Die agterbladteks sê die volgende oor die hoofkarakter van hierdie boek: ‘n Lewensvreemdeling, sou mens hom kon noem. Sy pad was nie onbesproke nie, nog minder met vreugde besaai. Tog het hy die goeie wil in hom omgedra. Myns insiens vat die aanhaling die aard en tragiek van Cornelis Houman se lewe sekuur vas.
Fado vir ‘n vreemdeling is ‘n historiese roman deur ‘n gerespekteerde skrywer wat deur die jare bekendheid verwerf het met haar besondere romans, kortverhale en jeugverhale. Die blote feit dat ‘n skrywer op so ‘n hoë ouderdom nog so ‘n groot taak aanpak en voltooi, is alreeds genoeg rede tot bewondering. Maar die boek is meer as ‘n merkwaardige stuk werk deur ‘n bejaarde skrywer.
Die verhaal van Cornelis Houman speel af midde-in ‘n stukkie van die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog waarvan ek nog nooit eens gehoor het nie. Dis ‘n getuienis van die vernietigende uitwerking wat oorlog op die gewone mens het. Dis ‘n roerende verslag van die stryd teen armoede en verval – en dat almal nie heel anderkant uitkom nie. Dis ook ‘n verslag van die benouende situasie van die vrou in daardie jare, in die Suid-Afrikaanse sowel as die Portugese kultuur. Aan die een kant is daar Cornelis se ma wat haar man verloor en vir die res van haar lewe veg vir die behoud van haar gesin. Aan die ander kant is daar die patriargale vaderfiguur in Portugal wat ter wille van die behoud van die familie se sosiale status sy dogter aan die vreemde uitlewer.
Die verhaal word volledig geboekstaaf met datums en aanhalings uit dokumente. Hier is dus nie ruimte vir die verromantisering van die gegewe nie, maar slegs vir die harde werklikheid. Om hierdie rede is dit dan ook nie ‘n boek wat mens noodwendig net vir ontspanning sal lees nie. Vir die leser wat in die eerste plek op soek is na ‘n storie wat die aandag aangryp en behou, kan die historiese gegewens dan ook hinderlik word. Die aangrypende verhaal van die enkeling wat deur die geskiedenis beïnvloed word, word egter soos ‘n goue draad deur die feite geweef.
In die pragtigste Afrikaans word die atmosfeer van Afrika en van Portugal in die betrokke tydvak geskilder. Die verskeurdheid wat Cornelis beleef, die band wat hy met albei lande het, is dan ook relevant vir die hede, waar baie Suid-Afrikaners dieselfde ervaring net binne ‘n ander konteks het.
Die tema van die fado pas perfek by die boek in, asook die titel en die besondere mooi voorblad.
Fado vir ‘n vreemdeling is nie ‘n opgewekte boek nie. Maar dis ‘n boek wat ‘n mens nie gou sal vergeet nie. Indien ooit.
LW. Hierdie bespreking maak nie aanspraak daarop om ‘n professionele resensie te wees nie, maar is slegs bedoel as ‘n persoonlike mening met die doel om lees in Afrikaans te bevorder.
Klink na ‘n oulike boek. Dankie vir al die inligting. Ek geniet jou skryfsels baie.
Dis ‘n goeie, gebalanseerde resensie Alta. Knap.
Dankie, julle! En ja, dit is ‘n baie spesiale boek.