Ons obsessie oor die koninklikes is mos gek – Die Burger: 2011-05-11 01:
Weet sy in watter familie sy introu? vra Robert Brand op Facebook oor ene Catherine Middleton se (toe nog voorgenome) huwelik met die soldaat William Louis. En vir Suid-Afrikaners se fassinasie met die doen en late van Britse koninklikes bied Johannes de Villiers, ook op Facebook, die Stockholmsindroom as verklaring aan. Laasgenoemde verwys na die verskynsel dat gyselaars simpatie met hul gevangenemers ontwikkel en hulle sterk met dié mense vereenselwig. De Villiers het gelyk. Hoekom anders sou burgers van ’n Afrikaland wat al in 1961 onafhanklik geword het so intens met hul voormalige koloniseerder meeleef? In Suid-Afrika noem ons die tradisionele Zoeloe-monarg “koning Goodwill Zwelithini”, maar sy Britse ampsgenoot is sommer “die koningin”. En die familiariteit! Dis “Kate” links en “Kate” regs asof die hertogin van Cambridge ons persoonlike vriendin is. Een omroeper by ’n Suid-Afrikaanse geselsradiostasie pink tydens die regstreekse uitsending ’n traan weg. “I know Diana would have loved this.” Soos wanneer ons sê: “Dink net hoe lekker sou ou Piet daardie grap geniet het!” Of dalk eerder soos: “Toe ek gister by die Ruperts geëet het…”? Ek onthou verhale van my ma oor die jare voor republiekwording toe “God Save the Queen” by elke bioskoopvertoning gespeel is en van die teenwoordiges verwag is om dan op te staan. My ouers se generasie Afrikaners – ten minste dié van hulle met ’n bietjie selfrespek – het dan pertinent bly sit! Reeds in die 1920’s (so skryf Jan-Jan Joubert ’n keer in Die Burger) het die destydse Pakt-regering, ’n koalisie tussen Afrikanernasionaliste en sosialiste, voor die Britse koningin se besoek aan ons land versoek dat geen titels deur haar aan Suid-Afrikaners toegeken word nie. Op dié punt het nasionaliste se weersin in imperialisme en linkses se afsku in klassisme mekaar ontmoet. Dis ook nie net ’n “wit ding” nie. Saam met die Boere-vroue en -kinders in die Britse konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog het tienduisende swart Suid-Afrikaners gesterf, om van die Britte se moorddadige oorloë teen onder meer die Xhosas en Zoeloes nie eens te praat nie. Rassewetgewing om swartes eiendomsreg in “blank SA” te ontneem, is eerste deur Cecil John Rhodes as premier van die Kaapkolonie ingestel, en ná die Anglo-Boereoorlog het Boer en Brit saam besluit om in die Unie van Suid-Afrika geen stemreg aan swartes te gee nie. Selfs meer as Afrikaners het swartes dus rede om hulle nié met Britse sentimente te vereenselwig nie. Dit gaan dieper. Watter mentaliteit is dit om spesiale ontsag en liefde te hê vir enige koninklikes, hetsy dié van jou koloniseerder of van jou eie volk? Alle koninklikheid is per definisie elitêr, ondemokraties en die produk van magsvergrype in die verlede. Gestel ek en my vriende sit om die braaivleisvuur en ek stel voor: “Hoekom word ek nie julle almal se baas en vat ’n klomp van jul geld en besittings vir my nie? Julle kan dan altyd voor my neerbuig wanneer julle my sien, en ek hoef die res van my lewe nie ’n steek werk te doen nie.” Iets sê vir my ek sal hulle nie sonder geweld kan oorreed nie! Op Speakers’ Corner in Londen het ek eenkeer ’n toespraak van ’n boemelaar gehoor waarin hy vir die wettiging van diefstal pleit – op grond van die feit dat die hele Britse samelewing op diefstal berus. ’n Stem van redelikheid! Of is die Europese koningshuise se uitspattige rykdom aan hul harde werk en entrepreneurskap te danke? Het ek dan iets teen “Kate” en “William”? Wel, hulle sou van hul titels kan afstand doen… Maar nee, ’n mens kan jou familie nie kies nie; ek gun hulle alle lewensvreugde. Maar hoekom moet hul troue ’n event in óns lewe wees? Hoekom nie eerder ons eie verkose staatshoof, Jacob Zuma, se volgende troue regstreeks op die televisie uitsaai en weke lank as ons eie familiefees vier nie? Hoekom het selfs die internasionale ikoon-om-’n-rede Nelson Mandela se troue met Graça Machel nie naastenby die aandag getrek van twee Britse rykmanskinders s’n nie? ’n Vraag aan alle sielkundiges: Hoe behandel ’n mens die Stockholmsindroom.
Dr. Brand is ’n teoloog van Stellenbosch. Sy blog, DinkNet, kan by http://www.litnet.co.za gelees word. – Die Burger