Reis na binne bied die hedendaagse mens padwysers om sinvolheid en sielvolheid te help ontdek. Omdat raad gee selde help, word die boek ‘n verhoog waar vier mense se stories afspeel. Hulle belewenisse en drome demonstreer dat die lewe elke heelhartige soeker wil help met die reis vanaf ontnugtering na sielvolheid. Aldus die agterblad.
Mense wat my goed ken, weet ek hou niks van die woord middeljarig nie. Dit klink vir my na iets wat nog vis nog vlees is, sommer net êrens in die lug tussen jonk en oud. Hierdie boek verander ‘n mens se perspektief hieroor. Die middeljare word gesien as ‘n tydperk waarin baie groei kan plaasvind as jy doelbewus daarvoor soek. Ons weet almal die lewe boul vir elke mens maar ‘n paar lelike balle en ‘n sekere mate van ontnugtering is waarskynlik onvermydelik. Maar hierdie boek maak die pad oop om deur die ontnugtering te kom na wat sy noem sielvolheid. ‘n Mens besef selfs dat ‘n sekere mate van depressie êrens in jou middeljare amper onvermydelik is en natuurlik kan ‘n mens maklik daar vassteek, afhangende van jou omstandighede, persoonlikheid, ens. Daar is baie kosbare wyshede in die boek. Ek haal sommer lukraak ‘n paar aan. Onthou, dus buite verband aangehaal en ‘n mens kan dus nie die volle waarde daarvan so maklik raaksien nie.
- Dis beter om emosies te voel as om hulle met kos te verdoof.
- … in die tweede deel van jou lewe moet jy belangrike ongeleefde, onontdekte aspekte van jouself indie donker bos van jou onbewuste vind. Nie net aspekte van jouself waaroor jy ongemaklik en selfs bang voel nie, nie net rolle en verdedigingsmeganismes wat uitgedien is nie, maar ook potensiaal wat jy nie eens kan raai nog in jou dieptes toegesluit lê nie.
- Hierdie proses gebeur nie oornag nie. Dit duur ‘n paar jaar vir die veranderinge van die middeljare om deur al die fases te beweeg.
- ‘n Klein bietjie luiheid nou en dan is ook nodig.
- … om genadig met myself en die lewe te wees. Ek mag maar dom dinge doen en ek hoef nie altyd te wen of suksesse te behaal nie, solank ek uit my foute leer.
- … ‘n prentjie van ‘n strenge God mense dwing om dele van hulself te onderdruk en te haat en onnodige innerlike konflik veroorsaak.
- Hoe ouer ek word, hoe meer ervaar ek dat die lewe eintlik draai om innige verhoudings met mense wat vir jou belangrik is. Ek kom agter dat my lewe sinloos begin voel sodra ek te veel op werk fokus en te min tyd en energie aan geliefdes bestee.
Die een aspek van die boek wat op my verlore is, is die groot klem wat op drome gelê word. Ek is jammer, maar die verklarings klink vir my net te maklik. Agterin is selfs ‘n lys met wat sekere dinge in drome beteken. Ek weet daar is deesdae ook op godsdienstige terrein ‘n nuwe belangstelling in drome en ook gelowiges wat glo elke droom is ‘n boodskap van God. Ek probeer ontken ook hoegenaamd nie dat drome wel kan toon wat in jou onderbewussyn aangaan nie, maar die detail verklarings klink vir my net te ongeloofwaardig. Die een ding van drome wat ek wel in die laaste paar jaar geleer het, is die feit dat ‘n mens in die REM-fase van slaap droom (rapid eye movement) en as daardie fases te lank is en die fases van diep slaap te kort, staan jy moeg op. En dit word maklik ‘n skakel in die bose siklus van depressie. (Kyk by https://altacloete.wordpress.com/beveg-depressie/die-bose-sirkel/ as jy belang stel.)
As jy belang stel in persoonlike groei, is hierdie beslis ‘n boek om te lees.
Een gedagte oor “Reis na binne: van ontnugtering tot sielvolheid – Truida Heymann”