Dagboek van ‘n depressievegter: Dinge wat depressie bevorder – Konsentreer op wat VERKEERD is

Hierdie een hou verband met perfeksionisme, maar verdien ‘n hofie van sy eie. Ek was vir ‘n baie groot deel van my lewe baie skuldig hieraan. Miskien kan ‘n mens dit ‘n ander naam ook gee: ONDANKBAARHEID!
Uit ondervinding weet ek egter dit help nie baie om as jy onder in die put lê, vir jouself te vertel hoeveel dinge jy het om voor dankbaar te wees nie. Al wat gewoonlik gebeur, is dat jy nog skuldig voel ook – en dit laat sak jou net nog dieper in die modder weg. (Nou wonder ek sommer: Moet ‘n mens jouself nie so af en toe ‘n bietjie toelaat om vir ‘n rukkie – net ‘n kleeeiiin rukkie – lekker in die modder te rol en jouself behoorlik jammer te kry nie? Maar die gevaar is sekerlik dat dit dalk so lekker  in die modder kan wees dat jy glad nie weer wil uitklim nie! ‘n Gemaksone bly ‘n gemaksone – al is hy hoegenaamd nie gemaklik nie.)
Ons kan dus perfeksionisties wees is in dié sin dat ons ontsteld raak wanneer ALLES nie REG is in ons lewens nie. Maar as jy mooi dink – wanneer is ALLES ooit reg in die lewe? Seker nie meer as af en toe vir ‘n paar oomblikke nie, tragies soos dit is. (Sien, dis hoekom ek romanses skryf – maar selfs daar weet ons There is no perfect endings – only perfect moments.) Dit klink dalk negatief en sinies, maar ek dink dis waar realisme inkom. Ons voer vandag ingewikkelde (en baie interessante!) lewens wat uit ontsettend baie aspekte bestaan – huwelik, kinders, werk, vriende, huis, troeteldiere, kerk, gemeenskap, familie, politiek, ens. ens. ens. En by al hierdie dinge is daar ‘n klomp veranderlikes betrokke, veranderlikes wat meestal mense is. En ons weet mos menseverhoudings is een van die wonderlikste, maar ook moeilikste goed op aarde. Dus: As die man gelukkig is, is een van die kinders dalk siek/moeilik/oorsee/aan die skei/aan die tandekry … As al die kinders (gelukkig het ons nie deesdae so baie nie!) die slag gelukkig is en die man dalk ook, het die hond vlooie of die skoonma kritiseer iets … As die man, die kinders, die skoonma en die hond gelukkig is, skinder ‘n vriendin van jou … As die man, die kinders, die skoonma, die hond en die vriendin gelukkig is, raak iemand in die familie siek … of iemand stamp jou kar, of ‘n potplant vrek … En as ALLES die slag VOLMAAK is – maak onse Julius een van sy wilde stellings! (Gevolgtrekking: Solank hy met ons is, kan ons maar vergeet van ‘n perfekte lewe. :))
Dit kan dalk help om bloot (wanneer jy buite die put is, m.a.w. wanneer dit goed gaan) te oefen om rustig te bly wanneer daar dinge verkeerd loop en vir jouself hard en duidelik  te sê dis normaal, dis die lewe. En dat ‘n mens meestal iets daaraan kan doen. Dit behels natuurlik dat ‘n mens se verwagtinge van die lewe effens laer word (ons het mos al gepraat oor onrealistiese verwagtinge). En ja, dit klink ‘n bietjie sinies.  Maar dis nie dieselfde as om ‘n pynlike pessimis te word wat altyd die ergste verwag nie –  dit beveel ek tog vir niemand aan nie (die meeste ons kry dit sommer vanself reg J)
Dit bring my by die gedagte dat dit nie die getal of grootte van die moeilikhede in jou lewe is wat ‘n mens depressief maak nie. Ons weet mos daar is mense wat ongelooflike smarte beleef en hoegenaamd nie depressief raak nie (Ek dink ons moet oppas om nie depressie met doodgewone, gesonde hartseer te verwar nie). Een van die naarste goed van depressie is juis wanneer jy goed weet daar is eintlik bitter min verkeerd in jou lewe – en jy voel nog steeds lus om onder die mat in te kruip en baie lank daar te bly. As ons nou  kan werk daaraan om werklik op ‘n dieper vlak te AANVAAR daar sal altyd maar iets wees wat nie volmaak is nie, kan dit op die lange duur net voordelig wees. Dink ek.
LW. Weer eens beweer ek nie dis maklik nie. Ook nie dat ek dit altyd regkry nie. Ook nie dat ‘n mens dit gou-gou kan aanleer nie. Maar dis wel iets wat ‘n mens kan DOEN, al gaan dit sukkel-sukkel en neem dit eeue (Gelukkig is ons kanse deesdae goed om ‘n lang lewe te hê, so ons het baie tyd om te oefen.)
Mag ons almal hierdie week ‘n treetjie vorentoe gee op hierdie pad.

Een gedagte oor “Dagboek van ‘n depressievegter: Dinge wat depressie bevorder – Konsentreer op wat VERKEERD is

  1. Depressie is ‘n moeilike ding om te beveg. Ek vind dat werk nogals ‘n goeie teenvoeter is. Mens moet besig bly. Baie interessant.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s