RSS

Dagboek van ‘n depressievegter: Dinge wat depressie bevorder – Hou by by die Jones’e … en die Vannermerwes

13 Jul

In my kursus as kleuterjuffrou het ons destyds geleer jy vergelyk nooit die voorskoolse kind met sy maats nie, maar altyd met homself. Dus: Hoe het hy gevorder tussen Januarie en Junie? Nie: Kan hy mooier teken as sy maatjies nie. Natuurlik gebeur dit in die praktyk nie altyd so nie. Dan sou ons in ‘n wonderlike wêreld gebly het. Dit kan ook noodsaaklik wees dat hy met sy maats vergelyk word, want as hy bv. iets glad nie kan doen nie wat al die ander al onder die knie het, is daar dalk fout met sy ontwikkeling.
Ons weet almal dit kan baie afbrekend wees om voortdurend met andere vergelyk te word. Ons weet ook dit gebeur. Selfs opvoeders wat van beter behoort te weet, maak hul nogal dikwels skuldig daaraan om broers of susters met mekaar te vergelyk. “Jou broer was so ‘n slim/sportiewe/musikale/whatever kind …” Nie goed vir die selfbeeld nie. En as die vergelykings ALTYD gunstig is, kan die ontvanger seker weer ‘n groot kop kry. (Figuurlik gesproke, bedoel ek.) Die vreemdste is dat dit dikwels nie ander mense is wat ons vergelyk met die kompetisie nie, maar onsself. Sy is mooier/maerder/ryker … Hoekom kan ek nie sulke mooi oë/hande/grade/kinders hê nie? Ons is hier dus weer eens ons eie grootste vyand. Want daar gaan ALTYD iemand wees wat slimmer/mooier/maerder/whatever as jy is. (Daar gaan ook altyd iemand wees wat slegter af is as jy, maar dit sien ons dikwels nie raak nie.) Jy plaas jouself dus weer eens in die posisie om te verloor.
Ons ou wêreld sou ‘n lekker plek gewees het as almal se selfbeelde sterk genoeg was om hulself te aanvaar presies nes hulle is. (Dit kan ook te ver gevoer word, wanneer so ‘n persoon glad nie bereid is om aan sy swakpunte te werk nie – Ek is so gemaak en so laat staan.) Maar ongelukkig is die meeste van ons (veral die manne! ) se ego’tjies maar bitterlik broos. Ons is dus maar voortdurend aan die vergelyk. Boonop is ons vergelykings dikwels heeltemal onrealisties. Ons gaan op veertig/vyftig/sestig helaas nooit weer sestien lyk nie! Dis nié net tieners wat onder groepsdruk ly nie!
Die beste wat ons seker kan doen, is om bewus te wees van hierdie slaggat en minstens oopoog deur die lewe te loop. Hopelik sien ons darem as ons in hom val, of miskien selfs net vóór ons val. En as jy weet jy’t geval, kan jy minstens probeer om weer uit te kom. Maar as jy nie eens besef jy’s die hele tyd aan die vergelykings tref nie, is daar nie veel salf aan jou te smeer nie.
Dus: Laat ons wake-up stap tussen die landmyne van onrealistiese vergelykings!

 

Etikette: , , , ,

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: