Dagboek van ‘n depressievegter – Dinge wat depressie bevorder: Stilbly en sterkwees

Daar is seker mense wat van nature stil en sterk is. Ek is nie een van hulle nie.  Ten minste, ek het vir baie jare die rol gespeel. Maar dit was nie baie geslaagd nie. O, ek was baie oortuigend – ek het myself saam met almal rondom my oortuig! Maar mettertyd het ek agtergekom ek maak ‘n helse fout. Dis glad nie wie ek is nie.

Wie is ek? Sterk is ek nie regtig nie. (Behalwe af en toe in krisissituasies – vir ‘n rukkie!) En as ek stil is, is daar gewoonlik fout. Ongelukkig het ek baie jare geneem om dié eenvoudige waarheid agter te kom. En nog ‘n paar jaar om dit te aanvaar. Maar nou ervaar ek dit as baie bevrydend. Geen gesukkel om die masker op te hou nie. Geen gesukkel om tawwer voor te kom as wat ek is nie. En meteens werk ander mense ook nie so hard om hul maskertjies voor my in posisie te hou nie. Nie eens my storieboek-helde probeer dit doen nie. Nee, hulle sukkel soos die res van ons met hul swakhede en die vraag oor hoe om op aanvaarbare wyse uitdrukking te gee daaraan.

Wat gebeur as ‘n sensitiewe, emosionele mens probeer om na buite ‘n beeld van beheer en krag te projekteer? Eenvoudig – die persoon leef ‘n leuen. En as jy lank genoeg en met genoeg toewyding ‘n gesig vir die wêreld wys wat nie regtig jý is nie, is depressie amper onafwendbaar. Dink ek.

Moet ‘n mens dan die hele tyd vir almal vertel van al jou vrese en verlangens en geraamtes in die kas? Nee, ek dink nie so nie. Dit kan net wees dat jou geliefdes gou-gou begin vlug! ‘n Mens wat net die heeltyd oor homself praat, is ‘n vreeslike vermoeiende ding. Veral as dit oor sy ellende is. En wie van ons het nie ons eie ellendes (groot of klein) nie?
Maar dis sekerlik goed om een of twee of dalk meer mense te hê vir wie jy op gereelde grondslag kan sê hoe jy regtig voel. Sonder om veroordeel te word of met ‘n klomp wyse (of onwyse!) raad toegegooi te word. En sonder dat dit vandaar outomaties deur jou hele vriendekring en/of familie gaan versprei! As een van daardie persone jou significant other kan wees, des te beter. Kinders werk ook goed. Vriendinne natuurlik ook.

Ek is beslis nie ten gunste daarvan om die hele tyd met jou hart (en al jou ander binnegoed!) op jou mou te loop nie. Maar om oor iets te praat, bring eenvoudig meestal verligting. Om jou swakheid toe te gee, bring meestal ook verligting vir die luisteraar, want onmiddellik weet hy jy gaan met sy swakhede ook meer geduld hê.

In ons kerkdiens is vandag gesê die wêreld het ‘n groot behoefte aan genadige medemense. Ek dink as ‘n mens jou eie swakheid kan wys waar nodig, is jy ‘n treetjie nader daaraan om vir iemand anders ‘n genadige medemens te wees. En hy vir jou.

Een gedagte oor “Dagboek van ‘n depressievegter – Dinge wat depressie bevorder: Stilbly en sterkwees

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s