Ek het die afgelope jaar ongelooflike persoonlike groei ervaar. Soos gereelde lesers sal weet, het ‘n paar dinge saamgewerk om my by dié punt te bring. Die belangrikste van hierdie dinge is die coaching kursus, die depressiekursus (albei van die internet), die nuwe wêreld wat met blogging vir my oopgemaak het, die kollegas wat ek in my mede-Romanzaskrywers gevind het, en natuurlik die inspirasie van Bruce Springsteen se wonderlike lirieke en die integriteit waarmee hy al vir amper veertig jaar sy loopbaan bedryf.
Hierdie dinge het verskeie veranderinge in my lewe teweeg gebring. Deur die coaching-beginsels op myself toe te pas, het ek nie alleen daarin geslaag om binne drie maande vyftien kilogram te verloor nie, maar ook om dit die afgelope nege maande te behou. Verby is die dae toe ek deur cravings oorval is en na soetgoed gehunker het.
Daarby is ek danksy die coaching nou in die roetine om elke weeksdag amper moeiteloos ten minste tweeduisend woorde te skryf. Ek kry dit ook doodmaklik reg om heel eerste die dag se skryfwerk af te handel, voor ek begin blog en korrespondeer met my kollegas. Die stres van manuskripte instuur, die wag op die gevreesde verslag én die hantering van die verslag wanneer hy kom, is ook deesdae vir my kleingeld. Verby is die dae toe ek vir dae moedeloos was na ‘n verslag en net met die grootste moeite my motivering weer opgetower kon kry. Daarby geniet ek die blootstelling wat my uitgewer my gee al hoe meer en ervaar geen stres by die vooruitsig om voor mense te moet praat nie.
Ek ervaar ook geen wrokkigheid meer oor ons gesin se administrasie en finansies wat grootliks op my skouers rus nie, nog minder laat ek my onderkry deur frustrasie en irritasie as die mansmense in my lewe nie oorgretig is om te help met die noodsaaklike onderhoud van die huis en die tuin nie. Wat ek nie self kan regmaak nie, ignoreer ek eenvoudig sonder om onnodige energie daarop te verspil.
Sedert ek die depressiekursus voltooi het, was ek nog nooit weer vir ‘n enkele dag sommer sonder rede morbied en ellendig nie. Ek gaan soos ‘n vrolike vinkie deur my dae en kry dit reg om bekommernisse van my af te skud en eenvoudig op die Vader se genade te vertrou.
Die kersie op die koek is natuurlik dat Springsteen pas aangekondig het dat hy volgende jaar in SA kom toer en my persoonlik genooi het om as sy gas die eerste show in die Kaap by te woon. Ek het gesê ek sal net eers my dagboek moet raadpleeg, want ek mag dalk blog verpligtinge op daardie dag hê …
En toe word ek wakker … en ontdek dis die eerste April! J Hoop jy het ‘n héérlike dag!
Het só MINDERWAARDIG teenoor jou met jou engelvlerke begin voel by die lees hiervan – en is verlig om te hoor dat jy nog hier en daar `n menslike eienskap het.
En nou weet ek nie wat om te glo nie!! tsk
😀