RSS

Kronkelpad – Irma Joubert

04 Des

Hoewel ek historiese romans baie geniet, raak ek kriewelrig as ek begin voel die geskiedenis begin die storie verdring. Wat natuurlik ‘n volkome subjektiewe oordeel is. Wat vir my te veel is, is heel moontlik vir ‘n volgende leser weer te min. Dit hang natuurlik ook af met watter doel ‘n mens ‘n spesifieke boek lees. Lees jy om te ontspan? Om jou in te leef in ‘n tyd wat verby is? Om te besin oor die aard en wese van jou volk? Om intellektueel gestimuleer te word?
Kronkelpad maak voorsiening vir al hierdie behoeftes. En moontlik nog ander waaraan ek nie gedink het nie. Irma is werklik ‘n meester en die storie is met sorg, detail en ongelooflike navorsing aanmekaar gesit.
Volgens my is sy op haar beste wanneer sy uit ‘n kind se oogpunt skryf – iets wat min skrywers regkry sonder om af te praat na die kind toe. Ek het dus die eerste deel van Lettie se lewenspad baie geniet (netsoos ek Pérsomi s’n geniet het). Daarna het die geskiedenis my ‘n bietjie gevang. (Miskien het ek deur die jare al net te veel oor hierdie deel van ons geskiedenis gelees. Maar aan die ander kant moet ek ook sê ek dink dis wonderlik dat dit so eerlik en gebalanseerd weergegee word. Ek wens eintlik elke Afrikaanse jongmens kan dit lees, want dit gee so ‘n duidelike beeld van die ontwikkeling van nasionalisme by die Afrikaner en die algemene gevoelens van daardie tyd.)
Maar toe kom ek uit by Marco in die konsentrasiekamp. En van daar af is ek verlore. Die huishouding ruk hand uit, die mansmense en diere kyk my met afgeskeepte oë aan, maar ek LEES. Na my mening is juis een van Irma se grootste talente die manier wat sy het om dinge ekstra trefkrag te gee juis deur dit te onderbeklemtoon. Hiervan is die kort tonele oor Marco se ervarings in die kamp ‘n uitstekende voorbeeld.
En natuurlik is ek finaal gevang toe die liefdesverhaal eindelik begin ontvou. Lettie is so ‘n menslike en egte karakter waarmee enige vrou kan identifiseer. (Marco is vir my ‘n bietjie te goed om waar te wees – ek sou hom ‘n ou klein foutjie of twee kon vergewe!). Die ouwêreldse sjarme van die hofmaakproses het my so bekoor. (Al kan ‘n mens dit vandag amper nie glo nie!). Teen die tyd dat die polio-epidemie (waarin iemand in my skoonfamilie dit ook opgedoen het) toeslaan, het Lettie en haar gesin al diep in die leser se hart gekruip. Wanneer die dogtertjie die siekte opdoen, wil jou hart breek vir haar. En veral vir haar ma, omdat jy ook ‘n ma is en ook al ‘n bietjie geproe het van die magteloosheid as jy dinge nie kan beter maak vir jou kind nie. En toe dien Irma die arme Lettie en die arme leser die finale slag toe … Genoeg om te sê dat ek tot die manne se verstomming diep en innig bewoë geraak het. En bitterlik kwaad vir die skrywer … 🙂
Maar gelukkig oorwin die liefde altyd. Saam met Lettie herstel die leser, saam met Lettie besef die leser ‘n mens kry soms ‘n tweede kans. En dan moet jy hom met albei hande aangryp. As dit in lieflike Italië kan gebeur, des te meer … 🙂
Kronkelpad is ‘n boek om te onthou.

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , ,

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: