Vanaf skrywersblog: Uittreksel uit Geur van vergifnis

Haar foon se wilde gelui op ‘n rumoerige rockdeuntjie ruk haar en die katte wreed uit die slaap. Die twee strek grasieus en draf dan optimisties gangaf om te gaan kyk of daar nie dalk intussen ‘n wonderwerk by hul kosbakke gebeur het nie. Sy klap die foon eers van die bedkassie af en druk hom toe summier dood. Met skrefiesoë korrel sy na die skermpie.  9:34,  sê die ding. En: Marius.

Met ‘n kragwoord wat Lana nagmerries sal gee, vlieg sy uit die bed. Dis so goed soos die wet van Mede en Perse – Saterdagoggende om negeuur vat sy vir Marius om sy kos vir die week te gaan koop. Sweerlik die enigste keer in die week wat hy uit die huis kom. Sy ry met haar eie motor, laai die rystoel in by die huis en uit by die winkelsentrum, help hom geduldig daarin, stoot hom waar hy wil wees, dra alles aan wat hy beduie, pak die goed uit by die betaalpunt … Hy verwerdig hom darem om sy kredietkaart self uit sy beursie te haal, dis omtrent al. En om alles te kritiseer wat sy doen. En wat sy nie doen nie.

Terwyl sy die foon sit en aangluur, begin hy weer lawaai in haar hand. Sy oorweeg dit ‘n oomblik om eenvoudig nie te antwoord nie. Maar sy was nog nooit ‘n lafaard nie. Definitief ook nie ‘n engel nie. En dis presies waar die fout gekom het – sy’t die afgelope jaar probeer om die engel in Marius se lewe te wees. En obviously het dit nie gewerk nie.

Van vandag af is sy weer die ou Mariaan Steyn. Die een wat instorm waar engeltjies te bang  is om hul fyn voetjies te waag. “Ja!” blaf sy in die foon.

“Waar de hel is jy? Jy weet ek wil klaar wees in die winkel voor die stormloop begin!” As die man hom tot haar soort taal wend, is die kalf diep in die put.

“Sorry, ek kom nie vandag nie.” Haar los hand soek en vind die sigaretdosie. “Om die waarheid te sê, ek gaan jou nie weer op die trippie vat nie.”

‘n Klein stilte. “Mag ek vra hoekom nie?” Ysig.

Sy trek diep aan die sigaret, blaas ‘n netjiese ry kringetjies na die plafon. Dink onverwags aan die dag toe sy haar boetie Chris leer kringetjies blaas het. Toe hy seker so tien of elf was. G’n wonder die man kry nie koers nie – met so ‘n ousus kan dit nie juis anders nie. Om nie eens te praat van hulle ouers nie. Twee wanaangepaste mense wat onnosel genoeg was om ‘n ellendige huwelik te probeer beter maak met ‘n laatlam. Dit het nie gewerk nie.  En die laatlam het hulle nooit vergewe nie.

“Ek vra waarom nie, Mariaan.” Afgemete, kouer as ysig.

Sy druk die sigaret ferm dood. “Omdat ek nie langer jou voetvel gaan wees nie, Marius. Ek het jou ‘n jaar lank bedien en bederf – ek is gatvol.”

“Moet jy altyd so kru wees?”

“Ja, want dis hoe ek voel. Nie moeg of keelvol of gedaan nie – gatvol.”

“In daardie geval sal ek iemand anders kry. Jammer ek het jou tyd gemors.” Maar hy druk nie sy foon dood  nie, wag seker nou dat sy begin terugkrabbel.

“En jy gaan nié vir Lana bel nie. Sy’s in elk geval nie by die huis nie, sy kom pas vandag haar trourok aan in die stad. En namiddag gaan sy nie tyd hê  nie.”

“En hoe weet jy dit?”

“Omdat sy by my kom kuier.”

“Julle twee gaan waaragtig sit en kuier terwyl julle weet ek het hulp nodig.”

“Ja, ons gaan – want ons weet jy kan blerrie goed regkom op jou eie. Jou kar is aangepas, jou rystoel is liggewig en modern … Jy’t alles van die beste, maar jy gebruik dit nie, Marius. Ek gaan jou nie verder help nie. Jy is deeglik in staat om jouself te help, as jy maar net wil.”

“My arms … Ek kan nie …”

Mariaan byt op haar tande. Nie nou ingee nie, net nie nou ingee nie. “As jou arms te swak is, is dit jou eie skuld. Mos te trots om te gaan gym, te dwars om jou tuisoefeninge te doen … Sorry, ou maat, ek is klaar met jou.”

Stilte. Dan: “Sien ek jou weer?”

Haar trane loop nou, stilletjies. “Ek het nie ‘n idee nie. Dalk kom loer ek in die week in.” Sy druk die rooi knoppie, kantel op die bed om en huil haar hart vir die laaste keer uit oor hierdie mansmens. En neem ‘n besluit.

As Marius hierdie uitdaging die hoof  bied, as hy pogings aanwend om selfstandig te word, sal sy hom nog ‘n kans gee. As hy bly rondploeter in die modder, kan hy in sy dinges in vlieg. Sy gaan haarself nie ook laat aftrek na sy vlak toe nie.

Sy’t al baie dinge in haar lewe oorleef, sy sal dit ook oorleef.

En  as hý nie oorleef nie?  As hy vandag ‘n ongeluk maak van uit oefening wees met die aangepaste motor?  Homself ooreis en ‘n hartaanval kry? Sênou hy kry selfmoord in sy kop?

Mariaan kreun soos een wat seerkry, rol haar lyf in die fetusposisie in die deurmekaar beddegoed. Liewe Here, net nie dit nie!

En waar lê die grens tussen bid en dink nou eintlik?

Gaan loer gerus ook na ‘n impromptu (en nie baie goeie!) voorlesing uit hierdie boek.

2 gedagtes oor “Vanaf skrywersblog: Uittreksel uit Geur van vergifnis

    1. Dankie, Cynthia, dis vir my baie belangrik dat karakters menslik en realisties moet wees.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s