RSS

Ontmoet vir Karla …

18 Apr

Karla du Preez is ‘n bondel komplekse. Op die oog af lyk sy nie juis na ‘n geskikte hoofkarakter vir ‘n inspirerende liefdesroman nie.

Sy is pragtig, maar besef dit nie regtig nie (wat dalk ‘n goeie ding is – wie wil nou met ‘n windgat hoofkarakter opgeskeep sit?).

Sy is nie gewoond om haar emosies te wys nie, want in haar grootwordhuis word dit nie gedoen nie. Daar hou jy jou mond en doen jou werk. En oor die verlede karring jy glad nie. Maar nou sukkel sy om werklik met mense kontak te maak en voel sy dikwels afgesny en eensaam.

Vir werk is sy beslis nie bang nie. Maar gaandeweg besef sy dan moet dit die regte werk wees. Want as jy op die verkeerde plek jou kragte inspan, help dit jou op die lange duur ook nie veel nie.

Sy wil bitter graag ‘n verskil maak. Dis tog een van die redes waarom sy uit Australië teruggekom het. Soos sovele expats moes sy en haar ouers ook agterkom jy laat ongelukkig nie al jou probleme hier agter as jy emigreer nie. Nee, dié wat binne-in jou lê, neem jy teen wil en dank met jou saam. Maar nou is sy terug – en dit voel nie of die land haar verwelkom nie. Haar baas is ontoeganklik, selfs anagonisties, die kultuur en die taal vir haar vreemd. Haar kollegas vorm hul eie kliek, sy word nie ingesluit nie. Haar sterk werksetiek is nie altyd heeltemal in pas met hoe dinge in die Nuwe SA se staatsdiens gedoen word nie, haar terughoudendheid word as koudheid gesien.

En sy is bang. Sy is skrikkerig om te gaan draf, want die middedorp is nie meer veilig nie. Sy is eensaam in haar woonstel in die effens bedenklike blok, want sy het nie die vrymoedigheid om sommer enigeen oor te nooi nie.

Sy verlang na haar ouers – maar sy wil nooit weer saam met hulle en soos hulle lewe nie. Sy verlang na Ian, maar sy kon ook nie langer in die verhouding bly nie. En oor die ware rede daarvoor wil sy nie eens waag om te dink nie.

Gelukkig het sy deur Emily, wat in Australië by haar skaduwerk gedoen het, vir Marius en Mariaan (Geur van vergifnis) ontmoet. Nou ry sy Sondae oor die berg en gaan kook die Sondagmaal vir hulle en verwarm haar vir ‘n rukkie in die samesyn van ‘n gelukkige gesin waar liefde openlik bewys word. Van haar veilige posisie agter die stoof geniet sy op ‘n afstand die geselskap sonder om té betrokke te word.

Sondae is die een dag in die week waarna sy uitsien. Maar deesdae weet sy ook nie meer of sy uitsien nie. Want Chris is feitlik elke Sondag ook daar. En as hy nie daar is nie, is die dag vaal en die teruggaan na haar eie lewe nog moeiliker.

Dis nie dat sy nie van Mariaan se broer hou nie. Hy is ‘n baie aangename en aantreklike man. Maar hy is net ‘n bietjie te … wel, te … te mooi, te veel slim sêgoed, te veel selfvertroue, te veel blonde krulle, te veel uitsprake oor haar lewe.

Is daar hoop vir Karla? Ja, daar is hoop – en nie net in die vorm van die bekkige Chris nie. Want Karla beskik oor veel meer innerlike krag as wat sy self besef. Dis kos natuurlik ‘n krisis om haar daarvan bewus te maak.

En gelukkig was ek daar om vir Chris op die regte oomblik in die prentjie te bring …🙂

Seisoen van genade verskyn in Mei by LAPA en sal by die bekende boekwinkels en op die internet beskikbaar wees. Dit is die eerste boek in wat hopelik ‘n reeks van vier sal word. In die Seisoen-reeks word gefokus op die jonger karakters wat in die Geur-boeke voorgekom het.

Karla du Preez is ook op facebook te vinde. Sy sal jou graag as vriend aanvaar. Mits jou bedoelings eerbaar is, natuurlik. Karla is nie ‘n meisie wat haar met twyfelagtige karakters ophou nie.

Dat Chris Steyn reken sy is ‘n pyn in die … nek van pure ordentlikheid, is glad nie ter sake nie …

 

 

 

Etikette: , , , , , , , , , , ,

9 responses to “Ontmoet vir Karla …

  1. Annemari Coetser

    19/04/2012 at 11:55

    Dit klink na ‘n oulike meisiekind – hierdie skepsel van jou!

     
    • Alta Cloete

      19/04/2012 at 13:12

      Annemari, sy was aanvanklik bietjie van ‘n drup (of is dit ‘n drip??), maar sy het op die ou end baie innerlike krag getoon en ek het baie erg geraak oor haar.

       
      • Annemari Coetser

        19/04/2012 at 13:35

        ‘n Mens raak mos so lief vir jou karakters. Partykeer sukkel ek nogal om nie my karakters basies dieselfde persoonlikheid te gee nie, al verander ek hulle voorkoms. Wat doen jy om dit te verhoed?

         
  2. Alta Cloete

    19/04/2012 at 13:40

    Nou waar is die Reply knoppie dan nou …🙂
    Ja, dis ‘n vraag … En ek is nie seker van die antwoord nie! Ek dink wel lank oor my karakter voor ek begin skryf, sodat ek haar alreeds redelik goed ken. Ek moet veral haar swakplekke ken, want hulle moet deur die storie se verloop (hopelik!) beter word. Maar deur die verloop van die storie leer ek haar ook beter ken – soms verras hulle ‘n mens mos.

     
  3. Maritza

    19/04/2012 at 14:22

    Alta ek kan dood eenvoudig nie meer wag om Karla (en Chris) te ontmoet nie!

     
    • Alta Cloete

      19/04/2012 at 14:50

      Ek is bly om dit te hoor! En ek moet erken ek is self heeltemal versot op Chris – tot so ‘n mate dat hy aanvanklik geneig het om vir Karla te oorskadu in die storie.

       
  4. Martjie Roos

    09/05/2012 at 14:45

    Waar kan ek die boek kry? wil dit graag vir ‘n vriendin vir haar verjaarsdag koop!

     
    • Alta Cloete

      09/05/2012 at 15:11

      Martjie, dit behoort BAIE binnekort by plekke soos CNA en Bargain Books te wees, as dit nog nie is nie. Asook direk van Lapa of van die gewone internetwinkels af. Dankie vir die ondersteuning!

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: