Die kamer langsaan – Annemari Coetser

Die kamer langsaan is ‘n besondere roman wat ligvoets tussen erns en luim, tussen die tragiese en die romantiese beweeg. Dit sorg vir afwisseling en balans in die leser se ervaring. In die hoofkarakter is dieselfde tweeledigheid te bespeur. Sy wissel tussen speelse sensualiteit en diep hartseer, met ‘n gesonde skoot woede en opstand tussenin. Sy is ‘n karakter waarmee ‘n mens kan identifiseer, iemand wat jy graag sou wou ken.

Die verhaal binne ‘n verhaal herinner ‘n mens aan Eleanor Baker se Verbeelde werklikheid, een van my groot gunstelinge. Die hoofkarakter beleef haar eie verhaal terwyl sy dié van ‘n ander karakter opteken. En uiteindelik word verbeelding en werklikheid so inmekaar gevleg dat die leser nie meer heeltemal seker is waar die een ophou of die ander begin nie.

Die indeling van die hoofstukke toon duidelik wanneer ‘n mens met watter verhaal te doen het. (Dit maak dit ook vir aweregse lesers soos ekself moontlik om vroeg-vroeg te besluit van watter storie hulle die meeste hou en dan daardie een eerste te lees. Dis ‘n teken van die krag van die roman dat ek wel teruggegaan en die ander verhaal ook geniet het.)

Vir my was die verhaal binne die verhaal die aangrypendste, waarskynlik omdat ek self die vernietigende krag van depressie ken en weet watter verwoesting dit kan aanrig. Theresa se stryd is myns insiens realisties en geloofwaardig uitgebeeld. Natuurlik sou ek liewer wou hê sy moet hulp aanvaar en weer die lewe leer geniet, maar ongelukkig is dit in die harde werklikheid alte dikwels nie die geval nie. Die onmag en onkunde van die mense rondom Theresa word ook treffend uitgebeeld. Sommiges verstaan eenvoudig nie, ander wil graag help, maar weet nie regtig hoe nie.

Die gelukkige einde van Chris en Donné se verhaal vorm ‘n welkome teenpool vir die tragiese afloop van dié van Theresa. Donnie se humor en inherente lewenslus sorg ook dat die verhaal nie neerdrukkend word nie.

Die kamer langsaan is ‘n heerlike boek wat ‘n mens lank bybly.

2 gedagtes oor “Die kamer langsaan – Annemari Coetser

  1. Baie dankie Alta. Terwyl ek besig was om my verskoning neer te pen waarom ek my blog nie meer gereeld kan opdateer nie, plaas jy hierdie wonderlike resensie! Baie dankie vir jou gawe kommentaar. Ek is bly dat jy die depressie-gedeelte realisties vind. Daar is ook mense in my lewe wat daaraan ly. Mag ek maar op facebook ‘n skakel na hierdie inskrywing op jou blog maak?

    Dis nou te sê as ek kan uitvind hoe dit gedoen word. 🙂

  2. Haha! Serves you right! 🙂 Ja, ek kon sien jy het op een of ander manier ondervinding van depressie opgedoen. Al gee die internet alle denkbare inligting, kan dit steeds (in my oë) nie eerstehandse ondervinding vervang nie. Dit gee diepte aan skryfwerk.
    Natuurlik kan jy met liefde die skakel opsit. Jy copy dit net en paste in die gewone venstertjie vir ‘n status. Dan wag jy ‘n bietjie tot hy gelaai het (daar hardloop sulke strepies regs bo) en kliek dan Share. Sit hom sommer op Lekkerlees ook! Ek gaan nog later by Kom ons lees weer … ook opsit.

Lewer kommentaar