RSS

Random gedagtes: Wat sou van Heinrich geword het?

07 Mar

Amper drie-en-twintig jaar gelede is my jongstetjie in ‘n tipiese provinsiale hospitaal van daardie dae gebore. Skoon en netjies (die hospitaal, nie noodwendig die baba nie!), spotgoedkoop teen vandag se hospitale, niks luuks nie, maar oorgenoeg van alles.
Wat daar ook oorgenoeg was, was moedersmelk. Tot my intense ongemak. En dis waar Heinrich ingekom het. Of liewer, waar suster L. ingekom het. Tot my stomme verbasing, want suster L. was van die óú soort suster – iets tussen ‘n moeder en ‘n sammajoor in die destydse army (weet nie of daar vandag nog sulke goed is nie).
Laat ek verduidelik: Heinrich was toe alreeds ‘n maand oud. Sy ma was ‘n bloedjong ou meisietjie, wat op daardie stadium blykbaar in die township by mense gebly het. Vermoedelik omdat omstandighede by haar eie huis ellendig was. Of omdat sy uitgeskop is. Sy pa het, in suster L. se woorde “sy gulp toegemaak en geloop.” Die kanse dat hy ooit teruggedraai het, is seker nie te goed nie. Ek weet nie hoe hulle dit reggekry het om hom so lank daar te hou nie, maar iemand met ‘n sagte hart moes seker êrens ‘n paar reëls gebuig het. Sommige dae het sy ma daar by hom kom sit. Dalk vir hom sy bottel gegee, ek weet nie. Wat in haar gedagtes omgegaan het, weet ek ook nie. Maar vandag kan ek wel deeglik raai …
Nog iemand met ‘n sagte hart buig (of breek) toe nog ‘n reël – en Heinrich beland aan my bors. En drink soos een wat lank in die woestyn was. Twee keer kom kuier hy só. Agter geslote deure, natuurlik. En op sy kaart word niks aangeteken nie. Die volgende skof se mense verwonder hulle vir die kind wat so lekker slaap. Min weet hulle dis omdat sy pensie dik is. En – wil ek graag glo – hy ‘n goeie dosis nabyheid van ‘n moederlyf gehad het. Vir hierdie moeder was dit natuurlik rampsoedig. Die hormone raak mal en ek bond met die kindjie. Dalk het iemand dit raakgesien, want hy het nie weer kom kuier nie. Toe ek die dag huis toe gaan, moet Pappie ‘n vrag klere vir Heinrich bring en ‘n stukkie van my hart bly in die hospitaal agter.
Deur die jare het ek vir lang tye van hom vergeet. Maar soms onthou ek. En dan wonder ek. Kon sy ma hom ooit self grootmaak? Het hy in ‘n kinderhuis beland? By pleegouers? By aanneemouers? Was hy ‘n gelukkige kind? ‘n Opstandige tiener? Deurmekaar met drank (watter tiener is deesdae nie?) of drugs? Het hy matriek gemaak? Het hy vaardighede? Kon hy gaan swot?
Nee, ek sal nooit weet nie. Ek kan maar net ‘n gebedjie opstuur, al is dit heelwat te laat. En dankie sê vir die ander seuntjie wie se naam ook met ‘n H. begin, die enetjie wat ek kon saambring uit die hospitaal.
Heinrich, hierdie ou tante hoop vanaand daar is iemand in die wêreld wat baie, baie lief is vir jou. Verkieslik sommer ‘n hele klomp iemande. En dat jy dit weet.
En nee, ek het nie ‘n benul hoekom ek juis vandag aan hom moet dink nie.

Advertisements
 
6 Kommentaar

Posted by op 07/03/2012 in Random gedagtes, Verhoudings

 

Sleutelwoordw: , , ,

6 responses to “Random gedagtes: Wat sou van Heinrich geword het?

  1. ameliastrydom

    08/03/2012 at 07:52

    Ag, Alta, watter pragtige storie! Ek was nou regtig nie voorbereid om met die wakkerwordslag iets so roerend in my inbox te kry nie. Ek is ‘n doula en ‘n laktasiekonsultant en is stel besonder baie belang in hormone rondom geboorte en borsvoeding en die effek daarvan. Wat jy skryf, maak soveel sin. Natuurlik sou die oksitosien en prolaktien (die ‘bonding’ en ‘mothering’ hormone), jou met Heinrich laat bind. Navorsing het byvoorbeeld bevind dat vel-tot-vel kontak tussen kwesbare ma’s en babas die ‘rate of abandonment’ met ‘n derde verminder. Wat jou hormone se effek op Heinrich betref, ek glo regtig dat daardie twee voedings ewigheidswaarde gehad het. Dit was heelwaarskynlik sy eerste fisiologiese ervaring van liefde. En ons weet dat die brein met geboorte ongelooflik sensitief en plasties is – klein dosisse hormone veroorsaak blywende verskille. Dis duidelik dat Heinrich se arme mamma self as baba nie geleer het hoe om liefde van abuse te onderskei nie, dis waarom sy liefde op die verkeerde plekke gaan soek het. Perinatale sielkundiges praat van die limbiese afdruk – in die eerste dae na geboorte is die brein ontwerp om ervarings te stoor en tot liefde gelyk te stel. Ons soek dan dwarsdeur ons lewens daardie tipe situasies – ons skep dis as’t ware – want dis wat ons glo liefde is. Dalk was daardie twee voedings genoeg om Heinrich ‘n heel ander ideaal van liefde te gee, ‘n meer gesonde een. En natuurlik noem die WGO die eerste borsmelk jou baba se eerste immunisasie, omdat dit so volgeprop met immuniteit is. SA het deesdae ‘n borsmelkbank, en een ma se oorskietmelk kan letterlik talle prematuur gebore lewetjies red.Ek glo uit my hart dat die engele jou eendag sal bedank vir wat jy vir Heinrich gedoen het, want dan eers sal jy weet wat die rimpeleffek van jou melk en jou liefde was. Wil jy nie seblief vir my ‘n e-pos stuur na ameliastrydom@gmail.co.za nie? Daar’s ‘n storie wat ek jou graag wil vertel, maar nie in so ‘n publieke forum nie.

     
  2. Alta Cloete

    08/03/2012 at 19:05

    Ai, mens, stort ek nou ‘n paar trane … Ek stuur vir jou my e-pos adres.

     
  3. Arien Lubbe

    08/03/2012 at 19:12

    Wat ‘n merkwaardige storie. En wat ‘n merkwaardige mens is jy nie, Alta. Hoeveel vrouens sal ‘n vreemde kindjie so naby hulle toelaat? Ek glo dat Heinrich wel ‘n tikkie van jou liefde sal onthou – en moontlik daarna sal soek. Hopelik het hy dit wel gevind by sy eie vrou en hopelik ‘n eie gesin.

     
    • Alta Cloete

      08/03/2012 at 19:23

      Jong, ek dink dis maar die hormone wat daar gepraat het! 🙂 Vir jou is dit natuurlik nou baie werklik – bly jy het hier gelees!

       
  4. Nadia de Kock

    09/03/2012 at 03:27

    Wat ‘n pragtige storie, Alta. Ek is eintlik sprakeloos, maar weet dat ek die storie nooit gaan vergeet nie.
    Nou wonder ek ook oor Heinrich … en natuurlik oor hoe ‘n wonderlik mens hierdie mens is wat ek my vriendin noem. Blessings. x

     
    • Alta Cloete

      09/03/2012 at 04:48

      Dankie, Nadia, maar van die wonderlik weet ek nou nie so lekker nie. Die comments verstom my nogal, ek het nog nooit gedink ek het iets besonders gedoen nie. Ek wonder of hormone nie die meeste vrouens sou laat instem het nie?

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: