Jy bly my kind – Lidia Theron

Hoewel die boek al in 2005 verskyn het, het ek dit op een of ander manier destyds misgeloop. Maar hier is dit beslis ‘n geval van liewer laat as nooit.

Hoewel die samelewing se houding teenoor gay wees in die algemeen hopelik sedertdien aanhou verbeter het, is die belewenisse in die boek steeds geldig. En sal dit seker nog baie lank bly. Want al gun ons gay mense al die geluk onder die son, dink ek dis steeds ‘n ander storie as dit oor jou persoonlike pad kom en nie net op ‘n veilige afstand bly nie.

Dit geld seker maar vir elke kwessie onder die son (VIGS, selfmoord, depressie, bipolariteit, ens.) – maklik om te reken jy aanvaar die mense, maar veel moeiliker om te hanteer wanneer dit jou direk raak. Practice what you preach –  altyd ‘n moeilike opdrag.

Jy bly my kind is die verhaal van ‘n gewone vrou en ma wat moes ontdek haar dogter is gay. Die stryd, trane en uiteindelike groeiproses wat daarop volg, sal enige ma aan die hart gryp, of  jy nou ‘n soortgelyke ervaring gehad het of nie. Wat nice is van die boek, is dat dit nie ontaard in ‘n reeks verwyte of aanklagte teenoor die samelewing en die kerk nie. Dit kon so maklik gebeur het, want rede was daar klaarblyklik genoeg.

Die boek is vir my ‘n eerlike poging om bloot vrede te maak met die saak, nie om mense of instansies by te kom nie. Daar word egter eerlik omgegaan met die negatiewe (maar meestal goedbedoelde) reaksies uit verskillende oorde. ‘n Mens kry die gevoel die skrywer verstaan dat mense ook maar uit onkunde en vanuit hulle eie verwysingsraamwerk na so ‘n saak kyk en daarop reageer, en nie noodwendig uit blote liefdeloosheid nie.

Ek haal die skrywer aan: “Ek skryf hier uit my hart uit my eie verhaal van hoe ek so ver gekom het om my kind onvoorwaardelik te aanvaar. Omdat ek en my man die hartseer en eensaamheid ken wat só ‘n situasie meebring, is dit ons wens dat die lees van hierdie boek vir ander gesinne in soortgelyke omstandighede hoop sal gee.”

Ek dink die skrywer het in haar doel geslaag. Maar sy het ook ‘n wyer doel bereik: Om mense wat nog nooit met hierdie kwessie te doen gehad het nie, voor te berei vir die dag wanneer dit dalk kan gebeur. Om die wete dat gay mense ook maar net mense is, verder uit te dra. Om eerlik te wys hoeveel smart so ‘n ontdekking selfs in ons moderne tyd in doodgewone gesinne kan veroorsaak. Maar bowenal dat die liefde van ‘n ouer groot genoeg kan wees om enigiets te bowe te kom (as die wil daartoe natuurlik teenwoordig is). En dat ‘n eerlike poging tot aanvaarding waarskynlik die enigste manier is om in so ‘n situasie (of met enige ander moeilike saak) jou kind te behou.

Want ja, vir my lê die grootste tragedie in die oom wat êrens in die boek sê: “Ja, ons het ook ‘n kind só verloor …”

Op die ou end leer hierdie boek my dat ‘n ouer nie haar kind hoef te verloor as daardie kind ‘n vreemde of onverstaanbare pad kies nie. En dis vir my ‘n kosbare les, want ek het geen groter vrees as om ‘n kind aan die dood af te staan nie – of aan die lewe, wat op ‘n manier dalk erger kan wees.

3 gedagtes oor “Jy bly my kind – Lidia Theron

  1. Ai, ek hoop die boek helpmense. ‘n Mens wonder oor jou kinders, maar eintlik het jy as- ouer geen beheer oor hetero- of homoseksualisme nie en die kind ook nie. Die beste is net om vir mekaar lief te wees en te aanvaar, al is dit moeilik

  2. Baie dankie Alta, vir hierdie pragtige resensie. Ek waardeer dit opreg.

    Ook vir seegogga, sê ek dankie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s