Een jaar oud!

Hierdie blog is vandag ‘n jaar oud – en ek ervaar so ‘n klein titseltjie van die trots wat ‘n mens met jou kind se eerste verjaardag ervaar. (Maar net ‘n baie klein titseltjie – min dinge kom by die wete dat jy – en jou baba! – daardie eerste jaar oorleef het. En albei soveel geleer het.) Hierdie baba het in haar eerste jaar 226 posts van haar ma gekry, asook 10 374 (ja, regtig!) besoeke en 284 comments van besoekers. Op 6 Maart vanjaar was daar die hoogste getal besoekers – 134. Dit was met een van my eerste depressie posts, wat net weer die behoefte aan gesprek hieroor vir my wys. (En nee, ek kon nog nie ‘n lekker Afrikaanse woord vir post kry nie. Pos werk eenvoudig nie vir my nie. Kommentaar vir comments kan gaan, kommentaar lewer vir comment is lank en lomp, maar besoeke vir hits is darem gangbaar.)
Vir my is die blog nie ‘n plek om my hartsgeheime en diepste smarte  te lug teenoor  gesiglose, naamlose lesers nie. (Maar toe ek op Engelse blogs begin lees hoeveel mense blogging gebruik om dagboek te hou van hul stryd teen depressie en ander nare goed, het ek eers regtig besef hoe waardevol dit wel kan wees.) Die persoonlike goed wat ek wel skryf, is almal dinge waarmee ek dink heelwat ander mense kan identifiseer en dat dit dalk vir hulle iets kan beteken. Hieruit het die Dagboek van ‘n depressievegter ontstaan en daaruit weer die Diary of a depression fighter op my Engelse blog.
Soos gewoonlik in die lewe, het ek op die ou end baie meer ontvang as wat ek gegee het. Die blog gee vir my baie dinge. Eerstens skryfoefening. Tweedens iemand om dinge voor te vertel. (Ja, ek kan myself nie help nie, ek is blykbaar maar ‘n ongeneeslike verteller, altyd op soek na ‘n gewillige gehoor!)  Derdens gee dit my die kans om oor onderwerpe te kommunikeer waaroor almal rondom my nie altyd lus is om te praat nie. Vierdens help dit teen die alleenheid van van die huis af werk. Vyfdens is dit ‘n platform om my poging tot ‘n loopbaan as skrywer met belangstellendes te deel. (Deesdae op www.altacloeteskrywersprofiel.wordpress.com as jy dit dalk gemis het.) Sesdens gee dit my die kans om (hopelik!) vir die Afrikaanse boek iets te doen deur lekker boeke wat ek gelees het met ander te deel en deur gesprek daaroor aan te moedig. Sewende gee dit my die geleentheid om my ondervinding van allerhande dinge (depressie, hakkel, life coaching veral) te deel met mense wat ook daarin belang stel of behoefte daaraan het. (Ek hoop steeds niemand kry die gevoel dat ek beweer ek ken al die antwoorde en doen nou alles perfek nie!) En in die agste plek het dit my natuurlik ‘n magdom rekenaarvaardighede aangeleer. Negende was daar al heelwat pret op hierdie blog. En wat is die lewe nou sonder pret? Tiende: Seker net dat dit vir my ongelooflik bly dat daar soveel mense is wat jou waarlik wil lees wat ek te sê het!
Dus: Ek hoop jy kuier in die komende jaar gereeld saam – en laat hoor asseblief tog ook van jou!

3 gedagtes oor “Een jaar oud!

  1. Baie geluk. Jou blog lees lekker, en die depressie vegter idee is ‘n nuutjie vir baie depressielyers, dink ek. Lekker blog in die nuwe jaar!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s