RSS

Minding Frankie – Maeve Binchy

11 Okt

Ek kon nog nooit heeltemal besluit hoekom ek so baie van hierdie vrou se boeke hou nie. Haar stories is meestal onopwindende verhale oor doodgewone mense, sonder baie verrassings, op ‘n bedrieglik eenvoudige manier voorgesit. Geen woordryke beskrywings of wondermooie taalgebruik nie, geen magiese oomblikke, bitter min lakenplesiere. Geen volmaakte eindes, geen beeldskone helde nie. Eintlik is haar boeke vir my een lang understatement. En ons weet mos die sagste stem dwing dikwels die meeste gesag af.
Dalk is dit die universeel-menslike element wat my (en derduisende ander lesers) aantrek. Dalk die feit dat Ierland al lank vir my ‘n bekoring inhou. Haar boeke speel natuurlik daar af en vertel klaarblyklik die verhaal van die sosiale en ekonomiese veranderinge in dié samelewing baie realisties en lewensgetrou. Arm mense wat hard werk en swaarkry, kinders met moeite laat leer. Die silent generation, wat nie praat oor gevoelens of vrese of skandes nie. Die bindende, maar ook versmorende krag van die kerk. Kinders wat hoër mik en welvarender kan leef, maar die ou waardes begin minag, hulle nie meer steur aan wat die mense sê nie. Ouers wat agterbly wanneer kinders emigreer. Families wat mekaar frustreer en irriteer, maar tog innig liefhet.
Telkens word ‘n hele klomp mense se lotgevalle subtiel bymekaar ingeweef. Op die ou end gaan dit waarskynlik oor community, die behoort aan ‘n groep, maar die vind van jou eie identiteit daarbinne.
Minding Frankie is op dieselfde lees geskoei. Baba Frankie  word beslis in buitengewone omstandighede gebore en op die oog af is haar kanse op ‘n normale lewe bitter skraal. Noel is baie beslis nie heldemateriaal nie. En die niggie wat uit Amerika haar wortels kom opsoek, is so ‘n bietjie te goed om waar te wees. Maar sy speel haar rol as katalisator om dinge aan die verander te sit, uitstekend. En vind self ook geluk. (Wat darem my romantiese streep bevredig.) Daar is nog talle kleurvolle (en soms kleurlose) karakters, almal baie menslik en baie onvolmaak. Daar is nie juis spanningslyne om jou slapeloos te hou nie. Ook geen volkome oplossing van almal se probleme nie. (Maar darem van die meeste).
As jy gehou het van Binchy se boeke – sorg dat jy hierdie een in die hande kry. As jy hou van hoogspanning en baie seks en dramatiese gebeure – hou verby. Of dalk moet jy dit tog probeer … Net vir afwisseling. Dit kan net wees dat jy netjies in die wip van hierdie wonderlike skrywer gevang word.

Advertisements
 
2 Kommentaar

Posted by op 11/10/2011 in Boeke, Lees, Skrywers

 

Sleutelwoordw: , , ,

2 responses to “Minding Frankie – Maeve Binchy

  1. kristelloots

    12/10/2011 at 05:12

    Jou raaksê-resensies behoort regtig vir `n groter leserspubliek beskikbaar te wees. Ek dink na hierdie beskrywing weet ek redelik goed wat om van die boek te verwag. En . . . ‘skuus Alta . . . ook dat ek met die boek op die gesig aan die slaap gaan raak. Omdat ek die sagte stem met `n Ierse aksent in my kop gaan hoor praat. En my dadelik oseane verwyderd van die storie gaan voel. Tog hoor ek jóú stem daaroor baie duidelik en besef ek dat dit vir vele lesers `n heerlike leeservaring gaan wees. Nie almal ly aan `n lesers-aandagafleibaarheidsindroom soos ek nie. Skryf gerus oor alle boeke wat jy gelees het. Ons luister graag.

     
  2. Madelie Human

    11/11/2011 at 07:46

    Ek het hom ook gekoop, maar nog nie gelees nie, ook seker oor ek bang is vir die aan die slaap raak met die boek op die gesig waarvan Kristel praat.

    Wat my egter gewoonlik haar boeke laat aanhou koop en lees, is haar wonderlike karakters. Maeve weet hoe om ‘n karakter in ‘n mens se verbeelding te laat groei totdat dit voel soos iemand wat jy werklik ken.

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: