in hitte was.

    1. Dankie vir die saamreis, MaanKind! Gelukkig hoef jy nie nou saam met ons siek te wees nie!

Lewer kommentaar op MaanKind Kanselleer antwoord