Junie 2012: Blarney tot iewers naby Cliffs of Moher

  1. Agt en veertig uur sonder internet is swaar op die gestel van ‘n verslaafde.
  2. Die weersiens is soet en salig.
  3. Die koevertjies met suurlemoengoedjies vir koors werk sommer lekker vir aandtee ook, by gebrek aan regtige tee.
  4. Een man met ‘n kamera is nog hanteerbaar, maar TWEE van hulle – dit vat aan ‘n vrou.
  5. Ek-tyd en slaap is eintlik al wat nodig is vir ‘n vinnige herstel.
  6. Ek dink net die faeries kan in hierdie land 100 ry oral waar daar 100 staan. 
  7. My liewe man is kinderlik bly oor ELKE skaap wat hy sien. 🙂
  8. Emus en wallabies pas regtig nie in hierdie landskap nie.
  9. Groen was nog nooit so groen nie. Ierland se groen is nie overrated nie.
  10. As ‘n mens GEEN sonskyn verwag nie, is elke straaltjie louter vreugde.
  11. Vir iemand wat eintlik glad nie van ontbyt hou nie, pas ek besonder goed aan met die full Irish breakfast. ‘n Bietjie deursettingsvermoe is eintlik al wat nodig is.
  12. Dit betaam ‘n mens om te onthou jy is self ‘n toeris as die ander jou irriteer.
  13. Dit sal heerlik wees om weer meer as een nag in dieselfde bed te slaap.
  14. Ek verlang na die Boss soos na familie. Ons het te min kuiertyd. 🙂
  15. Maar ons gaan later inhaal. 
  16. ‘n Kind wat kans sien vir ‘n vakansie saam met sy ouers is ‘n kosbare, kosbare ding. 
  17. Een wat soveel moeite doen om nice te wees is meer werd as korale.
  18. ‘n Gelykmatige en vergewensgesinde man is dalk meer werd as kosbaarder goed as korale.
  19. Die punt van die Dingle Skiereiland is een van die mooiste plekke wat ek nog ooit gesien het.
  20. Ons het in ses dae meer mense met wolfhonde hier gesien as in amper soveel jare in SA. En dit lyk of almal mooi opgevoed is.
  21. Die manne is nie gebore in staat om huis toe te kom en op te hou foto’s neem voor dit donker is nie.
  22. Ek weet glad nie hoe gaan dit met onse prez of enige van sy liggaamsdele nie – en dis heerlik!

8 gedagtes oor “Junie 2012: Blarney tot iewers naby Cliffs of Moher

  1. Nou wonder ek oor die “my liewe man is kinderlik bly oor elke SKAAP wat hy sien.” soveel pret gehad met die lees van hierdie blog …. stem volmondig saam met Kristel Loots.

    1. Dirkie, ek en my man het albei op skaapplase in die Karoo grootgeword en daarby werk hy al meer as 30 jaar as navorser in die landbou en is skape (veral gedrag en teling) sy hoofstudiegebied. Ons het dus regtig die skaap lief, hoe weird dit ookal mag klink!

Lewer kommentaar op Alta Cloete Kanselleer antwoord