RSS

Moet ek bly of moet ek gly?

22 Apr

Nee, ek oorweeg nie emigrasie nie!

Sedert die romanses Waar sy hoort (Australië) en Liedjie vir jou (Noorweë) het die tema egter ongemerk in my werk ingesluip – en vasgesteek. In Geur van vergifnis keer Mariaan se swerwerbroer terug om te bly en in Seisoen van genade (Mei 2012) ontmoet hy vir Karla, wat as tiener saam met haar ouers Australië toe is en nou alleen teruggekom het. In die pas voltooide (en nog nie goedgekeurde!) Seisoen van vergifnis is dit Wim en Ben wat in Noorweë bly en hulle ouers wat hoop en glo hulle sal wel weer terugkom.

Dié tema in my werk is seker onvermydelik in die lig van ‘n kind in Noorweë en ‘n man wat sterk werksbande met Australië het. En natuurlik in die lig van die derduisende Suid-Afrikaners wat al die land verlaat het en steeds aanhou gaan. Dis eenvoudig die werklikheid waarin ons leef. Die wêreld het klein geword, grense het vervaag en al hoe meer bejaarde ouers bly alleen hier agter … Of maak die skrikwekkende sprong om agter die kinders aan te trek. En dié wat bly, moet saamleef met feit dat daar kleinkinders grootword met wie hulle beperkte kontak het (dankie tog vir Skype!).

En ons wat agterbly (probeer) glo maar steeds baie van hulle sal weer terugkom en gryp gretig na elke nuusbrokkie oor hele gesinne wat weer sak en pak terug trek. Maar laat ons maar eerlik wees – hulle is die minderheid. Ons weet ook dat jongmense wat na ‘n paar jaar in die buiteland terugkeer, dit nie altyd so maklik vind om hier werk te kry en permanent aan te pas nie.

Ons weet darem ook dat die verskuiwing baie gedoen het om ons gees ruimer en ons ervaringsveld oneindig groter en ryker te maak. Talle ouer mense reis nou na allerhande vreemde plekke om by die kinders te gaan kuier, waar hulle andersins nooit sou gekom het nie.  (Dis vir my interessant dat dit dikwels die ma’s is wat alleen die vreemde aanpak … Ek kon nog nie besluit of die ma’s dapperder is of net meer na die kinders verlang nie.) Baie jongmense wat wel terugkeer, het ook waardevolle vaardighede aangeleer en kontakte opgebou wat goud werd is in die sakewêreld.

Karla (Seisoen van genade – Mei 2012) se storie raak aan die feit dat diegene wat emigreer (veral na ‘n traumatiese gebeurtenis) ongelukkig meestal hul probleme saamneem en nie daarvan kan ontsnap nie. Ons kan die SA werklikheid (veral die misdaad en gevaarlike paaie) agterlaat, maar die emosionele bagasie is nie so maklik om hier te los nie. Daarby pas al die lede van ‘n gesin natuurlik nie noodwendig ewe maklik oorkant aan nie en kan dit sekerlik tot groot onenigheid en selfs die verbrokkeling van gesinne lei.  Karla kom dus alleen terug en probeer hier entoesiasties om ‘n bedrae te lewer en ‘n verskil te maak. Maar sy word ontnugter deur haar werksomstandighede en besef gaandeweg sy het waarskynlik die situasie geïdealiseer terwyl sy weg was. Natuurlik voel sy sy misluk – en natuurlik is sy te trots om dit aan haar ouers te erken …

Ek vind in myself die groot behoefte om al die karakters wat ek laat weggaan, weer veilig en gelukkig te laat terugkeer en in SA te laat nesskop met ‘n geliefde aan die sy. Wat sekerlik ‘n weerspieëling is van die hoop dat my eie kind(ers) mettertyd dieselfde sal doen. Die harde werklikheid is egter dat ek nie weet wat gaan gebeur nie en die laaste mens op aarde wil wees om op enige manier in die pad van hul drome te staan. Is my stories dus ‘n manier om my eie vrese te besweer? Heel waarskynlik, ja.

Wim en Ben (Vivien van Geur van vervulling se kinders) se toekoms is dus nog glad nie bepaal nie. Die tyd sal maar moet leer. Nes vir my persoonlik.

 

Etikette: , , , , , , , , , , ,

4 responses to “Moet ek bly of moet ek gly?

  1. Annemari Coetser

    29/04/2012 at 09:22

    Ek verstaan waarom jy die ver kinders in jou boeke wil laat terugkom. Dit hou vir seker verband met jou verlange. So baie van ons is in dieselfde bootjie, maar dis waar wat jy skryf van die oumense wie se horisonne verruim word. Ek ken ook baie ou tantes wat rekenaarvaardig geword het, ten minste om te kan e-pos stuur, wat dit nooit andersins sou gedoen het nie.

     
    • Alta Cloete

      01/05/2012 at 14:06

      Dankie vir jou gereelde inloer, Annemari!

       
  2. freddieburger

    29/04/2012 at 16:01

    Ek het op 61 na Alaska verhuis en dit is asof ek die werklikheid ingetrek het. Verhuis verruim en voed die verbeelding.

     
    • Alta Cloete

      01/05/2012 at 14:07

      Jinne, Freddie, ek sou darem graag meer wou hoor oor daardie verhuising!

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: