Lank, lank gelede, toe ons almal nog jonk en jikkerig (seker eintlik jeukerig, maar dit val nie so lekker op die oor nie) was, was goed nog goed en sleg was sleg. Daar was goeie ouens en daar was slegte ouens. Cowboys en crooks. Boere en Kakies. Voortrekkers en Zoeloes. Soldaat teenoor terroris. En ‘n paar nog minder polities korrekte moontlikhede wat ek liewer nie hier gaan noem nie.
Maar die wêreld het ingewikkelder geword. (Of ons het maar net oud genoeg geword om sy ingewikkeldheid te besef.) Ons het agtergekom die goeie ouens het ‘n bietjie (of heelwat) sleg in hulle, die slegte ouens het dikwels goeie harte. Die cowboys kon dalk maar netso skelm wees soos die crooks. Elke Kakie was ook maar ‘n ma se seun, Afrika toe gestuur om koloniale gierigheid te bevredig. Die Boere het helaas ook maar gruwelikhede in die oorlog gepleeg. Ons vermoed deesdae al hoe meer die Voortrekkers was ook maar nie altyd engeltjies nie. Vandag is daar stories van SA dienspligtiges wat jare later kollegas en selfs vriende geword het van die terroris op wie hy destyds moes skiet.
Maar die wêreld van die verbeelding het nog altyd die onderskeid vir ons mooi getrek. Die goeie ouens was die helde en het op die ou end gewen, die slegte ouens het in die tronk beland. Ook op hierdie terrein begin die grense egter verdof. House is alles behalwe ‘n goeie mens. Eintlik is hy’n dwelmverslaafde vark. Maar ons vrek oor hom, want hy is so diep menslik. Niel van White Collar is ‘n con man en dief wat eintlik in die tronk hoort. Maar ons kom weer en weer terug na nog ‘n episode. En nie net oor sy mooi gesiggie nie.
Selfs in romanses is die held en heldin nie meer beeldskoon en volmaak nie. Nee, hulle is gewone mense met foute (hoewel darem nie te veel nie!). Hy mag maar soms (effens) onseker wees, sy mag maar reken sy is te vet. En die nare tert wat hom wil afvry, het miskien ‘n tragiese verlede.
As tiener het ek prente van ons Springbokke teen my muur opgeplak en nie ‘n oomblik gedink een van hulle kan ‘n fout hê nie. Nog minder het ek getwyfel aan hul onwrikbare lojaliteit teenoor ons land. Vandag speel die manne vir geld en swaai hulle lojaliteit na willekeur na die plek wat die beste aanbod maak.
Ons pa’s en oupas het dikwels hulle lewe lank by een instansie gewerk. Lojaliteit teenoor jou werkgewer was ‘n gegewe. Vandag dink niemand iets daarvan om elke paar jaar (of selfs maande) aan te skuif na ‘n beter proposisie nie.
Vandag weet ons helde het gewoonlik voete van klei. Vir baie mense was die laaste illusie daarmee heen toe Charles en Diana se huwelik misluk het. Vir my het die finale slag gekom toe Hansie Cronjé van sy troontjie af getuimel het. Onse Steve wys ons met gereelde tussenposes nog ‘n aspek van sy menslikheid (en manlikheid) ten spyte van sy groot talent. (Ja, ek dink hy het ‘n groot talent.)
Die toenemende rol van die media dra natuurlik hiertoe by. Bekendes kan bitter moeilik hulle sondes geheim hou. Een of ander tyd kom dit op die lappe, al is dit ook jare na die tyd.
Selfs Dominee en Mevrou sit nie meer op ‘n baie stabiele troontjie nie. (Waarvoor die meeste pastoriepare waarskynlik diep dankbaar is.)
Nou hoe nou gemaak met rolmodelle? Waar kry ‘n mens inspirasie? Wie is dit nog werd om as ‘n rolmodel beskou te word?
Persoonlik dink ek ons het net meer realisties geword. Ons verwag nie meer van mense om volmaak te wees nie. Ons verwag (veral) nie meer van ‘n man wat mooi kan sing of goed kan rugby speel om ten alle tye aan sy vrou getrou te bly nie. Van ‘n groot filmster verwag ons al amper om ‘n omstrede en redelik sedelose lewe te voer. Dit het baie amper normaal geword.
Maar ja, ek reken daar is nog rolmodelle. Maar ons moet dalk maar net na die persoon se sterk punte kyk en nie na sy/haar hele persoonlikheid nie. Hom bewonder vir sy sangstem en charisma, haar vir haar skoonheid en intelligensie (nee, ek skimp nie op iemand nie).
As ons bereid is om die beste uit die geheel te haal en na te volg, is daar nog volop rolmodelle. Ons moet seker maar net die swakplekkies miskyk. Of hulle nog hoër ag omdat hulle baie vermag ten spyte van hulle gebreke.
Want ja, ons is maar almal so.
Stem jy saam? Ek wil graag weet!
So skuil elke en inkelte van ons, met een of ander iets agter ‘n gordyn….soms kant- soms swaar geweefdegordyn, toegetrek voor die alsiende openbare oog.
Baie waar!
Ek dink dat rolmodelle wissel van dag tot dag – en ‘n mens deesdae nie meer die persoon as sulks bewonder as ‘n rolmodel nie, maar eerder dit wat hy/sy vermag het. Een vir my is bv Christopher Paolini wat as ‘n tiener die eerste boek in die Inheritance quadrilogy klaar geskryf het, dit self gepubliseer het en van biblioteek tot biblioteek gegaan het om sy boek te bemark, voordat dit opgetel is deur ‘n groot drukkershuis! So iets kan ek bewonder. Mense is feilbaar, maar dade spreek boekdele! 😉
Lelani, ek dink jy som dit baie goed op. As ons so daarna kyk, verwag ons dan ook nie noodwendig van ‘n rolmodel om ‘n onbesproke (volmaakte) mens te wees nie. En is ons kans vir teleurstelling ook nie so groot nie.
As mens na vandag se kinders kyk het daar nie baie verander nie, dink ek… hulle sal hulle helde heftig ondersteun maar ek dink hulle beweeg makliker aan na die volgende held/ster. Mi9n van hierdie sterre /helde gaan klassiek word dink ek.
Maar jy is reg, lojaliteit is nie meer wat dit was nie – eish hoe oud klink ek nou.
Dalk bloot omdat die media vandag so fluks help om die kinders sommer vroeg-vroeg van hulle illusies te bevry/beroof?
Ek stem saam met Lelani. Ek dink ons bewonder mense vir dit wat hulle vermag het, of vir ‘n aspek (of twee) van wie hulle is.
Dink jy tieners van vandag het moderne rolmodelle nog nodig ?
Ja, ek dink beslis nog so! En dalk is die moderne rolmodelle nie so ontoereikend soos ons “oues”geneig is om te dink nie! Altans, ek hoop so!