RSS

Dagboek van ‘n depressievegter: Wanneer jy skielik rockbottom slaan …

02 Oct

In ‘n vorige post (https://altacloete.wordpress.com/beveg-depressie/dagboek-van-n-depressievegter/) het ek ‘n lysie gemaak van al die dinge waaroor ek wel beheer het, wat my help om bo te bly. Dit gee ‘n mens ‘n lekker gevoel van beheer as jy weet daar is eenvoudige goedjies wat jy kan doen om jouself teen die aanslae van die depressieduiwel te beskerm. En as jy nalaat om dit te doen en jy val weer in die put, het jy ook net jouself om te blameer. (LW. Ek praat hier van dinge wat ‘n mens wel kan beheer, nie van dinge waaroor ons geen kontrole het nie, soos die weer of wanneer ‘n geliefde iets oorkom nie.)

Hierdie teorie van my is onverwags en pynlik korrek bewys toe ek besluit om myself  ‘n maand vakansie van skryf te gee nadat ‘n paar projekte voltooi was. Gelukkig tog het allerhande klein krisisse veroorsaak dat die vakansie gekrimp het na net twee weke. Ek dag so ewe ek gaan nou allerhande lekker goed doen, baie kuier met mense wat ek min sien, baie lees en sommer oor die algemeen my kreatiewe tenkie weer vol maak. Wat ek toe ook gedoen het.  En vreeslik geniet het.

Maar dis toe waar die pawpaw die fan tref. Ten spyte van al die lekkertes oorval die donkerte my vinnig en meedoënloos. Ek kan nie onthou wanneer ek laas so ellendig gevoel het nie. Meteens is ALLES in my lewe verkeerd. NIEMAND is vir my lief nie (of liewer – die wat vir my lief kan wees, moet sweerlik hulle koppe laat lees!), niks maak regtig saak nie, geen vreugde is blywend nie, niks wat ek nog verrig het is van enige blywende waarde nie. En ek het net krag vir in die bed kruip. (Eintlik sou onder die mat verkieslik gewees het!) O ja, ek het ook krag vir eet – al die verkeerde goeters!

Maar êrens in die donker het ek darem van my lysie met depressiedoepas onthou. En dat kreatiewe aktiwiteit baie hoog op daai lysie staan. Die arme vakansie is toe summmier met die helfte verkort – en die effek was dramaties. Weg is al die ellende, weg is al die hopeloosheid, die son skyn weer en die voëltjies sing. En moet asseblief nie dink ek het skielik bladsye en bladsye van ‘n meestestuk neergepen nie! Nee, doodgewoon en sukkelend met ‘n nuwe storie begin, dis al. Geen gevleuelde woorde, geen dramatiese insigte. Doodgewone harde werk. Maar sooo bevredigend.

Gevolgtrekking? Dat ek gedoem is om vir die res van my lewe te skryf, as ek my eie lewe enigsins draaglik wil maak. Scary thought, want ‘n mens is tog nie altyd lus nie. En êrens gaan jy so oud word dat jy nie meer krag het nie. Of die koppie raak dalk heeltemal deurmekaar. Of die gesondheid gee heeltemal in … Maar ook ‘n wonderlike gedagte, want skielik het ek die beste doepa teen die lewe. Ek het geen verskonings meer nie, ek moet net die BOS-beginsel toepas en skryf. (BOS = Bas op stoel – daar is ook ander minder mooi afkortings!) Maak nie saak of dit gepubliseer word nie. Maak nie saak of dit goed is nie. Maak nie saak of ek dit die volgende dag weer alles delete nie. Maar aanhou sal ek moet aanhou.

Nou hoekom vertel ek dit vir jou? Omdat ek hoop jy gaan dadelik ook jou lysie begin. En ja, natuurlik gaan hy heeltemal anders lyk as myne. En natuurlik is daar dinge in die lewe waaroor ‘n mens nie so maklik beheer kry nie. En natuurlik is ‘n mens kragteloos en magteloos en moedeloos moeg as jy depressief is en is positiewe aksie die heel laaste ding waarvoor jy kans sien.

Hierdie beginsel is nie ‘n kitskuur vir depressie nie. Dis net ‘n strooihalm waaraan ‘n mens kan vasgryp – en met genoeg toewyding en oefening en vasbyt kan dit dalk ook vir jou ‘n stewige tak word wat jou veilig bokant die donker stroom kan laat swaai.

 

Etikette: , , , ,

5 responses to “Dagboek van ‘n depressievegter: Wanneer jy skielik rockbottom slaan …

  1. Johane

    02/10/2011 at 17:40

    Ja ‘n mens gryp werklik na elke stroohalmpie wat jy kan. Baie dankie vir die een.

     
  2. Lorraine

    09/04/2012 at 06:14

    Rockbottom kom sommer so uit die bloute. Vrydag was dit my beurt. Kon nie uit die bed. Eet die verkeerde slegte goed – brood – vriendinne wat verstaan help. En myself forseer om klere op te tel, wasgoed te was, vloere skoon te maak – jammer die gym was toe Vrydag. Want oefening en werk help. Gee suurstof vir die brein. Nou gaan ons weer aan

     
    • Alta Cloete

      09/04/2012 at 06:58

      Lorraine, ek is bly jy kon dit hanteer! Die dinge wat jy noem, help almal vir my ook. Ek vind as ek daarvan kan probeer doen, bly ek ten minste nie so lank onder nie, al tref ek nog soms die bodem.

       
  3. Yvette

    29/05/2012 at 14:50

    Hoe wonderlik dat jy jou BOS gekry het, Alta, ek moet myne nog vind🙂

     
    • Alta Cloete

      29/05/2012 at 15:06

      Die soektog kan ook lekker wees! En jy kry hom dalk om ‘n onverwagse hoek en in onverwagse gedaante …

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: