Kry ek ‘n redelike skrik toe ek die eerste keer sien LAPA beskryf my as ‘n inspirerende skrywer … Inspirerend? Vir wie? En hoe? Nooit gesien nie.
Onmiddellik begin ek met ‘n kampanje om my van dié etiket te bevry. Want sien, ek hou nie van etikette nie. Selfs al is hulle pienk en plesierig. Ek reken nie ek pas in ‘n boksie nie. Eintlik pas netmooi niemand in ‘n boksie nie. Daarvoor is ons eens te ingewikkeld en vol draadwerk.
Ek het ‘n hele reeks besware:
- Dit klink vermetel – wie is ek nou om te reken ek kan iemand inspireer?
- Dit klink baie sedig – na iemand wat haar altyd perfek behoort te gedra. (Ja, lank gelede hét ek my perfek gedra. Of amper. Maar deesdae raak ek wild – ek lag hard, doen verspotte dinge en droom groot drome.)
- Dit klink baie godsdienstig. En ek skryf nie spesifiek christelike romans nie. (Ook nie on-christelike romans nie. Net romans oor baie gewone mense met baie sondes én baie goeie punte. Sommige is uitgesproke christene, ander nie.)
- Dit klink na iemand wat dink sy weet alles. Of ten minste baie. En ek is nou oud genoeg om te besef ek weet netmooi niks.
- Dit klink na iemand wat haar probleme altyd perfek hanteer. En dis nou ongelukkig nie ekke nie. Maar ek doen darem my uiterste bes.
Dus, ek besluit ek is vervlaks nie ‘n inspirerende skrywer nie en oral waar die vraag aan my gevra word, beduie ek entoesiasties hoekom ek so dink.
Niemand lyk verstom of verslae of enigsins geraak nie.
Onwillige gevolgtrekking: Mense gee nie eintlik om watse skrywer die persoon is wie se boek hulle lees nie. Hulle hou van die boek of nie. En dis al.
Maar mettertyd begin die terugvoer inkom:
Alta, ek kon jou in die boek hoor praat … Alta, dit kon netsowel ek gewees het … Alta, ek het heelnag gelees en vandag is ek moeg en dis jou skuld … Alta, ek het terstond vir my ‘n groot nougat (sien Geur van vervulling) gaan koop en hom alleen opgeëet … Alta, ek wou vir jou ‘n nougat kom neersit, toe is jy nie tuis nie. Toe eet ek hom op … Alta, jou karakters is eg menslik … Ek verwag om hulle hier in die Paarl se Checkers raak te loop …
En stadig maar seker daag dit op my: Ek inspireer wel af en toe iemand. Ek inspireer hulle om te LEES! En om te droom. (En om hul aan soetgoed te vergryp!)
En daarvoor is ek ongelooflik dankbaar.
Oor die ander moontlikhede sal ek anderdag dink …
Intussen sal ek dit vreeslik waardeer as jy my solank wil laat weet wat jy onder die term inspirerende skrywer verstaan. Sommer net hier onder in die blokkie vir comments. Ag toe, asseblief! 🙂
Alta, jy het die vermoë om jou karakters so helder te skryf, dit voel regtig of ek more een gaan raakloop. Dan skryf jy oor hedendaagse dinge wat werklik met mense gebeur. Dis hoekom ek so maklik met jou hoofkarakters kan identifiseer. Dis jou page turner. Baie dankie! Ek het gister Vervulling in die hande gekry en gaan ‘n spesiale tydjie maak om die boek van voor tot agter op een slag te lees! Hoop die seisoene vorder fluks! xx
Dankie hiervoor, Johanelle, want dis vir my belangrik dat die karakters realisties moet wees. En eg menslik. Maar ek word so betrokke by hulle dat dit vir my baie moeilik is om te weet hoe iemand anders hulle sal ervaar.
Ek hoop jy lees heerlik!
En ja, die eerste Seisoen-boek verskyn DV in Mei en ek hoop om hierdie week klaar te maak met Seisoen 2 se eerste draft – hou maar duimvas, asseblief!
Hi Alta, onthou jy my vraag by die boekebekendstelling…? Volgens my word “inspirational fiction” in die internasionale literatuur beskou as verhale met ‘n besliste geestelike (lees Christelike) ondertoon, bv. Karen Kingsbury, Francine Rivers, ens. Ek is nie seker of daar deur ‘n Lapa onderskeid bedoel word tussen inspirerende fiksie, en inspirerende skrywer nie? M.a.w. insprerende skrywer skryf inspirerende fiksie. Wat dink jy? Want dit sal darem ‘n baie besliste “kassie” wees waarin jy geplaas word?
Karin, ek onthou jou vraag baie goed! Ek het ook die idee gehad soos jy dit hier beskryf, m.a.w. inspirerend = christelik. En ek dink dis hoe dit by ons in Afrikaans oor die algemeen beskou word. Maar ek het die naweek ‘n bietjie op die internet gelees en in die Engelssprekende wêreld is daar nou ‘n neiging om meer onderskeidings onder die term “inspirerend” te maak. M.a.w. dit kan ook inspirerend in ‘n wyer sin wees. Dus oor die algemeen oor dinge wat mense kan help om hul lewe te verbeter of te geniet of hulle probleme in die oë te kyk. Ek vermoed ek sal dalk meer tuis voel in so ‘n wyer definisie – dus net ‘n groter kassie met meer beweegruimte! 🙂
Intussen is ek besig om te dink oor die hele kwessie van ‘n etiket … Vermoed ek sal mettertyd daarmee vrede maak, want dit kan ook lesers help om ‘n idee te vorm wat hulle kan verwag. En dit kan ‘n skrywer iets meer unieks gee as ‘n algemene beskrywing soos bv. skrywer van liefdesromans, want onder liefdesromans is daar baie moontlikhede en verskille. Algaande leer ‘n mens …
Baie dankie vir jou ondersteuning en jou deelname – waardeer dit!
Maar sal jy nou so nederig wees!
Ernstig nou, ‘n skrywer gooi seker maar met elke boek ‘n klip in die dam, en sal nooit-ooit weet waar daardie rimpels trek nie.
My ma was die nederigste mens wat ek ooit geken het – dink sy het ‘n baie goeie job met my gedoen … 🙂 Soms dink ek dalk té goed. Want waar lê die lyn tussen nederigheid en minderwaardigheid en ander toelaat om op jou te trap?
En ja, ‘n mens weet nie. En dis scary én wonderlik!
‘n Inspirerende skrywer is iemand wat ander lus maak vir lees en skryf… en ek is nou nie ‘n intellektuele reus nie, ek sien wel jy sal ander skrywers kan opkikker. Ek dink jy moet maar net liefies glimlag en vir die uitgewer dankie sê?
Dis omdat ek ook nie ‘n intellektuele reus is nie, dat jy my so ‘n wyse antwoord kan gee! 🙂 Ja, ek begin so stadigaan oefen aan daai glimlag. En wil ook met hulle ‘n gesprek hê hieroor – wat ek natuurlik in die eerste plek moes gedoen het!
Inspirerend? Ja tog! Inspirerend om nie jou kop in die gasoond te druk nie. Of handdoek in te gooi nie, kaal in die straat af te hardloop of jou beenhare te laat groei nie.
Want kyk om jou: ons IS maar almal só. Ons klomp wat, soos Alta se karakters, ons groceries by Checkers koop.
Soms koop jy ’n kat in die sak as jy dink jy gaan by ons kom leer.
Maar soms loop jy ’n bargain raak . . .
Soos gewoonlik is jou woorde in die kol, Kristel! Dalk is die grootste inspirasie om iemand bloot te help om nie boedel oor te gee nie. En ja, ek dink beenhare laat groei kom nogal na aan boedel oorgee … 🙂
Ons is beslis almal so. Vol foute en sondes. Met hier en daar ‘n stukkie goud. Selfs in die wat lyk of hul van klip gemaak is.
Ag wat jy inspireer darem jou man van tyd tot tyd …..
So `n bek moet heuning kry!