Random gedagtes: Om vir jouself te lag …

Die vertel van onderstaande storietjie is deel van my offensief om my swakhede aan die wêreld te toon (binne perke!) en nie die masker so perfek in plek te probeer hou nie. Waarmee die vermoë om vir jouself te lag nogal baie kan help.
Agtergrond: Manlief is vir die week weg, so ek en hond is alleen tuis. Hy bel gewoonlik laat saans en die gewoonte is dat hy tweekeer miss call, dan bel ek terug op my gratis minute. (Wat my met weemoed aan my ma laat dink, want die kontrak met baie gratis minute is aanvanklik spesiaal geneem vir haar weeklikse oproep.) Tweedens werk ek op die stadium met ‘n geleende selfoon en sukkel ‘n bietjie om sy alarm so vinnig en maklik te stel soos ek gewoond was. Kort-kort is hy op Repeat wanneer hy nie op Repeat moet wees nie, ens. (Verseker ‘n teken van die ouderdom.) Derdens is die luitoon en alarm se klanke vir my vreemd en simpel, maar ek spandeer ook nie die tyd om hulle te verander nie. (Waarskynlik ‘n goeie voorbeeld van hoe geneig ons is om oor iets te kla, maar nie iets daaraan te doen nie.) Vierdens is een van my skryfvriendinne vanoggend op Radio OFM in Bloemfontein, waar hulle een van haar boeke voorgelees het in die vroegoggendprogram en nou met ‘n nuwe een begin. Al die blogsusters van die Kaap tot Limpopo is oorgehaal om op die rekenaar saam te luister.
Dus: Ek stel die foon noukeurig vir 06:35, sodat ek mooi wakker kan wees as hulle om 6:45 afskop. En sak êrens rondom 23:00 in ‘n salige slaap weg …
Toe die alarm afgaan, is ek op en wakker en pyl op die rekenaar af. In my half slapende staat let ek nogal op dat die hond nie soos gewoonlik vroeg soggens entoesiasties opvlieg en wag om uitgelaat te word nie. Dink dis maar oor dit so lekker koud is, sy is net soos ek traer om op te staan vandat dit darem hier ook winter geword het. Haastig verskuif ek die luidsprekers sodat ek hul lekker by my bed het vir terugklim en luister. En roer per ongeluk aan iets wat  nie moes geroer het nie – morsdood is die internet. Vroetel lekker moerig in die massa elektriese drade rond tot alles weer kontak maak, wag vir al die liggies op die modem om weer aan te gaan … en terwyl die rekenaar aan die gang kom, vang my oog vir die eerste keer die horlosie. 23:45! Gelukkig kan ek nie onthou presies wat ek gesê het nie … Maar mooi was dit helaas nie.
Ek spring dus boos-boos terug in die bed en trek my kop toe en vertel myself niemand hoef te weet nie.  Net toe ek die humor van die saak begin insien, lui die telefoon en Manlief vra effens gekrenk hoekom bel ek hom nie terug nie. Loop ek daardie  tyd van die nag sowaar nog rond? Dis toe dat ek besef dit was nie die alarm wat op verkeerde tyd afgegaan het nie, maar Kiepie wat vir haar man se oproep gedink het dis die alarm.
Sela.
NS. Die gesprek op OFM was groot pret, ‘n slag vir Afrikaanse ontspanningslektuur  en ‘n deurbraak vir Romanza – as jy belang stel, luister by http://www.ofm.co.za/podcast.asp

Een gedagte oor “Random gedagtes: Om vir jouself te lag …

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s