Toe ek ‘n jaar of drie gelede die eerste keer ‘n romanse (Die reuk van verlange) van Wilna Adriaanse lees, het ek dadelik geweet hier kom ‘n ding. Terwyl romanses ‘n redelik generiese produk is, was daar dadelik ‘n sterk individuele stem te hoor in hare.
Rebecca het dan ook aan my verwagtinge voldoen. Hoewel ek nie meer veel detail van die storie kan onthou nie, onthou ek die gevoel van pret baie goed. Sedertdien het Wilna se boeke dikker en ernstiger geword en sy het ‘n stewige plek ingeneem in Afrikaanse ontspanningslektuur.
Met Vier seisoene kind sluit sy aan by die neiging (wat moontlik by Nora Roberts begin het, ek is nie seker nie) om opvolgboeke te skryf oor newekarakters van ‘n vorige boek. Vir my persoonlik is dit asof hierdie tegniek die karakters werkliker maak vir die leser (en die skrywer), asof hulle regte mense is. Hier is dit die karakter Cato uit Met ander woorde wat ‘n beurt kry. Sy keer as bloedjong weduwee uit London terug na Stellenbosch om ‘n nuwe lewe te probeer begin. Haar twee vriendinne en die mans in hulle lewens is nog daar vir haar, en sy begin ook ‘n nuwe loopbaan as bestuurder van haar eie teaterrestaurant. Die verhaal verloop sonder veel verrassings, maar ek dink nie die bedoeling was om ‘n spannende verhaal met baie draaie en kinkels aan die leser te bied nie. Ek sien dit liewer as die verhaal van ‘n gewone vrou wat probeer om haar ou self weer terug te vind ná die lewe haar ‘n verskriklike slag toegedien het. Haar gevoel dat sy nie meer haarself ken nie, dat sy nie meer die mens is wat sy was nie, loop dwarsdeur die verhaal. Dit spreek my besonder aan, omdat ek ‘n vriendin na haar man se dood hoor sê het: “Ek wil dieselfde mens bly, ek wil nie ‘n ander mens word nie.” En sy het nie. Ek ken helaas ook iemand wat nooit weer haarself geword het nie en weet dus dit is ‘n wesenlike gevaar. (En moet asseblief nie vir een oomblik dink ek dink dis ‘n nietige ding om jou man te verloor nie!)
Die gedagte het egter vir my ‘n bietjie van ‘n dreuning geword en die herhaling daarvan net te veel. Daarsonder kon die boek dunner, maar sterker gewees het. Ek mis ook werklike karakterontwikkeling by Cato. Sy is ‘n wonderlike karakter en gee voortdurend glimpsies van die persoon wat sy was, hoofsaaklik deur ‘n baie besondere humorsin. Maar sy groei nie vir my werklik tot waar sy gereed is om weer die liefde (in die persoon van ‘n baie siniese, maar baie geloofwaardige man) ‘n kans te gee nie, sy dryf vir my so half soontoe. Eintlik dryf sy haarself so hard om net te kan voortgaan, dat ander mense moet ingryp om haar teen haarself te beskerm. Ek sou graag wou sien dat die karakter by daardie stadium kon verbykom en beweeg tot waar sy weer voel sy is in haar kern nog sý. Die probleem is natuurlik dat dit ‘n langer tydverloop nodig het om realisties te wees en dus nie so maklik is om in ‘n roman wat oor beperkte tyd strek, uit te beeld nie.
Dit is egter steeds ‘n besondere boek en ‘n monument aan al die baie vroue wat al die stukkies moes optel nadat hulle hul ander helfte verloor het. En die humor is deurgaans ‘n lekkerte, veral uit die mond van die bekkige Adriaan, loshande my gunsteling karakter.
Hi,jy som nou sommer my siening van die boek ook pragtig op !!