Dagboek van ‘n depressievegter: Om nodig te wees

Om NODIG te wees (of ten minste nodig te VOEL), is een van die basiese menslike behoeftes. (Sien punt 6 by hierdie skakel)

Dit laat dink my aan my bejaarde ou moeder wat amper manies bang was vir nutteloos word. En meer nog – om ‘n las vir andere te word. Nou verstaan ek dit beter. En is ek nog meer dankbaar sy is dit gespaar.

Die afgelope twee weke het ek tot my skok ontdek presies hoe groot hierdie behoefte aan nodig wees (of nodig voel) is.

Ten spyte van die voorreg om saam met my geliefdes te toer en wonderlike plekke te sien, het die depressieduiwel gou-gou sy intrek op my skouer geneem en moes ek veg dat dit bars.

Natuurlik het dit my ongelooflik ondankbaar en daarom skuldig laat voel.

Toe ek so ver kon kom om mooi te dink oor die saak, het ek besef dit gaan o.a. daaroor dat ek nie nuttig gevoel het nie.

Die manne het basies alles gedoen wat gedoen moes word.Betaal, bestuur, navigeer, foto’s geneem …

Heerlik – is dit nie?

Nee, glad nie. Want daar sit ek toe soos Piet Verdriet en het nie werklik ‘n bydrae om te maak nie.

Behalwe om mooi te lyk. 🙂 En dit werk nie meer aldag so goed nie.

Of om snaaks te wees. En as die downs jou vang, sukkel dit met die humorsin.

Ek het eenvoudig nie veel gehad om te doen nie. Want sien, my belangrikste rol in die gesin was maar altyd die van versorger. En niemand het eintlik meer veel versorging nodig nie. (Besef ek nou dat ek waarskynlik nuttiger gevoel het toe die kind siek was en ek darem pilletjies aandra en simpatie gee en stres.) Albei is heeltemal in staat om na hulself te kyk. Die moeilikste wat ek kon doen, was om middae iets te ete te koop wat ons nie heeltemal finansieel ruineer nie.

Ai, hoe begeer ‘n mens nie presies dit wanneer jou kinders klein is en jy nie eens alleen kan badkamer toe gaan nie …

En toe is dit nie so lekker nie.

MORAL OF THE STORY: Oppas vir die depressieduiwel. Wanneer hy nie ‘n gaping sien nie, MAAK hy vir hom een. Al is dit op die heel onwaarskynlikste plek.

4 gedagtes oor “Dagboek van ‘n depressievegter: Om nodig te wees

  1. Ek noem haar Deborah, of sommer Debs.

    Ek is jammer dat sy nie maar by die huis gebly het en jou alleen laat vakansie hou het nie.

    Na my aftrede het sy regtig met baie bagasie gekom en by my ingetrek. Ook, ek was nie meer nodig nie. Gelukkig kon ek dit uiteindelik verander. Ek het besef as mens nie meer ‘n droom het nie, dan word Debs ‘n inwoner in jou huis. Toe ek die kopskuif gemaak het, kon ek haar uitjaag. Sy hou natuurlik aan om van tyd tot tyd aan my deur te klop. Dis wanneer ek al my drome en ideale vir haar wys, dan sluip sy maar druipstert weg. Dis ook nie altyd ewe maklik nie.

    Sterkte vir jou, ek glo en hoop jy kan ook vinnig van haar ontslae raak.

  2. Die Uncommon Knowledge internetkursus wat ek gedoen het, stel o.a. voor jy moet depressie vir jou as ‘n persoon of ding visualiseer en hom/haar/dit ‘n naam gee. Hulle het so ‘n duiwelrige prentjie met ‘n weerligstraaltjie en sy naam is Depresso. Hy het my nogal geirriteer – maar dis dalk die idee … Ek het nog nie ‘n naam vir myne nie, maar dit gaan beslis nie ‘n vleiende naam wees nie. Dalk ook nie ‘n publiseerbare een nie! 🙂
    En ek is piekfyn, hoor – die veeleisendste deel van die trip is verby en baie dinge het goed afgeloop en ek het tyd om ‘n bietjie op my eie te wees en te besin.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s