Vandag het ‘n uitermate besige Sondag my moeg maar tevrede hier voor die rekenaar gebring – en weer ‘n slag trots Suid-Afrikaans.
Vanoggend was ek 5:00 (al morrend) op om in Groenpunt te kom vir die iThemba stap ten bate van borskankerbestryding. Omtrent 12 000 mense en ‘n paar honde. Doef-doef musiek en die soort kunsmatige geesvang waarvan ek nie hou nie. ‘n Klompie dapperes prettig in pienk opgetooi. (Die beste was die heel aantreklike jongman met ‘n mooi pienk rompie en visnetkouse.) ‘n Spannetjie borskanker oorlewendes wat kom deelneem. Seepunt se promenade, die reuk van bamboes, skepe in die baai, pers Curves ballonne aan poniesterte. En reën. Heelwat daarvan. Lekker hard, van die kant af. (O ja, en twee toilette vir omtrent 100 knypende vroue.) Les bes – verklee in die motor. LEKKER.
Vanaand: Die afsluiting van Cultivaria. Swaar wolke wat die druppels terughou tot die show verby is. Amfiteater met uitsig op die vallei se groen en blou en wit. Mango Groove, simbool van wat wit en swart saam kan doen. ‘n Gehoor van stywe oumense wat teen die einde van die show eers (effens) losraak. O ja, en lekker koekies. Ook onvermoorde vrugte … LEKKER.
Nou’s ek gereed vir die week se slegte nuus. Bring it on, Julius!
Meer oor Mango Groove by http://www.mangogroove.co.za/about.html