RSS

Dagboek van ‘n depressievegter: Om beheer te verloor

18 Jun

Hierdie post is omtrent agtien maande gelede geskryf. Die situasie het verander, maar die waarheid bly staan: mens het nodig om te voel jy is (minstens tot ‘n mate) in beheer van jou lewe. (Die foto is in Edinburgh geneem en het nie veel met die post te doen nie, behalwe dat ek toe daar was.)

Om (ten minste ‘n aanvaarbare mate van) beheer oor jou lewe te behou, is ook ‘n basiese menslike behoefte wat wyd erken word. (Kyk gerus na die laaste punt by hierdie skakel.)

Om beheer te verloor, is nie noodwendig iets dramaties of traumaties nie.

Dit kan selfs vir ‘n rukkie lekker wees.

Soos wanneer jy saam met twee slim en gawe en bekwame (en dierbare) mansmense saam toer en hulle letterlik alles bekwaam hanteer.

Vir ‘n dag of wat is dit heerlik om nie eens kos hoef te maak nie. Of te bestuur nie. Of te navigeer nie.

En dan begin jy kriewel.

Want skielik kry jy die gevoel jy verdien nie eintlik om hier te wees nie.

Dan kry jy die gevoel jy het in elk geval nie ‘n keuse nie. Want jy is nou hier. En dis blerrie fantasties hier. Dis net ongelukkig nie noodwendig op daardie oomblik vreeslik LEKKER nie.

Dan besef jy jy kan eintlik nie veel doen om ‘n bydrae te lewer nie. Of om enigiets te verander nie.

(OK, ja, jy kan vriendelik en gevat en blymoedig wees … Maar wie’s nou altyd lus???)

Dan besef jy jou magte is absoluut nul en al wat jy kan doen om dit te verander, is baklei. En dit gaan net dinge vir die twee (dierbare) manne sleg maak. En die kans is altyd daar dat hul minder dierbaar kan word …

En dan baklei jy in elk geval. Net baie effentjies. Om jou punt te maak. (Eintlik maar net omdat jy nie anders kon nie.)

En jy besef die depressieduiwel is mal daaroor as ons opkrop. Veral as ons dit ter wille van sogenaamde ordentlikheid en vrede doen.

En dan gaan die dae verby en die program verander en jy het weer ‘n bydrae om te lewer – en alles is beter. (Dat die bydrae is om ses bondels wasgoed met ‘n vreemde en wispelturige wasmasjien te was, is nare werklikheid wat ‘n mens altyd kan probeer vergeet.)

Nog ‘n lessie: Dit help as ‘n mens kan uitfigure HOEKOM jy voel soos jy voel. Al verander dit niks, laat voel dit jou minstens beter. Vir my altans.

En vir jou? Hoe werk dit vir jou?

Advertisements
 
 

Sleutelwoordw: , , ,

9 responses to “Dagboek van ‘n depressievegter: Om beheer te verloor

  1. MaanKind

    18/06/2012 at 21:13

    Ek weet hoegenaamd niks van depressie af nie, Alta, maar dit klink my min of meer soos ‘n Dag in die lewe van ‘n vrou.

     
    • Alta Cloete

      19/06/2012 at 10:12

      Terwyl ek hieroor dink, het ek juis besef hoeveel v hierdie elemente selfs in moderne vroue se lewens nog is. En hoe vroue tevore seker dikwels permanent daarmee moes saamleef. Dit laat dink my ook aan die heel arm mense, want ek dink armoede beroof jou baie effektief v beheer oor jou lewe.

       
      • MaanKind

        19/06/2012 at 10:18

        Ek het juis gedink, dit klink soos ons almal! Ons ‘gelukkiges’ beleef dit waarskynlik net nie so intens soos ‘n depressielyer nie.

         
  2. Nadia de Kock

    19/06/2012 at 07:52

    Desmond se woorde in By oor die ou jeugvriende wat die donkerte met loeiende kitare gaan verdryf is hier ook 100% toepaslik!

     
    • Alta Cloete

      19/06/2012 at 10:30

      Inderdaad! Dis wat vir hulle werk. Ekstra bonus dat dit vir ‘n miljoen of twee fans ook werk.

       
  3. Xanika

    19/06/2012 at 12:28

    Ek is so maand gelede gediagnoseer met nageboortedepressie. Ek het geleef in ‘n diep swart gat en nie geweet hoe om daar uit te kom nie. Ek gebruik nou wel medikasie, maar dit werk nog nie soos ek gehoop het dit sal nie. Maar ja, vandat ek weet wat fout is, is dit of dit in elk geval beter gaan!

    Op die stadium egter leef ek op ‘n wipplank, een dag op en een dag af, maar dit voel of ek meer onder is as bo…

     
    • Alta Cloete

      19/06/2012 at 13:25

      Xanika, dit is so dat ‘n mens ‘n vyand makliker kan beveg as jy eers ‘n naam vir hom het.
      Ek vermoed verwaarloosde nageboortedepressie was die begin van baie van my probleme. Dit is dus ‘n groot bonus dat jy alreeds gediagnoseer is en begin terugveg het.
      Ek hoop die pad loop hiervandaan vir jou boontoe – al is dit nie altyd maklik nie.
      En ja, medikasie is baie, baie belangrik. Maar nie al wat nodig is nie.
      Lees gerus al die ander posts op hierdie blog. Dalk is daar iets wat jou vorentoe kan help.
      Groete!

       
  4. yvettedevilliers

    19/06/2012 at 13:22

    Dis inderdaad nie lekker om soos ‘n vyfde wiel aan die wa te voel nie. Nutteloos. Van geen nut nie. Dat jy nie belangrik is/ geag word nie. Dat jou insette/ bydrae nie nodig is nie. Ek dink groot seunskinders kan nogal hiermee mistrap.

     
    • Alta Cloete

      19/06/2012 at 13:27

      Jip. M.a.w. dis ‘n deel van elke ma se aanpassing as die kiddies grootword.

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: