Ek het vir jare en jare verbete weggesteek. My man en my ma het geweet, en dis omtrent al. En ook maar net omdat dit onmoontlik was om dit vir hulle weg te steek. Ek onthou dat ek vir eersgenoemde probeer verduidelik het. Ek is ewig dank aan hom verskuldig vir sy volgehoue pogings tot begrip. Jare later het hy die (vir my) onvergeetlike woorde geuiter: “Ek glo in depressie soos ek in God glo – ek kan dit nie sien nie, maar ek weet dit is daar.” Dit spreek vir my van ‘n man wat regtig probeer verstaan. En ek weet daar is baie wat eenvoudig nie probeer nie.
Met my ma kon ek ongelukkig nooit openlik daaroor praat nie. Al het ek geweet sy blameer haarself (soos ouers maar maak) en het gevoel sy het dit aan my oorgedra. ‘n Briefie wat sy vir my geskryf het na ek in die hospitaal beland het, is vandag een van my kosbaarste besittings. Vandag wens ek sy kon die kanse tot inligting, terapie, ondersteuning, kennis en groei hê wat ek vandag ervaar. Destyds was daar nie ‘n keuse nie – jy moes maar net aanfoeter en deur jou dae probeer kom. Wat sy na die beste van haar vermoë gedoen het. En in die proses sewe kinders en armsvol kleinkinders grootgemaak het. Saluut, ouma Sannie!
Toe breek die krisis aan en ek beland in die hospitaal. En my man moet my skoolhoof bel. En hy moet dit in die personeelkamer aankondig. Out in the open! Vandag kan ek glimlag daaroor – niemand het eintlik met my daaroor gepraat nie, want niemand het geweet wat om te sê nie! Maar die seekoei was minstens wat myself betref, uit onder die tafel. ‘n Paar jaar later het ek eers werklik besef dat dit die begin van ‘n nuwe pad vir my was. ‘n Pad waarop dit o.a. al hoe makliker geword het om my skanse en maskers en voorgee af te gooi en vir ander mense my swakheid te wys. ‘n Pad waarop dit vir ander mense al hoe makliker geword het om hul eie swakheid voor my te wys. ‘n Baie bevrydende pad.
Maar ek praat steeds nie sommer met enigiemand daaroor nie. Dis glad nie vir my moeilik om hier daaroor te skryf nie, maar in ‘n geselskap sal ek nooit sommer daaroor praat nie. En wanneer ek in die put beland (ja, dit gebeur nog af en toe) kan ek dit steeds vir niemand sê nie. Dalk is dít die donkerste oomblik van depressie – die absolute alleenheid. Ook dat dit jou so volledig op jouself fokus dat jy dit feitlik onmoontlik vind om na iemand uit te reik. In daardie opsig is dit beslis ‘n baie selfsugtige toestand.
Een van die redes hoekom ek stilbly, is steeds dat ek nie die etiket van depressielyer wil dra nie. Want ja, hoewel dit baie meer sosiaal aanvaarbaar en bekend geword het, etiketteer mense jou (en allerhande ander mense met allerhande ander skete) steeds en beoordeel (maar ek dink darem nie VERoordeel nie!) jou volgens daardie etiket. Ek ek wil net as mens, as ma, as skrywer beoordeel word, nie op grond van my probleme nie.
Vir my persoonlik het geheimhouding dus nie gewerk nie. ‘n Probleem wat gedeel word (met die regte mense!), word eenvoudig net draagliker. Maar ek glo nie daaraan om dit los en vas met al wat leef te bespreek nie. En baie beslis NIE om daaragter te (probeer) skuil nie.
Maar soos met alles in die lewe, is dit hier ook belangrik dat elkeen uitvind wat vir hom of haar spesifiek die beste werk.
Van my gesinslede weet ook dis daar, hulle kan dit “sien”, alhoewel hulle dit glad nie kan verstaan nie/ dit gelukkig nie aan eie lyf ken nie. Die persoon wat dit die beste probeer begryp, dink ook selfs: ..”dit help nie om depressed te wees nie”. En ‘n mens het nie altyd ‘n keuse nie, veral nie as die chemie nie in balans is nie.
Ons almal het maar ons probleme, en ek probeer nie depressie as “net nog ‘n persoonlike probleem” afmaak nie. Wat ek egter in my eie (tot dusver kort) lewe geleer het, is dat ‘n mens die wêreld kan binnegaan sonder om jou probleme op die straathoeke uit te basuin en jou eie probleme op jou medemense, bo-en-behalwe die laste wat hulle reeds dra, te dompel.
Ek betree die wêreld daagliks sonder ‘n sogenaamde “masker”; ek vat dinge soos dit kom. As ‘n gesprek in ‘n rigting draai wat my probleem mag raak, gaan ek nie ‘n punt daarvan maak om my probleme aan die geselskap bekend te maak nie, maar as dit nou daartoe kom dan moet dit nou maar uit. Ek draai ook in daardie geval geen doekies om nie. Dit is soos dit is; verwerk dit soos jy goeddink.
Ek handhaaf ‘n voortdurende bewusheid van my tekortkominge en sodoende maak ek stelselmatig vrede met dit wat ek nie aan myself kan verander nie.
Maar ek besef ook dat ander mense se laste dalk meer oorweldigend as my eie mag wees. En dalk is dit nie so maklik om iets in die range van depressie van jou naastes te versteek nie.