Ek voel vandag so ‘n bietjie skuldig as ek dink aan die kinders wie se woede 35 jaar gelede in Soweto uitgebars het. Waar is die meeste van hulle vandag? Hoeveel van hulle deel vandag in die goeie dinge van die nuwe SA? Hoeveel van hulle se skoolloopbaan het net daar opgehou, sodat hulle nooit enigsins gevorder het in die lewe nie? En hier sit ek, salig onder my kombersie en geniet die vakansiedag, steeds netso onaangeraak deur hulle woede en pyn as destyds. Sou dit beteken die gaping tussen ryk en arm is maar nog netso groot soos destyds? (Hoewel ek wil lag vir die gedagte om myself as ryk te beskryf, is dit sekerlik wat ek is, gesien teenoor miljoene regtige arm mense in die land.)
Dit laat dink my natuurlik oor die konsep van vakansiedae as sulks. Vir my lyk dit redelik sinloos. Hoeveel mense neem deel aan aktiwiteite om sulke dae te vier? Swartmense, ja, op dae soos Jeugdag, ens. Maar die res van ons werk maar in die tuin of lê ‘n bietjie laat. Ek dink ook nie die godsdienstige vakansiedae het meer enige sin nie. Hoeveel mense wat hulself Christene noem, gee meer as ‘n vlugtige gedagte aan Jesus se dood en opstanding tydens die langnaweek van Paasfees? Watter persentasie woon ‘n kerkdiens by? Ek kry die indruk die oorgrote meerderheid van ons gryp die ekstra lang langnaweek aan om ‘n bietjie weg te kom – en in die proses vernietig ons mekaar op groot skaal op die paaie. Oor Kersfees wil ek nie eens begin praat nie …
Nee, ek is nie negatief vandag nie. Ek dink sommer net.
As men’s eerlik is, moet jy drown dat selfs voor 1994 het mense nie regtig dit waar oor die vakansiedag ingestel is, herdenk nie. Ek dink bv aan Krugerdag en Geloftedag. En die 6de April was mos Van Riebeeckdag as ek reg onthou. Maar ek dink wel dat ons toe meer die genade van Paasfees en die vreugd van Kersfees besef het.