RSS

Kruitvat – Henning J. van Vuuren

15 Apr

Kruitvat  neem die leser op ‘n warrelwindtog deur die potensiële kruitvat van die Suid-Afrikaanse  landelike samelewing. Die moord op ‘n bejaarde boer is die beginpunt van ‘n reeks gebeure wat dikwels ongemaklik baie aan die werklikheid herinner.

Die enigmatiese en skatryk Bolander Adriaan Ferreira word koerantbaas op Phalaborwa, ten spyte van die feit dat hy klaarblyklik geen joernalistieke ervaring het nie. In sy soeke na nuus, maar soms ook deur blote dwaasheid, beland hy midde-in ‘n warboel van gebeure en bedreigings. Slapeloos en dikwels drank- en/of pilbeneweld word Adriaan saam met ‘n magdom van karakters van krisis na krisis meegevoer; soms dapper, soms minder dapper. Daar is die moord op sy bejaarde vriend, daar is ‘n swart dogtertjie wat na ‘n tref-en-trap sterf, daar is die drie Vosloo-broers, daar is George Sullivan, die plaaslike polisiehoof en Adriaan se drafmaat. Tussenin veg Adriaan teen sy persoonlike duiwels, spoke uit die verlede en sy aangetrokkenheid tot die beeldskone verloofde van ‘n baie gevaarlike man. Daar is ‘n gesinsmoord en renosterstropery,  daar is die voortslepende geloof in Siener van Rensburg  en daar is gefrustreerde boere met verregse neigings. ‘n Ware hutspot van gebeure, frustrasies en wrokke.

Monica Odendaal is Adriaan se regterhand by Bosveldnuus, saam met Onassis, die flink helper uit Mosambiek. Monica is ‘n ware nuushond en ken as langtermyn inwoner van die dorp ook natuurlik al wat ‘n skinderstorie is. Sy is dus eintlik die persoon wat dinge aan die gang hou by die koerant. Sy het natuurlik ook ‘n ogie op Adriaan, wat vasberade is dat dinge soos trou en kinders kry nie vir hom is nie. Maar Adriaan ontmoet die gevaarlike man se beeldskone verloofde. En Monica ontmoet Adriaan se vriend uit sy verlede in die Boland, die skilder met die lelike geel Kombi.

En Onassis? Wel, Onassis is nie wat jy dink hy is nie. (Die toneel waar ‘n mens op sy geheim ingelaat word, is een van die klein juwele in die boek.)

Die grootste waarde van Kruitvat lê myns insiens in die lewensgetroue uitbeelding van ‘n segment uit die Suid-Afrikaanse samelewing. Dis ooglopend dat die skrywer die omgewing en die dinamika baie goed moet ken. Sommige van die karakters word lewensgetrou as meerdimensioneel uitgebeeld, waarvan Louis van Zyl en George Sullivan die beste voorbeelde is. Die drie Vosloo-broers word egter as bloot sleg uitgebeeld en ‘n bietjie insig in hulle agtergrond en motivering kon die verhaal sterker gemaak het.

Die taal is nie vir sissies bedoel nie. Maar die storie ook nie. Hierdie is ‘n storie vir die manne, deur die manne. Die vroulike karakters word dan ook nie veel meer as ondersteunende karakters en seksobjekte in die verhaal nie.

Die kru taal is egter meestal heeltemal funksioneel en heel dikwels skreeusnaaks. Die man-tot-man humor en gevatte gesprekke vorm oor die algemeen ‘n goeie teenpool vir die geweld en bloedvergieting.

Kruitvat is as e-boek beskikbaar by e-Boeke vir Afrika en is deel van die opwindende ontwikkelings op die gebied van e-publikasie wat op die oomblik op Afrikaanse front aan die gang is. Dit kan direk van Amazon.com bestel word.

Advertisements
 
4 Kommentaar

Posted by op 15/04/2012 in Boeke, Lees, Skrywers, Suid-Afrika

 

Sleutelwoordw: , , , , , , , , , , ,

4 responses to “Kruitvat – Henning J. van Vuuren

  1. eBooks for Africa (@EFA_eBooks)

    15/04/2012 at 18:12

    Die direkte skakel na die Kindle-boek op Amazon is http://www.amazon.com/dp/B007K7LE0Q

     
  2. Nadia de Kock

    15/04/2012 at 20:48

    Goeie resensie, Alta. Een van die dae kan jy vir geld resensies vir boekeblaaie gaan skryf 🙂 Knap.

     
    • Alta Cloete

      16/04/2012 at 14:35

      🙂 Ek sal gratis skryf vir daai gratis boeke!

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: