Ek het die laaste paar jaar agtergekom ek kan heelwat meer doen om my gemoedstemming te beheer as wat ek altyd gedink het. ‘n Mens (en ek dink veral ‘n vrou) is mos maar geneig om te dink ons is tot ‘n groot mate uitgelewer aan ons emosies. Natuurlik is daar soms redes vir emosionele skommelinge waaroor ‘n mens geen beheer het nie, soos hormone of eenvoudig die gewone rampe en ellendes van die lewe. Maar ek het uitgevind deur te doen wat jy kan aan die klein dingetjies, kan jy jouself help om groter probleme beter te beheer. (Hettie Britz skryf na haar verkragting dat ‘n mens se gesondheidstoestand wanneer ‘n trauma jou tref, baie te doen het met jou hantering van daardie trauma.)
Dit bring natuurlik mee dat ‘n mens nie meer die verskoning het om ander dinge of mense te blameer vir jou mood swings nie. Wat my weer eens uitbring by die neem van verantwoordelikheid vir jouself. ‘n Mens is so geneig om na ander mense (veral jou arme man!) te kyk vir redding. En helaas is die ridders op die wit perde maar skaars! En die arme ridder het gewoonlik nie ‘n idee jy het hulp nodig nie – want gewoonlik is ons te trots om dit te sê. Ons wil so graag hê hulle moet sommer vanself wéét …
Hier is my lysie van dinge waarna ek moet kyk as ek voel ek begin afgly in die put. (En ‘n mens moet vinnig optree, voor jy te diep gegly het om meer duidelik te kan sien!)
1. Het ek vandag gesond geëet? En genoeg, maar ook nie te veel nie? Te veel suiker? Te veel koolhidrate?
2. Het ek al oefening gehad? Verkieslik in die buitelug. Iets waarvan ek hou, nie iets wat lyding behels nie!
3. Is ek besig met iets wat my bevrediging verskaf? ‘n Bedrywigheid wat vir mý sinvol is – nevvermaaind wat ander daarvan dink! Verkieslik iets skeppends. (Vir my tel huiswerk beslis nie as skeppend nie.) Dit kan ‘n ete se kook of ‘n kongres se reël wees … enigiets.
4. Het ek al vandag vir iemand anders iets gedoen? (En nee, die gewone huistake vir my huismense tel nie.) Iets vir iemand wat in een of ander opsig minder gelukkig as ek is.
5. Het ek al sinvolle kontak met mense gehad? Nie leë oppervlakkige of niksseggende praatjies (of skinder!!) nie – kontak wat dieper as die oppervlak strek.
6. Het ek al vandag gelag? Verkieslik saam met iemand vir wie ek lief is?
7. Is daar musiek in my lewe? (En nee, dit hoef nie noodwendig Springsteen te wees nie!! Dit kan Beethoven wees – of Nicholas Louw as dit moet …)
8. Is daar orde in my omgewing? Dit help selfs om net die rytjie skoene voor my kas haaks te skuif … En nee, ons praat nie van obsessiewe gedrag nie, net van doodgewone orde.
9. Het ek vandag iets afgehandel wat my al lankal irriteer? Betaal ‘n rekening, sorteer vinnig die tydskrifte, skryf ‘n e-pos … Dit werk om dinge te kan doodtrek in jou dagboek. En trek hulle fisies dood, hard en duidelik.
10. Is ek oormoeg? Plaas ek te veel druk op myself?
11. Te min geslaap? Of dalk te veel?
12. Het ek vandag iemand toegelaat om my te manipuleer of te misbruik?
13. Het ek ja gesê toe ek moes nee gesê het?
14. Is daar onsekerhede wat my teister? Kan ek dalk iets daaraan doen? Moet ek dalk iemand iets vrá i.p.v. net in angs en stilte wag?
15. Het ek al vandag iets gelees wat my plesier gee? Letterkunde of besigheid of hygroman (!!) – maak nie saak nie! En nee, die koerant TEL NIE! Tensy jy ‘n masochis is … 🙂
Natuurlik verg dit vasbyt om sover te kom om actually iets te DOEN aan hierdie lysie. Maar glo my, dit werk! Ek hoor graag van dinge wat vir ander mense werk. Onthou, hierdie is bloot my eie ondervinding – nie die alfa en omega nie!
Hi Marile
Weet jy dis nou net toevallig dat ek vanaand hier by jou blog ‘n draai kom maak het. Ek is self iemand wat gou depresief raak en die afgelope twee weke was ek siek met griep. Dit was erg, maar dit het my vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd die geleentheid gegee om introspeksie te doen. Ek het dinge vir myself begin uitklaar, en was dit ‘n bevryding. Dit het my gemoed geleidelik gelig. Ek het al so lank my pal blind gestaar teen my omstandighede. Altyd gedink as dit … en dat … eers verander, sal dit met my beter gaan.
Noudat ek dit aanvaar het, is dit ook asof ‘n groot las van my skouers af is. Verder het ek dit vir myself uitgemaak dat ek ‘n slaggie na myself gaan kyk. Ek is belangrik. Dit het my sommer 10 jaar jonger laat voel. Baie dankie dat jy jou pad met ons deel. Ek het nog nie alles gelees nie, maar ek gaan definitief dit doen.
Sterkte!
Groete
Ronelle
Wonderlik! En dis ‘n groot kuns om introspeksie op ‘n POSITIEWE manier te doen, hoor. Sterkte vorentoe!
Dit was weer ‘n tyd in die put en word al moeiliker om uit te kom. Wat vir jou werk werk ook vir my, die groot probleem is ek het soms nie die krag of moed om dit te volg nie. En dan daardie kannie omgee wat word nie deel. Ek is my eie grootste vyand. Hoe veg ek dit, het so ‘n goeie sin vir humor maar die velletjie is tog so dun. Kan net nie die selfdissipline beoefen om nie in dieselfde gat te val nie. Ek is gelukkig om hierdie artikel vannaand te kon kry het dit so nodig. Nuuskierigheid om verder te lees gaan my help. Is daar nie depressie hulpgroepe waar ek vir iemand iets kan betekn nie? Blessings, Tertia
Tertia, ek dink dis ons almal se probleem – ‘n mens weet dikwels wat om te doen, maar het nie die krag daarvoor nie. Daarom is medikasie ook NB, want dikwels kan dit ‘n mens daardie hupstootjie gee wat jy nodig het om te veg. En ook om mettertyd te probeer leer om BETYDS te begin terugkrabbel, solank jy nog ‘n bietjie asem het. Maar ek leer ook nog. Dalk moet ons aanvaar daar is hoogwater- en laagwatertye in die lewe en ‘n mens kan nie ALTYD bo wees nie? Dalk kan ‘n mens oefen om elke keer ‘n bietjie vlakker te val i.p.v. tot heel onder???
Daar is beslis ondersteuningsgroepe oral in die land. Kyk ‘n bietjie in jou plaaslike koerant en op die internet – ek is seker jy sal iets kry.
Baie sterkte, hoor!