7 dae – Deon Meyer

Eintlik behoort ek  glad nie oor hierdie boek iets te sê nie, want ek is regtig nie die geskikte persoon nie. Ek is glad nie op hierdie stadium van my lewe die geskikte persoon om spanningsverhale te lees nie. Ek is oorsensitief vir grusaamhede, ek haat enige vorm van geweld én ek is te lui om te dink. Al hierdie dinge was toe ek jonger was, darem nie heeltemal so erg nie. Ek kan nie heeltemal besluit of die invloed van die ouderdom in hierdie geval ‘n goeie of ‘n slegte ding is nie.
Tot onlangs kon ek glad nie verstaan hoekom  mense dit in hierdie tyd van hoë misdaad so graag lees nie – hulle kan mos maar net die nuus kyk as hulle grusaamhede wil sien. Maar toe het Chanette Paul op die onlangse Leeskringoggend by Bloemendal die vraag vir my mooi beantwoord: Mense lees dit omdat dit eintlik ‘n gerusstellende genre is, want die boosdoener word altyd gevang. Goed oorwin altyd die kwaad, terwyl ons mos weet dit gebeur in die werklike lewe ongelukkig nie altyd nie.
Nou is deel van my probleem die feit dat ek hoegenaamd nie omgee of die moordenaar in 7 dae enigsins gevang word nie. Nie omdat ek  voel moordenaars moet maar losloop nie, maar bloot omdat ek geen toegeneentheid vir die vermoorde persoon voel nie.  Maar as iemand nou vir Bennie Griessel vermoor, sal ek seker self daardie ou gaan soek … Ek hoop tog nie Deon is eendag so wreed om aan hierdie moontlikheid te dink nie.
Hoekom ek dan enigsins die boek gelees het? Omdat die man so goed skryf. En veral omdat hy (in my oë) so goed karakteriseer. Sy karakters word regte, egte mense. Almal van hulle, nie net die belangrikstes nie. Daarom lees ek (en ek vermoed ek is glad nie alleen nie) veel meer agter Bennie en die ander bekende karakters se storie aan as agter die moordstorie aan. Die moord is maar net daar om vir Deon ‘n rede te gee om die boek te skryf.
Elke karakter, hoe vlugtig hy of sy ook al verskyn, word noukeurig geteken. Daar is natuurlik Bennie self in al sy feilbare menslikheid. (Ek is mal daaroor dat helde nie deesdae meer volmaak en beeldskoon hoef te wees nie.) Dan is daar die swart vrou wat in 13 uur die KFC so onvergeetlik geëet het (onthou julle daardie kosbare toneeltjie?) en ek vermoed nou in ‘n hoër posisie is. Sy gee alles behalwe die indruk van ‘n engeltjie, maar dis net ongelooflik effektief as sy die manne so aanspreek oor hul growwe taal. As teenpool is daar die bruin outjie wat weer in die vreeslikste tale speek (onskuldige ek het natuurlik glad nie vir njaps  geken nie). En so kan ‘n mens voortgaan. Die hele reënboognasie word vir ons so lewendig gemaak dat jy sommer ons deurmekaar spulletjie van vooraf wil lief kry. Al is almal van ons (en die karakters) hoegenaamd nie so maklik om lief te hê nie.
Dis hoekom ek Deon Meyer lees en waarskynlik sal aanhou lees. (Wie was nou weer op die ou end die moordenaar?? 🙂 )

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s