RSS

Hoogty – E. Kotze

20 Aug

Die agterblad beskryf E. Kotze as ‘n kenner van mense, van die see, en van die troebel en helder waters waardeur verhoudings gaan. ‘n Mens kan dit kwalik beter stel. Ek geniet al jare haar ongelooflike boeke oor die Weskus en sy mense. Afgesien van die pragtige stories, is haar boeke ook die optekening van ‘n vergange era in ‘n streek wat alreeds onherkenbaar verander het.

Hoogty vertel die verhaal van Helena Burger wat op Flaminkbaai opgroei en daarin slaag om weg te breek, hoërskool en tegniese kollege toe te gaan en (vir daardie tyd en vir haar gesin) die dapper stap doen om in die Vrystaat te gaan werk. Daar ontmoet sy wonderlike mense en word haar horisonne nog wyer. Maar sy is steeds eintlik Hillie Burre van Vollemink en sy kan maar nie haar plek en haar mense vergeet nie. Toe haar boetie se hoërskoolloopbaan in die gedrang kom, los sy alles netso en gaan huis toe.

Die eerste helfte van die boek is die geskiedenis wat oploop tot by die punt waar die storie met die Proloog begin – wanneer Helena terugkom by die huis na haar jare in die Boland en die Vrystaat. ‘n Mens sien hier hoe ongehoord en moeilik dit in die 50’s was vir ‘n Afrikanermeisie om uit haar klein kring te breek, hoe vanselfsprekend die patriargale stelsel oral aanvaar word en natuurlik ook die rasseverhoudinge van daardie tyd (gebalanseerd weergegee). Dit wys ook hoe eng die lewenswyse was en hoe min ruimte daar was (veral vir ‘n vrou) vir individualiteit. Hoe goed en dierbaar die Afrikanerman kon wees, maar hoe onbetwisbaar baas hy was. Hoewel sy dikwels opstandig voel, aanvaar Helena tog die (liefdevolle) gesag van al die mans wat oor haar pad kom – die jong dokter vir wie sy werk, die kêrel wat by haar kuier, sy pa – wat háár aanspreek wanneer hulle twee te laat gaan slaap! Dan kry sy die brief wat haar alles laat los en teruggaan.

Hiervandaan verander die verhaal heeltemal. Die omgewing aan die Weskus word soos altyd wonderlik deur Kotze beskryf. Sy ken die mense, die visserslewe, en die see van daardie streek soos geen ander skrywer waarvan ek weet nie. Ek moet egter erken dat die massas detail inligting oor die vissers se werk my naderhand ‘n bietjie ondergekry het.

Helena bevind haar (soos tallose expats deesdae) in die situasie dat sy nêrens meer heeltemal pas nie. Sy het albei streke en groepe mense liefgekry. Op Vollemink is soveel wat nie vir haar aanvaarbaar is nie, maar dit bly haar grootwordplek en haar mense. Met ons mense se tipiese sterk familiebande, kies sy om te bly tot haar broertjie se kosskool toe ganery uitgesorteer is.

Die oorgang na haar besluit om permanent te bly, is nie vir my heeltemal gemotiveerd nie. Teen haar geaardheid in word sy meegesleur deur gebeure (en natuurlik deur ‘n man!) en gou-gou is sy getroud met ‘n visserman en pak sy die lewe aan waarvan sy die ellende so goed in haar ouerhuis ervaar het. Terwyl die voorafgaande én die daaropvolgende dele in soveel detail vertel word, word daar vinnig oor haar besluit om te trou gegaan en dit het my as leser nie bevredig nie.

Op die oog af is die res van die boek bloot die verhaal van haar huwelik en die groter familie. Maar dis tog ook die liefdesverhaal van haar en haar man. Daarby die verhaal van ontwikkelinge in die visbedryf in daardie jare, ‘n wonderlike tekening van die sosiale landskap van daardie tyd. En natuurlik die twee kragte wat in die vrou bly woed – om ‘n man en gesin te hê, maar om ook as individu te kan ontwikkel en ‘n impak te kan maak. Maar ook die verhaal van die man se stryd om ‘n gesin onder moeilike omstandighede te onderhou – en om sy vrou te probeer verstaan. (Dis nou die jonger geslag – ek dink nie die ouer geslag mans het enigsins probeer nie!)

Ten slotte is Hoogty die verhaal van ‘n man en vrou wat trou en ‘n gesin bou, maar nie een van hulle het hulle vorige verhoudings behoorlik afgesluit nie. Hoewel hulle vasgroei aan mekaar, bly daar altyd iets van die verlede tussen hulle huiwer. Hierdie verbondenheid stuur af op ‘n diep ironiese einde. (Wat nie vir my persoonlik baie oortuigend geteken is nie.)

Hoogty is een van daardie rare boeke wat feitlik geen spanningslyn bevat nie, want dit gaan oor die doodgewone oppe en affe van doodgewone mense – maar ek kon dit nie neersit nie. (Tot so ‘n mate dat oogdruppels en ysblokkies vandag my konstante metgesel was.) Ek kon egter nog nie lekker besluit hoekom die boek my met so ‘n ongelooflike diep gevoel van heimwee en weemoed en sommer plein hartseer gelaat het nie. Dis tog nie ‘n tragiese verhaal nie. (Hoewel daar bitter min humor in is – behalwe as ‘n mens Helena se bedonnerde ou pa as snaaks kan beskou. Vir my was hy egter meer tragies as snaaks, maar op die ou end miskien die boeiendste karakter in die boek.) Dalk maar net omdat dit die nietigheid van die menslike lewe so mooi weergee, die klein plek van die individu in die groter gang van tyd, die tydelikheid en uiteindelik nutteloosheid van al ons swoeg en sweet, die onkeerbare verloop van verandering.

E. Kotze het die vermoë om met eenvoudige taal die mense en die streek ongelooflik helder te teken. As jy van haar vorige boeke gehou het, is hierdie een ‘n moet. As jy van aksie en intrige hou – nie vir jou nie.

NS. As jy hierdie boek geniet het, is Hermione Suttner se Bitter Heuning ook ‘n moet vir jou.

 
3 Kommentaar

Posted by op 20/08/2011 in Boeke, Lees, Skrywers

 

Etikette: , , , , , , , ,

3 responses to “Hoogty – E. Kotze

  1. kristelloots

    21/08/2011 at 06:19

    Jy resensie laat mý met `n tikkie heimwee en weemoed en amperse hartseer. Omdat ek jou ‘sensitiewe siel’ en ‘sommer plein’ vrouwees daarin raaklees en kan hóór hoe jy saam met die karakter geleef en gevoel het. Ek wil sommer vir Helena én vir E Kotze (hoe outobiografies is die verhaal?) én vir jou `n virtuele drukkie gee.

     
    • Marile Cloete

      21/08/2011 at 07:50

      Dankie, Kristel! Ja, onse hartjies is maar sag … ek sluit joune in!🙂
      Ek het ook gedink daar moet baie bio/outobiografies in die storie wees. Dit is amper in te veel detail om alles uitgedink te wees. As julle kan verstaan wat ek bedoel … Daar is nie regtig ‘n spanningslyn soos in ‘n uitgewerkte storie nie, maar bloot die gewone verloop van die lewe.

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: