Hierdie storie het in die Huisgenoot van 13 April 2006 verskyn, maar jare tevore al sy ontstaan gehad in die tyd toe ek ‘n tuisbly-ma en teler van miniatuurkonyne was. Aanvanklik was die storie ook meer godsdienstig van aard – waarskynlik ‘n bietjie prekerig as ek nou daaraan dink. Toe ek dit jare later oorskryf, was dit interessant om te sien hoe my styl intussen verander het. Hopelik ten goede.
Soos dit maar gaan, is daar heelwat raakpunte met die werklikheid. Daar is katte en papegaaie, tienerseuns met kitare, ‘n oorgroeide heining, ‘n skoolliefde met die bynaam Tiekie … Maar die res is suiwer fiksie. Dis ook die enigste storie oor bejaardes wat ek nog geskryf het, iets wat ek graag eendag weer sal wil probeer.
“Kietsie-kietsie-kietsie!”
Geen reaksie.
Ek voel by die minuut meer belaglik, al kan g’n mens hier ‘n oog lê op my nie. Drie grys Vibracrete-mure en een verwilderde heining vorm my enigste skanse teen die aanslae van die buitewêreld.
Ek sit stywerig terug op my hakke. My hare klou klam aan my voorkop. Lanklaas geknip; onversorg. Regte ou heks vir die buurt se kinders. Ja, hulle is deesdae lugtig vir my, en met rede ook. Van my kinders finaal landuit is, is my lont bitter kort, en my tong vlymskerp.
Waar’s die dae toe my buurman mý kapittel het oor die kinders wat in die straat speel en die rugbybal in sy simpele ou tuintjie skop? En dit terwyl my eie tuin onder al die seunsvoete mooier was as syne!
Mooi dae was dit, vol lag en beweging en kleur. Dit besef ek nou; tóé was dit alles behalwe maneskyn en rosegeur.
Deesdae is ék die een wat selde lag en chronies sonde met die bure het. Terwyl beweging al moeisamer en my dae onstuitbaar gryser word.
As dit nie die jonges op die noordelike front se elektriese kitare is nie, is dit die gay paar aan die ander kant se spul papegaaie wat van vroeg tot laat sit en gil op die swerm katte waarmee die arme goed die erf moet deel. Of operamusiek wat in golwe oor my breek as die jappie aan my oostekant op ‘n Vrydagaand sy rooiwyntjie skink en begin hout kap en vuurmaak en ontlaai voor hy die volgende week van stres en geldmaak kan aanpak. En hy kap en stook strykdeur tot Sondagaand, altyd met klassieke musiek aan. Hárde klassieke musiek.
Deesdae is ons soos ‘n sak vol onpaar skoene in hierdie straat: iets van als, en niks pas by niks. Vir ewig verby is die dae toe almal Afrikaans en middelklas en baie wit en behorende tot die regte kerk en die regte party was.
Deesdae ís daar nie meer ‘n regte kerk of regte party nie. Al die ou sekerhede het getuimel en ons oues van dae spartel soos halfversuipte rotte om kop bo water te hou. Finansieel én emosioneel.
Ek buk moeisaam en loer weer onder die oorgroeide heining in. Was daar ‘n roering? My verbeelding?
“Koesjie-koesjie-koesjie!”
Geen reaksie.
Hoe roep ‘n mens in elk geval ‘n konyn?
Ek is skoon aan die simpel raak. Ou vrou wat dink sy’t die Paashaas gesien. Asof die naderende Paastyd my nou eintlik raak; my geestelike lewe is so verdor soos my agtertuin.
Met my hand op my kruis stryk ek sugtend aan terug huis toe. Die lewe het alweer vroegdag sy agterent vir my gedraai.
Als is ekstra befoeter van die spul skouhase en hul baas hier oorkant ingetrek het.
‘N MENS BLY MAAR ‘N mens, al baklei ons ook hóé hard teen al die ou klein (en groter) swakheidjies. Die gees is altoos gewillig, maar die vlees bly mos maar swak. Ewentwel, so staan ek toe ook maar met die puntjie van die kantgordyn in die hand toe die meubellorrie hier oorkant intrek. Dis tog net natuurlik om besorg te wees oor wie kom intrek, veral aangesien jy deesdae letterlik enigiets kan verwag in ons eens respektabele buurt.
Maar ek het nie vir hóm verwag nie.
Kom so ewe knap na die meubelwa hier aangesit in ‘n wafferse blink kar, kompleet met peperduur persoonlke nommerplaat: TIEKIE WP.
Ek moes ‘n ekstra lepeltjie suiker in die beker tee inroer; skoon die bewerasie gehad. Toe het ek lank gesoek na die ou boksie, diep agter baie jare se leefgoed weggepak, met die seëlringetjie en die outydse tiekie aan die kettinkie.
‘n Mens se eerste liefde vergeet jy nooit.
AS HY NET NIE SO goed behoue gebly het nie. Soos die jare aanstap, vertel ‘n mens mos maar graag vir mekaar die ou storietjie van goeie wyn wat met die tyd net meer beleë word. Maar toe Dawid uit sy blink wa klim, toe sien ek hy is een van die uitverkorenes met wie dit regtig so gewerk het: figuur nog kiertsregop en skraal, yslike bos sout-en-peper hare, gesig wel aangeraak deur die ouderdom, maar hoegenaamd nie verwoes nie.
Ek was nie so gelukkig nie.
Hy’t sekerlik ‘n makliker lewe gehad as ek. Dalk het hy beter keuses gemaak as ek. Maar nee, die beslissende keuse is vìr ons gemaak.
Hoe lank terug? Ek werk uit: Kort duskant vyf-en-vyftig jaar. Die goue dae van daardie vervloë somervakansie staan my meteens weer helder voor die gees. Elke omhelsing, elke skelm soen, elke gefluisterde belofte.
En uiteindelik net verlatenheid en trane.
EK SAL MOET LOOP Sê van die konyntjie. Een of ander tyd sal ek hom in die gesig móét kyk. Ek is hom ‘n kortkop voor; sover ek weet is hy nog salig onbewus van my teenwoordigheid hier oorkant sy nuwe plek. Ek moet dit benut, die verrassingselement uitbuit.
Onthou hy ooit? Sal hy my ooit herken?
Natuurlik onthou hy. Dit was sý hand wat die tiekie op die sypaadjie opgetel het, sý oë wat vol jeugdige voortvarendheid geblink het toe hy dit laggend na my toe uithou: “Ons laat maak ‘n gaatjie hierin, dan kan jy dit onder jou skoolklere ook dra. Tot tyd en wyl ek ‘n verloofring aan jou vinger kan steek.”
Ek het die verspotte ou kettinkie vir jare gedra, selfs toe ek al met Johannes getroud was. Ek het nie vergeet nie.
Dawid blykbaar ook nie: TIEKIE WP.
EK WEET DIS WAT EK nodig het in my lewe: struktuur. So sonder verpligting of afspraak slof ‘n mens alte maklik geheel en al doelloos deur die dae. Kom aan niks, het lus vir niks. Met Johannes dood en die kinders weg is daar vir my g’n doel meer oor nie.
Vanmôre is daar darem ‘n bietjie meer vuur in my ou lendene. O, om weer vyf-en-vyftig jaar gelede se vuur te hê!
Speel met vuur, en jy kan maar weet jy gaan jou vingers verbrand.
Ek sluk my eensame bakkie pap vanoggend vinnig af, begin naarstig opruim, stryk ‘n netjiese tabberd. Netnou besluit hy om by al die bure te kom aanklop op soek na die wegloper, spekuleer die matriekdogter van meer as ‘n halfeeu gelede. Tien teen een het hy die klein swernoot nog nie eens gemis nie, teem die vereensaamde ou vrou van die hede.
Toe Johannes se staanhorlosie half nege slaan, skakel ek my bure se salon. Natúúrlik is daar ‘n plekkie vir ‘n lekker was en knip vir my, en gaan ons vandag bietjie waag met ‘n lekker rinse vir die ou grys kop? ‘n Mens kan nie help om te glimlag nie.
Terwyl ek gereed maak, bly die gedagtes maar dwaal na toentertyd se dinge. Daardie dae was ons nog nie so voorwaarts soos vandag se jongklomp nie; hy het die derde dag eers toevallig langs my op die trein beland.
Ek is by die toonbank met mooimaakgoed geplaas, hy oorkant by die mansklerasie. Die ruimte tussenin het van die eerste dag af gekraak van die elektrisiteit. As ek vir ‘n kliënt ‘n titseltjie parfuum uit die Tester-botteltjie aanspuit, het ek gesorg dat my profiel teen nét die regte hoek na Mansklere gedraai is, dat die beweging van my hande kalm en grasieus is. Hy was al ‘n student; ek kon nie bekostig om my soos ‘n bakvissie te gedra nie.
Terwyl hy geduldig wag dat sy klandisie presies die regte grys broek en wit hemp uit die rakke en rakke vol grys broeke en wit hemde kies, het hy met die handpalm die Brylcream-kuif plat gevee en gesorg dat sy oog myne vang.
Ja, ons het presies geweet wat ons doen. Ons kan niemand verwyt nie.
My hare, my grootste bate, het ek elke aand honderd keer geborsel en elke naweek gewas en met suurlemoenwater gespoel, liefdevol in die son drooggemaak.
Maar my hare kon nie die letsel bedek nie.
Hy het nooit sy voet by my ouerhuis gesit nie, al was dit net straataf van sy losiesplek. Ons tydjies saam het net aan ons behoort, aan ons alleen. Die stampende voorstedelike trein, die eekhorings en versteekte bankies van die Kompanjiestuin, die draaiende Kaapse meeue het nie geklik nie. Pa was doodtevrede toe ek soms laat moes werk vir voorraadopname. In daardie dae was pa’s nie gewoond hul opgeskote dogters lieg maklik vir hulle nie; kinders het hul plek geken.
Mý plek was by Dawid; ek wou hom met niemand deel nie.
Ek het my aangematig; ek moes geweet het ‘n man soos Dawid is my nie beskore nie.
Ons het afskeid geneem met trane en beloftes. Ek het nooit weer van hom gehoor nie.
JEREMY EN JEROME ONTVANG MY soos ‘n eregas. En toe dit by die betaalslag kom, wil hulle van niks weet nie: “Nee, nee, los! Ons het die laaste tyd hoeka so geworry oor jou! Gelyk of jy aan die boedel oorgee is, het hóélank laas kom kla oor die katte wat jou tortelduiwe vang of die papegaaie wat jou wakker skreeu.”
Dis waar, my kla-besoeke het gewoonlik omgesit in ‘n yslike gekuier. Maar die laaste tyd het ek nie fut gehad nie; die eensaamheid het behoorlik nes geskop in my binneste, ek was onmagtig om uit te breek.
Geknip en gerinse en wonderbaarlik opgekikker word ek afgesien met ‘n ondeunde oogknip: “Het jy gesien watter hunk het oorkant ingetrek, Buurvrou? Hoe lyk dit, wanneer gaan jy vir hom ‘n ietsietjie oorvat?” G’n kastig eerbiedige ge-tannie of stywe mevrouery van hierdie twee af nie; dis net darling voor en skattebol agter, en die vrouens eet uit hulle hande. Ek ingesluit.
“Ek dink een van sy konyne is by my in die tuin,” verklap ek voor ek die wag voor my mond in posisie kan kry.
“Aits, maar dis mos net wat ons nodig het! Kan ons kom help vang vanaand, dan stap ons almal bietjie oor, hoe lyk dit?” Die stemme slaan skoon deur van pure plesier.
Ek knik gedwee; daar’s immers veiligheid in getalle.
KNAP NA DIE MEUBELWA EN Dawid self het die bakkie met die hokke stilgehou. Van my pos agter die kantgordyn het ek verstom gekyk na die verskeidenheid gediertes: van yslike wollerige monsters met ellelange ore, tot kleintjies met die dierbare ronde gevreetjies en kort oortjies van die Paashaas wat later in my tuin kom skuil het. Wat ‘n stokperdjie vir ‘n ou man, het ek gedink. Ek hoop nie hy éét die arme goed nie!
Of ja, hy kan hul gerus maar eet ook wat my betref. Ek háát hase. Of konyne dan, die een is vir my soos die ander.
En gister gewaar ek toe vir die eerste keer die wittetjie in my agtertuin. Moes seker iewers deur ‘n skrefie geglip het. Salig aan die wei op my verwaarloosde stukkie grasperk as hy nie weet ek loer vir hom nie. Maar net ‘n beweging is genoeg om hom soos blits onder die heining in te stuur.
Daar was ‘n tyd toe my kinders niks méér begeer het as ‘n troetelkonyn nie. Ek het eenvoudig aanhou nee sê; selfs nie eens Johannes het geweet hoekom nie.
Daar is heelwat dinge waarvan arme Johannes nooit geweet het nie. Soos die stapel oopgemaakte briewe van Dawid wat ek ná sy dood tussen my pa se goed gekry het.
Ma was oud en weerloos; verwyte sou my nêrens bring nie. En ek was al jare getroud met Johannes. Water onder die brug was dit.
Maar die pyn het gebly, en die wrewel. Bitterheid geword wat my siel verdor en my huwelik vernietig het.
DIE URE SLEEP VANDAG NOG erger voete as gewoonlik. Ek bly maar krap in die verlede.
Dat hy in Transvaal studeer het, en net in die Kaap was vir die vakansiewerk deur sy oom gereël, het ek lankal geweet. In daardie dae het die mense in ‘n straat mekaar se sake geken, die hand uitgesteek waar nodig. Nie soos vandag waar elkeen net rondhol agter sy eie neus aan nie.
Sy oë was grys, soos die waters by Seepunt op ‘n onweersdag, sy Transvaalse uitspraak vir my wondermooi. Op die Kaapse stasie het hy my met ‘n galante hand om die elmboog van die trein afgehelp; hy’t my aanvanklik as Juffrou aangespreek. Ek wat gewoond was om rondgeorder te word deur vier broers en ‘n pa, wie se woord wet was: “Anna, bring vir jou pa ‘n bietjie koffie! Anna, maak tog gou die seuns se skoene vir hulle skoon.” Anna dit, Anna dat. Ek moes maar ewe langs Ma inval en help regstaan vir die spul mansmense; dis hoe dinge daardie dae gedoen is.
“Vir wat kerm jy oor gaan leer, ou sussie, dis vir mansmense! Al wat jy moet doen, is om ‘n man te kry. En dit sal ook maar bars gaan!” Ha-ha-ha lag my broers en slaan mekaar op die skouer. Terwyl ék wegsluip om voor die badkamerspieël te gaan huil oor my haaslip wat kleindag sleg reggemaak is deur ‘n dokter wat seker ook maar net sy bes gedoen het.
Vandag kan ek nie glo hul kon so onsensitief wees nie; hulle het tog almal heel respektabel uitgedraai. En dat Ma dit toegelaat het nie. Maar Ma het selde die seuns teengegaan, sy was te besig om te was en te kook en op te tel agter hulle aan. En voor Pa het hulle nie ‘n voet verkeerd gesit nie, hulle het geweet sy belt praat vinnig en hy praat seer.
Ek was pas mondig toe ek my mond ordentlik laat regmaak het. Sonder om dit met Pa te bespreek. Dit was die finale breuk tussen ons; hy het dit as verraad gesien. Hy het geglo ‘n mens moet tevrede wees met jou lot.
Of miskien het hy net gesoek na nog ‘n stok om my mee by te kom; hy het my nooit die skande vergeef nie.
Ek het lánk afbetaal, maar van toe af kon ek die wêreld in die gesig kyk. Ek en klein Dawie.
Toe was dit egter lankal te laat vir my en Dawid.
SKEMERAAND MELD DIE TWEE KONYNVANGERS aan met baie bek en ‘n sespak van die lekker koeldrankgoed van deesdae wat glad nie koeldrank is nie. Dit word ‘n hele gedoente; ‘n baie plesierige gedoente. Naderhand het ons die dingetjie tot in die voortuin, maar raakvat is min. Jy kom tot by hom, dan glip hy soos ‘n stukkie seep tussen die grypende hande deur, net so ver dat jy hom nie kan bykom nie. Glad nie doodbang vir ons nie, net nie lus om sy vryheid prys te gee nie.
Die twee kitaarspelers van langsaan daag op op ‘n brullende motorfiets en kom stel terstond ondersoek in. Daar was ‘n tyd toe hulle seuntjies met nerfaf knieë was wat soms by my kom koeldrank drink het. Nou is hulle jong mans met Adonis-lywe en slegte velle en weet nie wat om vir ‘n oumens te sê nie.
Maar hulle weet van konyn vang. Gou-gou is ta veilig in ‘n boksie gepak, met luggate ingesteek de lot, asof dit ‘n dagreis is terug na sy baas toe.
Toe die prosessie lag-lag en blaas-blaas gereed maak om die straat oor te steek vir die seremoniële oorhandiging van die buurt se amptelike Paashaas (die jongklomp se slimstories, nie myne nie), probeer ek stil-stil agterbly. Maar verniet: “My Darling, jy gaan juis saam. Dis hoog tyd dat ons ‘n bietjie lewe blaas in jou love life; hierdie smart oom is net wat jy in jou lewe nodig het!”
So kom ek toe met ‘n gekreukelde rok en verwaaide hare na soveel jare weer voor Dawid te staan. Die uitdrukking op sy gesig sal ek in my dag des lewens nooit vergeet nie. Hy bly staan geraam in sy voordeur, sy een hand nog op die deurknop, die ander halfpad na my toe vir ‘n beskaafde aangename kennis. Sy stem slaan deur van aandoening: “Ann!! My magtag, Ann, dis regtig jy!” Ja, daardie paar weke was ek Ann. Ann was spesiaal; Anna was die vloerlap met die letsel.
Rondom my snak die manne na asem, party openlik en ander meer diskreet. “My darling, wil jy vir my sê dis ‘n ou flame van jou hierdie?” kreet Jeremy ekstaties, terwyl Jerome terstond die konyn in een van die jong latte se arms stop om op hierdie nuwe verwikkeling te konsentreer.
Dié verdwyn in die dieptes van die huis om die wegloper met sy maters te gaan herenig. Eintlik pragtige kinders, die twee, net op ‘n ouderdom waar hul mos maar onafgewerk om die rande is. Vader Tyd sal wel die skuurwerk doen.
Vir my het Vader Tyd g’n berusting gebring nie. En hier staan ek in my agste dekade weer voor die enigste man wat daar ooit vir my was.
NEE, EK HET MY NIE weer op my oudag in ‘n trouery begewe nie – só sterk is die nuwe vuur in die ou lendene darem nou ook nie. Maar soggens dek ek op die sonstoep vir ontbyt, of in die tuin as die weer dit toelaat. Skemeraand stap ek oor vir ‘n drankie, Sondag kook ek, Vrydagaand braai hy vir ons. Ons het innige vreugde aan mekaar; die ou-ou leed en misverstande het ons uitgehaal en deurgepraat en toe laat gaan.
My agtertuin is nou weer kraaknetjies, danksy die kitaarspelers se getroue onderhoudswerk, en propvol lewe, danksy die drietal Paashasies wat Dawid terstond aangedra het.
Dikwels kom sluit Jeremy en Jerome by ons aan vir ‘n drankie met sononder. Of ons stap oor vir een van hulle do’s met gestyfde tafellinne en kerslig en wonderbaarlike geregte.
Die kitaarspelers ry nie meer motorfiets nie; die dreunende ritmes het oorgegaan in teer ballades wat die hartsnare roer. En hulle sing graag Annie’s Song vir my. Die ou meesters se musiek het ook die manier om te groei op ‘n mens; die kappende jappie en sy gesin het ontpop as lieflike bure met ‘n oor vir die mooie.
Vir my het daardie Paasfees werklik nuwe lewe gebring. Nuwe lewe vir die lyf, die hart en die siel.
Maar Dawie se bestendige lewe in Kanada gaan ek nie ontwrig nie; hy was nog nooit een vir verrassings nie. En wat Dawid nie ken nie, gaan hy nooit mis nie.
Gun tog ‘n oumens ‘n enkele ou geheimpie!
baie mooi. Maar ek wonder van klein Dawie- wat van ‘n kersgeskenk, nadat die twee mekaar een leer ken het?
Haha, daar is in ‘n ander storie ook ‘n boertjie vir wie my suster knaend vrou soek!