Junie 2012: Laaste skof tot in Edinburgh

  1. Wanneer die dringende aktiwiteit en grootste krisisse agter die rug is, skop die moegheid in.
  2. En die geheue verlaat die woning.
  3. Net beelde van baie groen berge en baie water en baie skape bly.
  4. Beelde wat met verloop van tyd nog baie kosbaar gaan word.
  5. Inverness het sy agterkant vir ons gedraai.
  6. Behalwe vir die winkeltjie met die (onbekostigbare en breekbare) cute skapies.
  7. Die Skotte is nadenkend genoeg om net so twee doedelsaknommers op hul compilations vir toeriste te sit.
  8. Daar is hier en daar ‘n man wat goed lyk in ‘n Skotse rokkie (Die wat ons sien, is meestal toergidse).
  9. Ek kan nie glo dat iets wat (waarskynlik) nie bestaan nie, soveel mense kan trek na die plek waar hy (waarskynlik) nie bestaan nie.
  10. Dis nou Loch Ness en sy monster.
  11. Minstens tien toerbusse en ‘n yslike toegangsfooi by die redelik ordinere kasteel in daardie omgewing.
  12. Salige stilte by sommige baie meer besondere plekke.
  13. Ek is spyt ek het nie gekyk na die foto’s op die almanak van Nessie nie – hoe maak ‘n mens ‘n almanak van iets wat nie bestaan nie?
  14. Isle of Skye se muggies werk langtermyn … Ek jeuk nou eers behoorlik.
  15. En natuurlik het hulle niemand anders bygekom nie. Soos dit altyd met goggas gaan.
  16. Gelukkig het ek salfies.
  17. Gisteraand se laaste ete op die platteland was iets besonders – en van Bangladesh/Indie.
  18. Die kind het nie ‘n idee wat hy ge-eet het nie, maar dit was heeerlik.
  19. Nou weet ek ook hoe smaak biryani, wat ek al wou probeer maak, maar nooit so ver gekom het nie.
  20. ‘n Gastehuis met ‘n sitkamer om actually op ‘n bank te le en lees, kan na veertien dae op die pad trane na jou oe bring.
  21. Maar op die ou end bly die bed die beste.
  22. Wonderlik hoeveel klein voeltjies ons toe by die bird feeder sien, wat ‘n mens glad nie in die ry raaksien nie.
  23. Wonderlik hoe die groepe voels ooreenstem (en verskil) van die wat ons in SA ken.
  24. Vreemde mense se pragtige langhaar wolfhond ook. (Dis nou die trane in die oe).
  25. En toe kom die (bekwame) navigator en die (bekwame) bestuurder vandag so amper hul moses tee in reenerige Edinburgh VOL padverleggings.
  26. Die moeder van die huis het gekonsentreer op STILBLY.
  27. Dit was baie wys.
  28. Klein genades is stof tot groot danbaarheid – soos ‘n deur wat moes toe wees, maar oop was. Anders het ons seker nou nog op straat gestaan.
  29. Ander (presiese) mense se reelings kan ook deurmekaar loop. 
  30. En dit maak ons net almal meer menslik.
  31. Gewoonlik werk alles op die ou end goed uit.
  32. Dis heerlik, heerlik, heerlik om ‘n hele apartment te he en om  jou goeters te kan uitpak.
  33. Nevermind dat die wasmasjien met ‘n droogfunksie daarby se siklusse EINDELOOS is. Letterlik. (Ek oordryf net effens!)
  34. As ‘n mens  nou in die een slaapkamer gaan kyk, sien jy hoe uitputtend is veertien dae saam met die ouers vir ‘n gesonde jongman. 🙂
  35. Die voorstel dat die manne ‘n bietjie gaan bond in die verskeidenheid strip clubs in ons straat, is toe nie aanvaar nie. (Dank Vader!)
  36. Oor die aard van die Kama Sutra restaurant se dienste kan ons maar net wonder.
  37. Vanaand gaan ek slaap of dit uit die mode raak.
  38. En die selfoon  stel om elke uur die wasgoed te kom check …
  39. My maat vir die Springsteen shows het vandag veilig hier naby by haar kind aangekom.
  40. Ons twee SA vlaggies wapper solank hier in twee (lelike) plastiek potplante.
  41. Ek begin raak hartseer oor die kind wat Maandag terugvlieg.
  42. Ek vermoed ons gaan more ‘n wonderlike stad rondom ons ontdek.
  43. Op die oomblik klink net die bed wonderlik.

8 gedagtes oor “Junie 2012: Laaste skof tot in Edinburgh

  1. Alta, ek begryp presies daardie moegheid, en die konflikte van wil nog en kan nog, en dan die genade van lê. Ek het heeltyd gesê, ons kan op die aerie weer rus…

    1. Probleem is dat ek so sukkel om op die aerie te rus. Maar hierdie keer het ek dit gewaag om ‘n ekstra pilletjie te drink en die resultaat was bemoedigend!

  2. Geniet die laaste paar dae in Edinburgh. Kan dink hoe moeg is jul al.
    Inverness is ‘n aardige plek. Ons het die paadjie langs die rivier ontdek – supermooi, glashelder water tot die bodem, en so by die Pringle woollen mills uitgekom. Maar het in einste dorp ‘n yslike verkeersboete gekry 😦

    1. Ek moet se, ek het nuwe asem gekry, net omdat ek ons goedjies kon uitpak en ons nerens heen hoef te ry nie.
      Ons het darem gesien dis mooi langs Inverness se rivier, maar genade vir meer was daar nie. Pappie het juis die motor opgepas!

  3. Alta, jy is voorwaar `n skrywer van formaat. Sommer so, blykbaar sonder inspanning skryf jy jou ‘dagboek’inskrywings en jy vang die gees wat julle omring en die ervarings en dinge van julle toer so goed vas dat ek hier in my slippers sit en `n onverwagse, onverklaarbare traantjie wegpink.
    Nee, ek weet self nie hoekom nie, net so min soos jy.
    Sommer omdat trane daar is wanneer groot dinge met `n mens gebeur.
    Hoewel ek nie oor HONNE by die huis trane wegpink nie.
    Maar wel oor HUIS en kinders wat op vliegtuie spring.
    Ek soek meer foto’s. Waar jy/julle langs die skapie staan.
    En veral, o veral van jou en onse Nadia met julle Suid-Afrikaanse vlaggies op vreemde bodem.
    Julle is ware pioniers en patriotte.
    En ja, man, ek sou darem graag wou sien hoe lyk daardie monster . . .
    Om daarop te konsentreer om stil te bly, is konsentrasie in gekonsentreerde vorm.
    Veels geluk!
    Of jy mag bid vir die reën om op te hou?
    Onthou jy die gediggie?
    Veertig dae lank gereën Veertig nagte agtereen. Omie mag ek oom iets vra. Maar alte seker, seunie, ja. Was die boere toe tevrede?
    M.a.w. vind net eers uit of die boere tevrede is.

  4. Kristel, ek is so bly as jy voel ek vang iets van die gees vas, want dis vir my moeilik om te oordeel.
    ‘n Mens kan seker die punt-vir-punt bloggery met ‘n rowwe eerste draft van ‘n storie vergelyk – iets wat eintlik glad nie in die openbaar gesien moet word nie. Maar vir hierdie doel lyk dit of dit nogal werk. Het nou ook met Nadia s’n gesien dis lekker om dan weer op spesifieke punte te antwoord.
    Ek is vreeslik spyt as ek van my beter helfte af weggaan, gaan ek ook van die laptop af weg en gaan dus waarskynlik nie onmiddellik en vars na die shows kan blog nie. Sal maar op fb van die foon af moet staatmaak – en dit werk glad nie oral so lekker nie.
    Terloops, ons het nog nie ons kaartjies nie, Kristel – net om te verseker jou nagrus is nie te gerus nie! 🙂 Ons kry dit by die venue eers (ons het darem die bewyse!)
    Of die boere tevrede is? Vir hierdie EEN keer in my lewe kan ek seker maar vere voel vir die boere?!

  5. Verstaan ek reg? “Die kind” gaan weg en jy gaan van “die man” af weg?
    Sonder kind of kraai? Om skouers te skuur met jou held van baie jare?
    Met stoute Nadia aan jou sy? Hou asseblief matigheid en kuisheid voor oë!
    Maar nie te veel nie . . .

    1. Jy verstaan reg, Kristel! Ek en stoute Nadia ontmoet mekaar vanoggend voor die National Gallery. Sy sal ‘n rooi angelier in haar knoopsgat dra … 🙂

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s