Die Burger: Stockholm- versus sprokie-teorie deur Johan Smit 2011-05-13
Ek verwys na Gerrit Brand se vrae oor Suid-Afrikaners se fassinasie met die Britse koninklikes (DB, 11.05). Die antwoorde is eenvoudig en ver verwyderd van jul Stockholm-teorie. Vir hulle gaan dit oor ’n skouspel van beskaafdheid, tradisie, romantiek en hoop – die sprokie-teorie. Meer as ’n halfmiljoen van ons jong mense werk, studeer en jol in die VK; nie as gevangenes van moeder Engeland nie, eerder as bevrydes van Suid-Afrika. Dié geslag het die konsentrasiekampe en die sing van “God Save the King” in bioskope vergeet, of tyd se wisser van vergifnis het sy werk goed gedoen. Heelwat van hulle het die skouspel in die strate of Hyde Park gevolg. Daar is min dinge soos ’n mooi storie wat outydse waardes en romantiek versinnebeeld. ’n Ware sprokiesverhaal! ’n Regte prins wat op ’n gewone meisiekind verlief raak, jare met haar uitgaan, ouers vra, op die ou manier haar hand vra en dan ’n pragtroue hou met ’n regte koets en wit perde. Dit is ’n illustrasie van hoop. Vir baie Suid-Afrikaners is dit iets wat hulle leen en waaraan hulle vasklou terwyl hul eie vrede en berusting onder druk is. Vir een dag is die moor- de, wreedheid en onrus in ons land se skerwe stomp gemaak met ’n troue, ’n asemrowende rok, ’n koets en militêre musiek. Ons het hoop nodig. Soos Vaclav Havel, voormalige Tsjeggiese president en bekende handelaar van hoop, eens gesê het: “Hope is the feeling that life and work have a meaning … I cannot imagine that I could strive for something if I did not carry hope in me.” In ’n dinamiese wêreld soos ons s’n is dit soms goed om te weet daar is nog iets soos tradisie en ’n ouwêreldse manier van dinge doen. Dis soos ons ’n beskawing wil sien. Nie brandende motorbande, jillende klipgooiers en brandstigters nie. ’n Beskaafde manier van optree. Dit wás ’n event. ’n Skouspel van hoop met ’n leitmotief dat niemand ingeperk kan word deur sy geboortestand, agtergrond of welvaart nie – slegs deur die omvang van sy hoop. Terloops, ’n mens behandel Stockholmsindroom deur bevryding. Ons is!
Johan Smit Kaapstad
Ek vermoed dis dieselfde rede hoekom romanses wêreldwyd die grootste verkopers is … Ons het soms ‘n sprokie nodig om die werklikheid te kan hanteer.
Marile, ek dink nie Gerrit Brand se artikel was bedoel om iets oor die Stockholm-sindroom te kenne te gee nie, eerder om ‘n frustrasie met die bewondering van koninklikes te probeer bewoord vanuit sy politieke perspektief, en ek hou van sy artikel oor daardie rede.
My verklaring vir die koningsbewonderingsindroom onder Suid-Afrikaners en Afrikaners spesifiek, is dat Nasionale Pers in die apartheidsera doelbewus bewondering vir die koninklikes onder hul lesers gekweek het om ‘blanke’ eenheid te bevorder. Daar is dus iets diep rassisties daaraan, soos mens ook kan sien aan Johan Smit se frase hierbo: “Nie brandende motorbande, jillende klipgooiers en brandstigters nie”.
Mense soos Johan Smit hou hulle blind vir die onreg wat daardie klipgooiery veroorsaak het, en wil niks weet van die bitter toestande waaronder ons armes lewe nie.
Nie dat ons nooit bietjie moet wegkom van die werklikheid nie. Dit is waar, “Ons het soms ‘n sprokie nodig om die werklikheid te kan hanteer”.
Dis net net dat die koninklikes ‘n vals sprokie verteenwoordig.
Vals omdat hulle self uit ‘n tradisie van verdukking kom, en steeds bande het met, of tot onlangs gehad het, met diktators wat letterlik hul eie mense uitmoor, soos die Bahreinse koningshuis, en selfs Ghadaffi.
Dis ook vals omdat koninklikes, die Britte veral, ‘n regverdiging bied van die idee dat ongelykheid aanvaarbaar is. Hulle inspireer elke Afrika diktator wat homself verryk en spoggerig lewe terwyl sy mense krepeer.
Ons het sprokies nodig, maar dit moet sprokies wees wat ons inspireer om die wereld ‘n beter plek te maak, nie ‘n ongelyke plek nie.
Die liefdesverhale van verdruktes en rebelle inspireer my, byvoorbeeld die pragtige liefdesverhaal in George Orwell se 1984.
Ook aktiviste se liefdesverhale, byvoorbeeld in Ken Loach se flieks ‘Land and Freedom’ en ‘Carla’s Song’ is daar liefdesverhale wat roerend mooi is.
In vergelyking hiermee is die liefdesake van die glansrykes vir my ondraaglik vervelig.