RSS

Inspirasie: Verhaal van hoop en sukses

10 Apr

Ek loop hierdie artikel in Rapport raak en besef hierdie kind se ma was saam met my in die koshuis op universiteit. En dat dit netsowel my kind  kon gewees het. Of ek sou kon doen wat hulle as gesin reggekry het? Wie sal weet …

“Sit hom in ’n inrigting en gaan aan met jul lewe,” was dokters se raad 23 jaar gelede nadat Francois van Zyl as drie maande oue baba ernstige breinskade in ’n motorongeluk opgedoen het.

Breinchirurge, neuroloë, pediaters, oogspesialiste en oudioloë het gedoen wat hulle kon vir die hulpelose baba en medies gesproke het hulle nie regtig hoop vir hom gehad nie.

Maar vir Riaan en Jorina van Zyl was dit nie een oomblik ’n opsie nie. Jorina onthou haar eerste gedagte nadat hierdie woorde van die dokter in haar ore geplof het: “Jy het seker nie self kinders nie; dis hoekom jy so maklik kan sê mens moet hom soos ’n hondjie weggee.”

Die dokter het aangegaan: “Hierdie gestremde kind gaan soveel druk op jul huwelik en verhouding met jul ander seun, Rouleaux, sit dat dit eenvoudig nie die moeite werd gaan wees nie. Sit hom in ’n inrigting en gaan aan.”

Maar die Van Zyls het daardie inligting onmiddellik uit hul bewussyn geweer.

Kort daarna het hulle van ’n stimulasie-program onder leiding van die St. Bravel- instituut van England gehoor en toe Francois twee jaar oud was, het hulle heeltyds daarmee begin. Jorina het as oud-onderwyseres besluit om Francois heeltyds te begin stimuleer en onderrig.

“Dit was letterlik ’n geloofstap wat ons geneem het. Ons het besluit om dit vir twee jaar intensief te doen en daarna te kyk wat gebeur. Twee jaar is min in vergelyking met ’n leeftyd… Eintlik so ’n kort tydjie om op te offer as daar wel ’n kans is tot verbetering,” onthou Jorina.

Aanvanklik was daar geen verbetering nie. Niks nie. Geen flikkering van hoop of oplewing nie. Net die klein, hulpelose, spastiese babatjie wat op niks reageer nie.

Maar hulle het aangehou en aangehou totdat Francois ná ’n paar maande tog tekens begin toon het dat hy wel op die program reageer.

Die vroue in hul gemeente het almal saam begin help en dag ná dag het hulle ure aaneen met die baba gespeel en hom gestimuleer en geleer. Totdat hy ná twee jaar werklik op die program begin reageer het.

Eers het hy net ’n letter op ’n slag gesê en later enkele kort lettergrepe. En toe hy dít kon doen, het hy begin woorde soos “ma-ma” en “pa-pa” sê.

Vergeleke met enige ander 23-jarige man is Francois buitengewoon klein gebou en sy lyf is steeds geweldig spasties.

Hy sukkel om te skryf omdat hy nie beheer oor die spiere in sy hande het nie en omdat hy nog nooit soos ’n normale mens kon loop nie, was hy nog altyd op sy rolstoel vir beweging aangewese.

Nadat hy ’n paar jaar gelede ’n baie ernstige beroerte gehad het, sukkel hy ook erg om te praat.

Maar buiten sy fisieke gebreke skort daar met dié jong man niks nie. Hy maak grappies, kuier saam in ’n geselskap en is belese en berese.

“My skoolloopbaan het in Johannesburg begin by die Wes-Rand-skool vir gestremdes,” vertel hy per e-pos. “Dit was die tyd toe persoonlike rekenaars gewild geword het en tegnologie was van toe af aan my kant.”

In gr. 6 het sy lewe weer verander toe die hoof van die Laerskool Horison vir Jorina en Francois toegelaat het om binne die veilige mure van die skool vir hom tuisonderrig te gee.

“Dit het my die geleentheid gegee om soos ’n normale skoolkind skool te gaan en om aan al die aktiwiteite deel te neem soos om mondeling voor ’n klas voor te dra, ’n prys in die saal te ontvang, aan die skool se feesweek deel te neem en om in die skool se leerlingraad te kon dien.

“Die hoogtepunt was toe ek my laerskoolloopbaan kon afsluit met erekleure,” skryf Francois.

Sy hoërskoolloopbaan het hy by die Hope School in Johannesburg begin en op uitnodiging van een van die onderwyseresse het hy in die middae saam met die slalomspan begin oefen. In 2007 het hy ’n Suid-Afrikaanse rekord in die rolstoel-slalom opgestel en die daaropvolgende jaar dié rekord geslaan.

Dieselfde tyd het hy ook begin om boccia (iets soos rolbal in ’n rolstoel) te speel en in 2009 het hy die Sentraal-Gauteng­span gehaal.

Verlede jaar het die voormalige Suid-Afrikaanse fietsryer en goeie vriendin Annalise Stander hom genooi om saam met haar aan die Ysterman-kompetisie in Port Elizabeth deel te neem. Sy het hom in die 3,8 km-seeswem in ’n bootjie gesleep; in die 180 km-fietsry het hulle op ’n tandemfiets gery waarvan die voorpedale spesiaal vervang is deur voetrusse; en in die 42,2 km-marathon het sy hom in ’n “jogger” gestoot wat van ’n ou rolstoel gebou is. Hulle het die Ysterman voltooi in 15 uur en 37 minute.

“Hoewel sy al die harde werk gedoen het, het ek net soveel glorie as sy geniet,” vertel hy.

Deesdae werk Francois by sy pa se onderneming en hy vertel dis veral die wete dat hy nodig is wat die lewe vir hom die moeite werd en selfs lekker maak.

En Riaan en Jorina het nog nie een dag teruggekyk op hul besluit van destyds nie. Ja, soms het dit byna bomenslike harde werk en deursettingsvermoë gekos, maar Francois het hulle al soveel waardevolle lewenslesse geleer, vertel hulle. En anders as wat die dokters voorspel het, het Francois hul gesin net soveel nader aan mekaar gebring.

“Gestremde kinders verskil en om Francois se storie te vertel, bedoel ons nie dat die uitkoms altyd dieselfde gaan wees nie. Maar dit is altyd die moeite werd om eers te probeer voordat jy opgee op ’n mens met ’n gestremdheid,” sê Jorina.

Oor sy eie deursettingsvermoë praat Francois nie so maklik nie, maar hy erken darem dat sy motivering seker maar van binne kom.

“Wat my motiveer, is die verskriklike lekker gevoel as jy sukses behaal het. En die oomblik dat jy suksesvol was, spoor dit jou aan om die volgende ding aan te pak.

“My lewensmotto is die volgende aanhaling van ’n anonieme skrywer: “ ‘Sukses is iets wat jy self bepaal. Dis om te werk as ander rus; aan te hou te midde van teenstand; altyd te beur na ’n ver wenpaal. Sukses is ’n droom, ’n ideaal.

“Dis om in die sleurwerk van elke dag iets anders en beters te sien wag, en deur aanhou en uithou uiteindelik daardie droom te verwesenlik.’

Terésa Coetzee in Rapport

 
2 Kommentaar

Posted by op 10/04/2011 in Inspirasie, Stories van hoop

 

Etikette: , , ,

2 responses to “Inspirasie: Verhaal van hoop en sukses

  1. Johanne

    10/04/2011 at 11:00

    Baie dankie vir die deel met ons. Dit laat mens hand in eie boesem steek.
    Wonderlik en vir daardie ouers: geluk en ‘n voorbeeld soos min.

     
  2. seegogga

    10/04/2011 at 14:59

    10 uit 10 vir die ouers. As oud- skoolsielkundige by skole vir serebraalgestremdes, weet ek dat dit baie relatief is om ‘n kleinkindjie se toekomstige vermoens te beoordeel. Die pasient behoort altyd die voordeel van dietwyfel te kry, soos hier bewys is.

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: