Die ondenkbare gebeur so af en toe

Ja, ek verwys na die titel van die fantastiese speurverhaal deur Isa Konrad (sien bespreking onder Boeke om te onthou), maar veral na die onlangse tragedie in Noorweë.
Die tragedie het my diep getref. Verrassend diep. En ek het begin wonder hoekom. Hier is ‘n paar redes.
Eerstens omdat my kind daar bly, al was hy ver van die gebeure. Dis verstommend hoe selfsugtig ‘n mens eintlik maar is. Al was hy nie naby die aksie nie, is dié gebeure vir ons steeds baie meer werklik as die nare goed wat in ander lande gebeur. Ek neem aan dis maar hoe ons aanmekaar gesit is, met die uitsluitlike doel om die spesie te laat oorleef.

Tweedens het ek besef hoe diep die land al in my hart gekruip het, na net twee besoeke daar. Met die eerste besoek het ek my verwonder aan alles wat nuut en mooi en vreemd is. Met die tweede het my liefde vir Trondheim veral begin wortel skiet, tot so ‘n mate dat ek nie net moeilik van die kind afskeid geneem het nie, maar ook van die dorp.
Ek is ook verras deur die sterk wens dat ek daar kon wees om die optogte en roubyeenkomste mee te maak. En nee, ek is regtig nie ‘n sensasiesoeker nie. Dit het waarskynlik te doen met die diep behoefte om by jou mense te wees wanneer hartseer hulle getref het, soos ek dit baie intens met sterftes in ons familie ervaar het.

Derdens het ek myself toegelaat om te veel te lees en te luister na berigte oor die gebeure. Wat my net weer laat besef hoe belangrik dit vir my eie emosionele welstand is om myself minstens tot ‘n mate te beskerm teen die media. Ek is eenvoudig nie instaat om die volle dosis slegte nuus van elke dag te hanteer sonder om emosioneel daardeur geraak te word nie. Nee, ek sê nie ons moet almal ons TV’s uitgooi nie (hoewel dit dalk nie ‘n slegte plan is nie!) of heeltemal oningelig deur die lewe gaan nie. Ek sê net ek dink die media het ‘n groot negatiewe invloed op ons spanningsvlakke. En dat ‘n mens wel die reg het om jou blootstelling daaraan te reguleer. En ook dié van jou kinders.

Soos met enige voorval waar een persoon so uithaak en iets vreesliks doen, bly ek maar wonder hoe dit moontlik kan wees dat hy in ‘n samelewing kon leef waar NIEMAND kon agterkom wat in sy kop aangaan nie. Ek dink dit sê iets baie ergs oor ons samelewing. En nie net Noorweë s’n nie. Dalk het dit te doen daarmee dat ons deesdae baie individualisties leef en nie meer altyd so ingestel is op die groep se belange nie. Dalk wys dit maar net op die ontsettende eensaamheid wat mense binne die samelewing – en selfs binne ‘n gesin – kan ervaar. Want selfmoord is ‘n ander ding wat hierdie vrae voortdurend by my laat opkom.  ‘n Mens kan nie dink hoekom ‘n persoon binne ‘n gesin kan leef en niemand kom agter hy/sy is in die diepste dieptes van depressie nie. Want dit is waar jy moet wees voor jy by selfmoord uitkom, dit glo ek vas. Wat ons natuurlik bring by die ontsettende selfverwyt wat daar gewoonlik is by die familielede en vriende wat agterbly na ‘n selfmoord. En natuurlik die woede, wat hulle maar selde kan uitspreek.

Die Noorweër sê blykbaar hy wou die samelewing verander. En die Nore sê baie dapper hulle is vasberade dat hy dit nie gaan regkry nie en dat hulle steeds ‘n oop, vreedsame nasie sal bly. Maar ek dink hy het ongelukkig alreeds iets reggekry. En dis om haat in baie harte te plant. Dis vir my dalk die vreeslikste langtermyn gevolg van hierdie ding. Die smart en onbegrip sal mense hopelik (met verloop van baie tyd en baie trane) verwerk, maar die saadjie van haat wat in harte geplant is, kan dalk ongemerk ontkiem en stadig, stadig wortel skiet.

Terwille van die Noorweërs en terwille van die breër samelewing bid ek maar net daar bly steeds genoeg liefde in genoeg harte agter om hierdie haat te oorbrug.

‘n Dag later:  Dalk kry die Noorweërs reg wat ander meer godsdienstige nasies (nudge nudge wink wink) nie altyd regkry nie – om iets goeds uit iets boos te laat voorkom. Een van die dinge wat gesê is oor die optogte wat plaasvind vir die gestorwenes, is “Tonight the streets were filled with love.” En ek dink die eersteminister het iets gesê soos “An act of evil can kill a human being, but cannot destroy a nation.”

Dit klink of die verskriklike gebeure die Noorweegse nasie verenig het. Nou wonder ek sommer net wat dit sal vat om onse nasie te verenig? Dit lyk my tot dusver kon nog net sport dít regkry …

Lees hier oor die ongelooflike manier waarop hulle politici en ook die gewone mense die ding hanteer. Ek staan verstom. http://www.newsinenglish.no/

Een gedagte oor “Die ondenkbare gebeur so af en toe

  1. sjoe, ja! Wat hy ook waarskynlik reggekry het, is om idees in die koppe van ander afwykendes te plant. Of dalk was hy geinspireer deur die sporadiese soortgelyke gevalle wat op kleiner skaal is SA en Amerika gebeur het, en wat wel die internasionale media bereik het, en wat hom laat besluit het om iets groter te doen wat die mensdom hom sal laat onthou……

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s