Om uit die kas te klim …

Nee, hierdie post gaan nie oor gay kwessies nie.

Dit gaan wel oor persoonlike groei.

Dit gaan ook oor die vraag: Wanneer is genoeg genoeg – en wanneer word dit te veel?

Kom ek verduidelik:

Vir donkiejare was ek iemand wat my persoonlike dinge persoonlik gehou het. TOE. Bottoe, dig toe.

Veral die moeilike dinge, die hartseer dinge.

Ek kan dus nie onthou dat ek ooit met iemand oor my verlange na ‘n pa (vir dié wat nie weet nie, hy is oorlede toe ek ses was) gesels het nie. Beslis ook nie oor my begeerte na ‘n oper verhouding met my liewe ou moeder nie. (Vir dié wat nie weet nie –  sy was ‘n wonderlike mens en ek sal haar vir ewig liefhê, maar die verhouding het sy beperkinge gehad. En was ingewikkeld, soos verhoudings tussen ma en dogter maar neig om te wees.) Nog minder oor my heartbreak toe ek op 21 met my jeugliefde uitgemaak het omdat my verstand vir my gesê het ek moet. (My verstand was reg, terloops!)  Niemand het ook die volle omvang van my hartseer en verwildering geken toe ons ‘n swangerskap verloor het nie. En so kan ek voortgaan.

Die belangrikste ding wat ek nooit gedeel het nie, was my stryd met depressie. En dis die grootste fout wat ek gemaak het. Vir ‘n goeie tien jaar het ek toegehou, voorgegee en vasgebyt. Toe beland ek in die hospitaal en die hoof kondig in die personeelkamer aan: “Juffrou Alta is opgeneem met depressie.” Ek was so skaam dat ek geen kollega in die hospitaal wou sien nie. (En die enkeles wat ten spyte daarvan steeds kom inloer het, sal ek vir altyd en altyd waardeer!)

Die wêreld het nie vergaan omdat my swakplek nou bekend was nie. Inteendeel. Dit het lank gevat, maar gaandeweg het ek besef dit was die beste ding wat kon gebeur het.

Mense kon nou bekostig om hul eie teer puntjies voor my bloot te stel, hul eie maskers so ‘n bietjie te lig.

En toe stoot ek my voet in skrywerswaters in. En leer ken ‘n nuwe weerloosheid.  Die magteloosheid en hartseer as jou hartskind afgekeur word, is nie ‘n grap nie. Die gedagtes van selfkastyding en minderwaardigheid wat daaruit kan spruit, voor waar ook nie.

Aanvanklik werk ek via my man se laptop en sy internetverbinding op kantoor. Dit beteken dat ek my korrespondensie met tydskrifte se verhaleredakteurs via hom moes doen en dat hy dit alles kon lees. So ook die stories self.

Krisis! In die dae toe alles per slakkepos gegaan het, het ek nooit vooraf vir ‘n enkele siel my skryfsels gewys nie. Maar ek het nie ‘n keuse nie en ek druk deur.

En weer eens vergaan die wêreld nie.

Van toe af het ek ‘n lang pad geloop.  En ek was geseënd om soveel mense in my lewe te kry (party het ek natuurlik al die pad gehad, maar net nie as sulks herken nie) met wie ek ook die minder goeie dinge kan deel.  My lewe het as gevolg daarvan soveel ryker geword. En minder veeleisend ook – dit kos energie om ‘n masker in posisie te hou!

Nee, ek glo steeds nie daaraan om ‘n mens se vuil wasgoed in die openbaar te was nie. Maar ek het geen probleem om te sê ek ken depressie en dat ek steeds daarteen veg nie. Ek het ook nie meer ‘n probleem om (vir mense wat sal verstaan, natuurlik) te sê as ‘n storie verkeerd loop of afgekeur is nie. (Hierin het my Skrywersblog vriendinne natuurlik ‘n groot rol gespeel.) Want ja, gedeelde laste is werklik ligter laste.

Hierdie veranderinge het ook meegebring dat ek makliker hulp kan vra. Ek is nie meer so geneig om in stilte te sukkel en te ly nie. ‘n Uitvloeisel hiervan is die groep Leer ken vir Emily! op facebook, waarin ek spesiale mense vra om my oor ‘n karakter te help dink.

Die lekkerte is elke keer om te ontdek hoeveel mense daar is wat graag wil help.

Want ja, die bose ou wêreld is steeds vol goeie mense.

Alles goed en wel, maar ek wonder tog – waar trek ‘n mens die streep? Is daar vir jou sekere dinge wat altyd privaat sal bly?

8 gedagtes oor “Om uit die kas te klim …

  1. Ek is ook geneig om gordyntjie dig te hou teen ander se inloer. Ek dink baie hiervan is die manier hoe ons grootgemaak is, my ouers het geglo vriendelik wees met mense beteken nie dat die mense al jou binnekamer gedagtes/belewenis/pyn /ellende – of wat ookal hoef te weet nie.
    Dankie vir jou blog.

    1. Ek dink dit by die oumense (en ook vandag nog by baie mense) nog verder gegaan as gewone (gesonde) privaatheid – baie dinge is NOOIT bespreek nie, ook nie in die vertroude binnekring nie. Dis gewoon doodgeswyg. Wat natuurlik nie werk nie.

  2. Alta, ek neig nou weer na die ander kant – te “oop”. Ja, ek kry seer, kritiek, maar ook soveel liefde om dit die moeite werd te maak.
    Waar trek jy die streep? Net jy kan besluit. Mens steek mos maar jou voelers so liggies uit, en as jy sien dit werk, nog ‘n bietjie meer. Werk dit nie, wel, dan is dit ook nie die einde van die wêreld nie.

    1. Ek dink dis goed om oop te wees, maar dalk nie teenoor ALMAL ewe oop nie. ‘n Mens het tog ‘n idee wie op jou seerkry gaan trap en wie nie. Hoewel ‘n mens soms verras is hieroor – na beide kante toe.

  3. Goeie middag baie dankie, vir jou en jou skryfwerk. So het jy my gehelp heelword. Sterkte lovies

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s