Goeie Afrikaner-kinders van my geslag is grootgemaak om hard te werk en altyd hul beste te gee. Die meeste van ons se ouers het uit relatiewe armoede uitgestyg deur loutere en eerbare harde werk. Vandag hoor ‘n mens dikwels van Afrikaanse jongmense wat oorsee uitstaan a.g.v. hulle sterk werksetiek, iets wat deesdae nie oral ewe volop is nie.
Ongelukkig gaan ‘n behoefte om jou werk PERFEK te doen, soms saam met daardie werksetiek. Party van ons se ouers het dalk baie van ons verwag, veral ook omdat ons dikwels die eerste geslag was wat die geleentheid tot naskoolse studie gekry het. Party van ons (nudge, nudge, wink, wink … ) het grootgeword sonder aanmoediging en positiewe versterking – nie weens ‘n gebrek aan liefde nie, maar weens ‘n vrees om windgat (pragtige Afrikaanse woord vir my!) mense van ons te maak. Ons ouers het dikwels nog so hard gespook om ons gevoed en geklee en geleerd te kry, dat daar definitief nie tyd en energie was vir werk aan ‘n kind se selfbeeld nie. Vandag weet ons egter hoe maklik hierdie benadering daartoe kan lei dat ‘n kind nie voel hy word aanvaar ten spyte van sy tekortkominge nie, en sy lewe lank goedkeuring probeer verkry deur homself disnis te werk en onrealistiese verwagtinge van homself te hê.
Hierdie is maar ‘n paar van die dinge wat kan lei tot perfeksionisme. Die probleem is dat ‘n perfeksionis homself opstel vir mislukking. (Set yourself up for failure – hoe vertaal ‘n mens dit?) Met ons verstand wéét ons niemand is perfek nie, maar ons probeer nog steeds. Dit lei soms daartoe dat ons 90% van ons tyd spandeer aan die laaste tien persent van ‘n taak se kwaliteit. Dikwels weet ons nie wanneer om op te hou werk aan iets nie, en hou aan en aan om klein veranderinge aan te bring – en spandeer tyd wat aan iets anders bestee kon gewees het. Soms lei dit daartoe dat ons liewer ‘n taak vermy, omdat ons mislukking vrees. Want alles wat nie PERFEK is nie, voel vir ons na mislukking. ‘n Tweede plek is dieselfde as verloor. ‘n Punt van kritiek kanselleer al die positiewe terugvoer uit.
Wanneer jy voortdurend voel jy is nie goed genoeg nie, is dit die maklikste ding ter wêreld om jouself met negatiewe selfspraak te vergiftig: Ek is nie goed genoeg nie … Ek sal dit nooit regkry nie … En voor jy jou kom kry, het die depressieduiwel ‘n vastrapplekkie gekry.
Volgende keer: ‘n Mens kan doelbewus daaraan werk om minder perfek te wees!
Ek weet PRESIES waarvan jy praat.
Maar ek dink tog jy kan die depressieduiwel besweer. Soos die meeste ander duiwels …
Ja, en dan kan die kleinste van kleinste foutjie jou soos die GROOTSTE mislukking ter wereld laat voel!
Ek bid op die oomblik doelbewus daarteen, omdat dit ‘n mens so kan verniel.
Dankie dis ‘n FANTASTIESE inskrywing!
Ek stem saam met toortsie, hierdie is ‘n fantastiese inskrywing, mooi dag vir jou.
As jy reeds depressief is, kan die bietjie druk van ‘n eenvoudige taak ‘n mens tot op die rand van selfmoord dryf.