RSS

Vadersdagstorie: ‘n Les vir Pa

15 Jun

Hierdie storie is die resultaat van die enigste breikursus wat ek nog bygewoon het. Dis ‘n hele paar jaar gelede deur Huisgenoot aanvaar, maar het op die ou end nooit verskyn nie. (Ek het darem die interessante diagonale blokkies – hulle noem dit building blocks – leer brei, maar besluit doodgewone blokkies is maar vir my bedoel!)

“NEE, MOENIE!  DIS TE KORT!”  skree die vrou vir Sybrand.  Maar helaas, hy het klaar geknip.

Sy’s eintlik heel aansienlik, maar hy kan nie regtig sien hóé aansienlik nie; daarvoor is die oorlogsverf te veel.  Kan vrouens dan nie self sien te veel grimering laat hul hard lyk nie?

Sy Elize was ‘n sagte vrou.  In alle opsigte.

Hoekom is so baie vroue tog deesdae so permanent op die oorlogspad? Dit voel vir hom vroue weet nie meer van pret nie; als is kompetisie.  Waar’s die dae tog toe máns gekompeteer het en die vrou die koffie aangedra het?

Hy weet hierdie tipe gedagtes is uit die heel oudste oude doos, maar soms kan hy die bietjie nostalgie nie keer nie. Niks is meer soos vroeër nie.

“Toemaar, dis nie die ergste nie, onthou net volgende keer,” word die oordeel oor hom darem versag.

Hy knik maar ewe gehoorsaam.

“Nee, nee, dis aan die verkeerde kant!”  ‘n Mollige vroutjie oorkant die tafel is nou onder skoot.  Hy kyk simpatiek hoe ‘n ligte gloed in haar nek opstoot; hy kan sweer haar hande bewe effens.

Rondom hom werk die vroue met stywe lippe en fronse van konsentrasie.  Hy het gedink dit gaan ‘n gesellige oggend met koffie en skinderpraatjies wees; nou’s dit ‘n vervlakste strafkamp.

Wys jou net hoe ‘n man hom kan misgis as hy sy groot voete op die vrou se terrein durf plaas.

JA, DIT BESTAAN NOG: Terreine van uitsluitlik manlike of vroulike dominansie, waar die ander geslag met moeite toegelaat en met argwaan geduld word.

Hy het in sy onkunde gereken die grense tussen mans en vroue se terreine het so versag dat niemand hulle eintlik meer opmerk nie.

Hy was verkeerd.  Genoemde grense is fris en gesond en aan die woel in mense se koppe.

Ja, in ons koppe wemel dit van die blokkasies.  En blokkasies doen presies dit waarvoor hulle daar is:  hulle blokkeer.  Hulle blokkeer allerhande edele en lekker dinge.  Soos kreatiwiteit, liefde, genade.  En pret.

Kyk nou maar net hoe sit en stoei hierdie groepie vroue op ‘n lieflike herfsoggend in ‘n stywe stilte met hul breipenne en veelkleurige bolletjies wol.  En niemand sien die son op die goue landskap nie.

Dis so duidelik soos daglig dat sy teenwoordigheid hulle ongemaklik maak.  Of is vroue maar netso kompeterend soos mans?

Ja, hy, Sybrand Johannes le Roux, rekenmeester van beroep, ware man in murg en been, sit en brei saam met ses vroue om ‘n tafel tussen rakke en rakke breiwol en hekelpenne.

Dis net ‘n dogter wat dit aan ‘n pa kan doen.  En sál sy die verhaal van sy lyding geniet!

“PA KAN MAAR KOPGEE, NATUURLIK is ek reg!” het sy meisiekind met sy oorlede vrou se mond gelag. “Natuurlik kan vrouens als doen wat mans kan doen, net beter.”

“Behalwe goed wat fisieke krag vereis,” het hy saamgespeel.  Dit was hoegenaamd nie die eerste keer dat hulle hierdie gesprek voer nie.  Op sestien is sy enigste oogappel ‘n verbete feminis.  Wanneer dit háár pas, natuurlik.

Sy’s uitgeknip haar ma, streke en al.  “Aag, Pááá, dis mos nou logies, dis nie waarvan ek praat nie.  Ek praat van verstandgoeters.  En fyn handwerk.  Enige mens kan swaar goed optel as hy oor ‘n spul spiere beskik, daar’s niks aan nie.”

Hy het maar nog ‘n rooiwyntjie geskink.  Teen sy beterwete gedwing om hom te staan en vererg vir die kind.  Sy geniet dit om hom uit te lok, dieselfde moedswillige streep van haar ma wat hom so aangetrek én geïrriteer het.

“Maar andersom werk dit nie – mans kan nié alles doen wat vrouens kan doen nie.”   Lekker vermakerig.

“Natuurlik kan ons!”  Hy was aan die warm word onder die kraag.

“Behalwe kinders kry.”  Triomfantlik.

“Maar dis mos logies,” het hy haar van haar eie medisyne gegee, “dis nie waarvan ek praat nie.  Enige mens kan ‘n baba kry as jy met die nodige organe toegerus is, daar’s niks aan nie.”

“Daar hét Pa my!”  Haar lag was soos altyd musiek in sy ore. “Maar daar’s ander goed ook … “

“Soos wat miskien, Slim San?”

“Soos … soos … naaldwerk doen of hekel of brei!”  Sy’t dit uitgeskater by die blote gedagte.

“Van die wêreld se beste ontwerpers is mans, Elzette!”

“Ek praat nie van ‘n paar begaafdes nie, Pa, ek praat van gewóne mans, soos Pa en Pa se gholfpelle.  Julle sal nie kan brei of hekel om julle lewe te red nie!”

Hy het opgestaan en hom seëvierend tot sy volle twee meter uitgerek:  “Dís juis waar jy die fout maak, ou sussie, hierdie pa van jou kan baie goed brei!”

“Wááát!”

Sy weet van sy kleintyd se langdurige siekte.  Maar hy het nooit vertel van die wankelmoedige serpe wat hy as elfjarige onder sy ma se leiding geproduseer het om die lang dae in die bed om te kry nie.  Dit was voor die dae van TV, en ‘n mens kan ook net sóveel legkaarte bou en sóveel stories lees.  Hy het later Springbok Radio se stories beter geken as sy ma, en dit wou gedoen wees.

Kan dit wees dat hy selfs as grootmens nog skaam is oor die breiery? Sy arme ma moes altyd sorg dat nie ‘n breinaald of wolletjie te siene is as sy maters kom kuier het nie.  En veral as Pa huis toe kom.  Hy’t hulle eenmaal met die breiery betrap en ‘n helse kabaal opgeskop.

Maar dit was donkiejare gelede; die vrou is intussen bevry en die man ook, hoewel hy nie dink hulle het dit al almal agtergekom nie.

Elzette het met blink oë na hierdie brokkie geluister en kop geskud vir haar oupa se engheid:  “Ek is darem bly Pa is nie so vertraag nie!”

“Jou oupa was nie gemeen nie, my kind, hy was bloot ‘n produk van sy tyd.  Daardie tyd het die mans nog mansdinge gedoen en die vrouens vroumensdinge.  Baie eenvoudig.”

“Baie boring, as jy mý vra,”  het sy pront verklaar.

“Ja, maar baie makliker vir almal.  Die pa het die gesin finansieel versorg en die kinders gefoeter wanneer nodig, en die ma het kos en liefde gegee.”

“Was Oupa rêrig niks lief vir sy kinders nie?”

“Natuurlik was hy lief vir ons, báie lief, maar hy het dit gewys deur hard te werk vir ons, definitief nie deur drukkies en soentjies nie.”

Sy’t hom summier om die nek gegryp:  “Dankie tog Pa is nie so nie.  Maar ek sweer Pa sal nie meer twee steke agter mekaar gebrei kry nie!”

En so het dit dan gekom dat hy vir Vadersdag van sy dogter die inskrywing vir ‘n breikursus gekry het.

‘n Gevórderde breikursus.

Hy was nog nooit ‘n man wat ‘n uitdaging kon ignoreer nie.

DIE MAN BREI JOU WRINTIEWAAR so goed soos enige vroumens. Die breipenne en helderpienk wol verdwyn omtrent in sy twee yslike hande, maar ‘n mens kan behoorlik sien hoe kry hy weer die slag ná ‘n aanvanklik wankelmoedige begin.

Brei is baie soos fietsry; as jy dit eenmaal kon doen, verloor jy dit nooit weer heeltemal nie.  Of soos soen.  Nie dat sy ooit weer die kans sal kry om dié lankvergete vaardigheid te beoefen nie.

Madelein beny hom sy selfvertroue, die moed om hier tussen die vrouens te kom sit en openlik so ‘n tipiese vroumensding te doen.

Komkommerkoel sit hy daar, steur hom nie aan die stram stilte en die onderlangse kyke van die vrouens nie.  Toe die instruktrise die tweede keer met hom raas oor hy aan die verkeerde kant verminder, vang hy Madelein se oog en knipoog stout.  Sy ontspan opeens; sy het ‘n bondgenoot gekry.

Die vrouens sit almal met hul monde vol tande en konsentreer verbete om die instruksies te volg.  Kan dit regtig die enkele man se teenwoordigheid wees?  Liewe land, ons leef mos darem nie meer in die Middeleeue nie!

Met teetyd kom hy reguit na haar toe:  “Sybrand le Roux, aangename kennis.”  ‘n Man wat sy pad reguit stap; wat weet wat hy wil hê, en dit dan kry ook.  Donker baard, dreigende wenkbroue, maar sagte oë.

“Madelein Bruwer.”  Haar hand raak weg in syne.

“Doen jy dit dikwels?  Sulke kursusse?”  Hy gee ‘n koppie tee aan, melk en suiker.  Die klein gebaar roer haar onverwags; sy’s nie gewoond om bedien te word nie.

“Wanneer ek enigsins kan, ja.”  Sy draai vinnig weg; sy ervaar ‘n vreeslike drang om haar hele patetiese situasie vir die man uit te spel.

Uit die hoek van haar oog sien sy hoe ‘n maer vrou haar hand met lang rooi naels op sy arm sit en die groot vraag vra:  “Wat op aarde bring jou hier uit?”

Daar’s goedige lag in sy stem:  “My dogter! My ma het my kleintyd leer brei tydens ‘n lang siekbed en Elzette het besluit ek sal dit nie meer kan doen nie.”

Madelein  strompel na buite, die goue herfslig in.  O, om so ‘n pa te kon hê!  ‘n Pa wat verspotte weddenskappe maak, wat práát met sy dogter, lág met sy dogter.

Sy het gedink die wonde het al toegegroei. Sy was verkeerd; onder die rowe etter dit.

Agter haar maak die vroue kring om Sybrand le Roux; die ys is gebreek.  Sy staan alleen buite en haar hart breek weer eens oor ‘n pa wat nooit ‘n pa was nie.

”YES!  YES!  YES!”  Elzette jubel onhoorbaar, in haar hart.  Sy voel vir vuis in die lug stoot soos die ouens op Wimbledon as hulle ‘n kishou geslaan het.  Haar vreugde kom sweerlik naby aan so ‘n tennisheld s’n.  Ongelukkig is groot geld nou nie betrokke by haar vreugde nie; om die waarheid te sê, is géén geld betrokke by haar vreugde nie. Wat dit net nog meer spesiaal maak.

“Geld is nie alles nie!” preek haar liewe pa tot vervelens toe.  Ten spyte van gruwelike groepsdruk begin sy hom al so half en half glo.  Ja, al verdien hy genoeg, het hulle nie die grootste huis, die vinnigste motor, die nuutste TV of die mees eksotiese vakansies nie.  Hulle het ‘n doodgewone huis, ‘n doodgewone motor, ‘n stokou simpele TV-stel en heerlike kampvakansies.  Maar liefde, dié het hulle in oorvloed.

Dat hulle nie meer vir Ma het nie, bind hulle net soveel vaster aan mekaar.

Maar sy is nie meer tien nie; sy is sestien en sy weet ‘n mens het ‘n maat nodig.  Pa is bitter eensaam, al sal jy hom nie sommer hoor kla nie.

Dis dié dat sy lus is vir bollemakiese slaan van blygeit oor sy stories van die breikursus waarin sy hom met haar seepgladde tong gepraat het.

“Kind,” vertel hy met smaak verder, “daar sit almal in doodse stilte verbete en brei en ek sien net hoe loer hulle onderlangs vir my!”

“Was daar darem talent, Pa?”

Sy sien dadelik dit was ‘n fout; hy’s nie ‘n aap nie, kry dadelik snuf in die neus:  “Elzette, is daar dalk ietsie wat jy vir jou pa wil vertel?”  Hy kry daardie uitdrukking wat kleintyd altyd tot ‘n vang-en-kielie-sessie gelei het, sy gesig dra iets soos ‘n laggende dreigement of ‘n dreigende lag, as ‘n mens so-iets sou kry.

Sy speel saam met ‘n kleindogtertjie stemmetjie:  “Nooit, Pa se doggie het mos nie geheime vir haar pappa nie!”  Kastig baie onskuldig, maar sy weet hy sien dwarsdeur haar.

“Elzette, soek jy dalk vrou vir my?”  Kastig baie streng.

“Ja, Pa!”

“Ek kan my eie vrywerk doen, klein klits!”

“Dit lyk nie vir my so nie.  Ma is al ses jaar dood en ek sien nie vir Pa enige move maak nie!”

“Ai kind, niemand kan jou ma vervang nie.”  Die hartseer lê dadelik weer oop en bloot op sy gesig.

“Ons wil haar nie vervang nie, Pa.  Maar Pa hoef nie stoksielalleen oud te word nie en ek dink ek’s nou mature genoeg om ‘n gawe stiefma te hanteer.  Let wel, ‘n báie gawe stiefma!”

Hulle lag albei toe hulle onthou van haar vieslike tantrum  die  enkele keer toe hy maar net gelýk het of hy dalk in ‘n vrou kan belang stel.  Nou voel sy skaam daaroor; dis natuurlik oor haar dat hy nog nooit weer enige aanstaltes gemaak het nie.

“Vertel nou van die vrouens, Pa!  Dalk ‘n mooi weduwee met ‘n oulike seun?”

“Almal  geholpe en in elk geval nie na my sin nie, my kind.  Die een se naels is te rooi, die ander se nek geplooi van maergeit, die een praat te veel en die ander te min.  Maar na hulle aanvanklike skok was ek ‘n hit, hoor!  Ek is op die hande gedra en van raad bedien en op die lys vir die volgende kursus!”

“Ag nee, my bedoeling was nie dat Pa ‘n harem van getroude tantes moet opbou nie!”  Hy trek ‘n vreeslike hartseer gesig.

‘n Pienkerigheidjie slaan meteens in sy nek op:  “Om die waarheid te sê, daar wás ‘n vroutjie sonder ringe.”  Haar bekkige pa is jou waarlik verleë.

“Hoe lyk sy?  Mooi?  Dik? Dun?”

Hy vererg hom sowaar gruwelik vir haar:  “Ag nee, Elzette, julle kinders van vandag is darem té gewigbehep!  Mooi en dun is nou wragtig nie meer al waarna ek in ‘n vrou soek nie!”

“So sy’s dik?”  Sy is darem ook nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie.

“Sy’s g’n dik nie, net effens mollig.”  Hy sit ‘n oomblik stil, nadenkend.  “En sag.”

Ma was sag.  Sag van hart en sag van lyf.  Sy en Pa sal nie met ‘n harde vroumens kan regkom nie.

“Het Pa darem haar naam uitgevind?”  Sy vra dit baie kasueel, gee kastig niks om nie.

“Madelein Bruwer.  Maar sy kan getroud wees, haar ringe op die wasbak vergeet het.”

Sy spring amper uit haar vel, maar sy hou my gesig so reguit soos ‘n strykplank.

“Yés!”  Saggies onder haar asem. “Yés!!”

MADELEIN SE PA IS VANDAG WEER EKSTRA MOEILIK.  Veeleisend.  Dis hier te kort en daar te lank.

Haar geduld is min.  Sy sukkel om die verwese ou man in die rystoel raak te sien.  Maar hierdie keer sien sy nie in haar kop die pa wat lank gelede na haar kamer gekom het om “ons geheimpie” te deel nie.  Nee, sy sien die man in die breiklas.  Sybrand.  Elzette se pa.

Toeval?  Bestiering?  Geluk?  Genade?

Sy weet nie.  Sy weet net sy kan die man nie uit haar kop kry nie.

Vergeet dit, treiter die alomteenwoordige duiweltjie op haar skouer.  Jy’s beskadig, jy kan nie ‘n ware vrou vir ‘n man wees nie, dit het jy tog self gesien.

Ja, arme Jaco het sy bes gedoen.  Maar dit was nie genoeg nie; want sy kon nooit haar donker geheim met hom of enigiemand anders deel nie.  Niemand kan hom kwalik neem dat hy uiteindelik  pad gevat het nie.  Die ongeluk was maar net die laaste strooi.

Natuurlik was hy besope agter die stuur.  Wie kan hom sy drinkery verkwalik met ‘n koue vrou en ‘n beneukte ou skoonpa in dieselfde huis?

Alles, alles haar skuld.  Dat juis Pa toe verlam moes wees na die ongeluk, het net haar lot verseël.  Sy sal hom oppas tot die dag van sy dood.

En daar sal van haar lewe weinig oorbly.

DIE MOOI, SAGTE VROU HET DIKWELS OP DIE stoep sit en brei of gevroetel in die tuin as Elzette namiddae verby stap huis of sport toe.  Die nare ou oom in die rystoel was altyd binne roepafstand.  Die vrou  het Elzette laat dink aan Raponsie in haar toring.  ‘n Gevangene.

Nie dat haar nou juis ‘n prins op ‘n wit perd is nie.  Maar hy’s darem nie onaardig nie, al kan hy seker skrikwekkend lyk as jy hom nie ken nie.  Vir koue pampoen skrik hy in elk geval nie.

Eers het Elzette net hallo gesê, later ‘n paar woorde gepraat, later het sy soms ingedraai vir koeldrank.  Die huis is vol wonderlike gebreide goeters, die tuintjie vol kleur en lewe, die ou oom ‘n verskrompelde, woedende stukkie mens wat hulle woordeloos sit en aangluur.

Hy regeer die tannie met ‘n ysterhand.

Hoekom?

Sy weet nie; hier’s goed wat sy nie verstaan nie.

ELZETTE HOU NET ‘N PAAR uur uit voor sy met die hele sak patats vorendag kom.  Sy’t die vrou geken en hom met voorbedagte rade uitgelok en gemanipuleer tot binne-in die breiklas.  Sybrand kry nie langer as dertig sekondes kwaad gewees nie, wil-wil glad bewoë word.  Wat ‘n voorreg om ‘n meisiekind te hê wat soveel omgee!

Toeval?  Bestiering?  Geluk?  Genade?

Hy weet nie; hy weet net dat hy en sy dogter onafhanklik van mekaar  dieselfde vrou ontmoet het en dat ons albei aangetrokke tot haar voel.  En dat sy geskei is.  Met ‘n befoeterde ou invalide-pa wat een of ander houvas op haar het.

Hoe nou gemaak?

Hulle sit koppe bymekaar en hulle maak ‘n plan.

Stadig, stem ons saam, stadigies met haar.

SO KOM DIT DAN DAT Sybrand deesdae dikwels vroeg-vroeg tuis is en tot sy vreugde en verrassing skielik gereeld met die oorgewig ou Labrador gaan stap. Natuurlik dikwels by die huisie met die sagte vrou en die kwaai invalide verby.

Maar nie te opvallend nie.  Groet net vriendelik en stap verby.  Knoop na ‘n week of wat eers ‘n praatjie aan.  Maak moeite om die ou oom te betrek.

Elzette doen haar deel stiptelik.  Maak gereeld ‘n tydjie vir ‘n kuiertjie.  Laat val gereeld ‘n brokkie oor haar grootwordjare sonder ma en haar gawe, eensame pa.   Maar ook nie té gereeld nie.  Draai haar sjarme oop op die ou man, en kom ook gou agter hy het weinig blaf óf byt nog oor.  Bied aan om met hom te gaan stap, gereeld, tot hy op ‘n dag grimmig instem.

Natuurlik  SMS sy die die oomblik toe sy die rystoel op gelyk grond het en gemaklik agter die oom kan stap.

Ou Brutus ken al die prosedure en kom stertswaaiend aan toe Sybrand die leiband van die haak afhaal.  Maar vandag stap hulle nie verby nie.

Vandag draai hulle in.

Madelein wag hom kalm in.  Natuurlik het sy dwarsdeur hulle plannetjie gesien, saamgespeel en geduldig gewag.

En die tyd gebruik om die proses van genesing te begin.  Die eerste terapiesessie was louter hel.  Nou gaan dit al beter; die rowe is afgeruk, die wond is skoon.

“Hallo, Madelein,” sê hy.

”Kom gerus binne, Sybrand,” sê hy.

Ou Brutus sak sugtend op die plankvloer neer.  Sy stapdae was van korte duur.

 

Etikette: , ,

2 responses to “Vadersdagstorie: ‘n Les vir Pa

  1. Son

    15/06/2011 at 15:00

    Dis ‘n vreeslike mooi storie. Jy kan dit gerus weer stuur vir publikasie.🙂

     
    • Alta Cloete

      16/06/2012 at 22:39

      ‘n Laat dankie van my kant af, Sonnetjie!

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: