Dagboek van ‘n depressievegter: Die waarde van terapie

Ek het jare lank duur antidepressante gedrink en hard probeer om met die lewe te cope. Dit terwyl ek met my bietjie Sielkunde-agtergrond eintlik geweet het van watter waarde terapie vir ‘n mens kan wees. Terugskouend lyk dit of daar vir my meer van ‘n stigma aan terapie gekleef het as aan die drink van die pille. Dit was natuurlik ‘n goeie twintig jaar gelede. Ekself het darem ‘n ver pad gekom in dié tyd. Maar ek vermoed die meeste mense sal nog steeds baie makliker die pille sluk as om vir berading te gaan. Ons leef eenvoudig in ‘n kultuur van pille sluk vir elke pyn. Die gevolg is (onthou, dis my persoonlike mening!) dat massas mense jare lank die paadjie loop wat ekself jare lank geloop het – sluk die pille, probeer cope so goed jy kan – en groei self emosioneel nie ‘n dooie duit nie.

Toe ek eindelik sover kom om ‘n sielkundige te sien, het ek dit saam met my man gedoen. Fout. Nie oor enigiets wat hy gedoen of nie gedoen het nie, maar bloot omdat ek makliker alleen met iemand praat. Die tweede fout was dat die terapeut iemand was by wie ek nie aansluiting gevind het nie. Hieruit is dus twee lesse te leer: Stel vas wat vir jóú die beste werk – alleen of saam met jou maat? En tweedens: Soek tót jy ‘n sielkundige kry by wie jý aansluiting vind. Iemand by wie jy gemaklik is, iemand wat jou werklik laat voel hy/sy aanvaar en verstaan jou.  Ek persoonlik kan glad nie met ‘n man praat nie – dit was altyd ‘n vrou by wie ek myself kon wees. Vir jou mag dit dalk andersom wees.

Die groot gevaar by terapie (myns insiens!) is dat mense van die sielkundige verwag om raad te gee wat alles sal regmaak, om vir jou te vertel presies wat jy moet doen om jou probleme op te los. M.a.w. maar net ‘n ander manier om die pilletjie te sluk. TERAPIE WERK NIE SO NIE. Terapeute het ook nie die oplossings vir al jou probleme nie. Hulle is opgelei om jou te help oopmaak in ‘n atmosfeer van aanvaarding en deur die práát kom die eintlike verligting. Hulle is NIE opgelei om vir jou kitsoplossings te gee nie. DAAR BESTAAN NIE KITSOPLOSSING NIE. Hulle kan jou wel lei om SELF in te sien waaraan jy kan werk of wat in jou lewe moet verander. Hulle sal later dalk hier en daar ‘n praktiese wenk gee, maar dis hoofsaaklik die kliënt self wat moet begin insien wat hy self kan doen om sy lewe (en die depressie) beter te maak.

En dit bring ons weer by die ding waarop ek so bly hamer: Die neem van verantwoordelikheid vir jouself. Eers wanneer jy SELF besef daar is vir jou geleenthede om te leer en te groei, gaan dinge regtig vir jou begin beter word. Maar dit sal steeds tyd vat. Daar bestaan eenvoudig nie vinnige oplossings vir probleme wat donkiejare geneem het om te vorm nie.

Wanneer hierdie dinge vir jou duidelik raak, kan jy die eerste tree gee op ‘n wonderlike pad van innerlike groei, van doelgerig stap op die pad van volwassewording (ja, al is jy al stokoud!), van jouself leer ken en verstaan, van deernis ontwikkel vir jouself en van aanvaarding van jou sterkpunte én jou swakpunte.

Vir my het my eerste besoek aan ‘n sielkundige by wie ek aansluiting gevind het, die eerste (pynlike) tree op die (laaang) pad na herstel beteken. Mettertyd het dit vir my makliker geword om van tyd tot tyd, wanneer ‘n spesifieke kwessie my wou pootjie, terug te gaan vir leiding en die begrip van ‘n onbetrokke persoon met ervaring en insig. Gelukkig is dit vandag glad nie meer so ‘n vreeslike gedagte soos ‘n klompie jare gelede nie. Meer mense aanvaar nou dis doodlogies om na ‘n deskundige te gaan as jy swaarkry met ‘n spesifieke aspek van jou lewe, of as daar ‘n moeilike ding gebeur het wat jy graag sinvol wil probeer verwerk.

En ja, natuurlik is hulle duur. Maar vir my was dit elke sent werd.

Die eerste sessie by ‘n terapeut was vir my ‘n deurbraak, die begin van ‘n meer positiewe pad.  Dit kan vir jou dieselfde wees.

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s