In die mond van die wolf – Paul C. Venter

Die inwoners noem  dit die Ouveld. Dis ‘n plek vol spoke en bygelowe, wilde diere, mense met wilde emosies, baie humor, baie trane. En propvol stories: ware stories, bangmaakstories, grootliegstories. Saam vertel hulle die diep menslike en soms verbysterende geskiedenis van ‘n harde, magiese wêreld waar die stedeling meestal net deurry of petrol ingooi.

Paul C. Venter is ‘n meesterverteller wat hier uit sy hart en met wysheid en humor vertel van die Karoo, ‘n unieke stuk aarde geteister deur droogtes, storms en Bybelse plae. ‘n Plek van geloof en wonderwerke, waar die onverwoesbare woestyn die een is wat altyd laaste lag.

In die mond van die wolf het nie ‘n sinistêre betekenis soos ons met ons assosiasies met nare wolwe en goeie Rooikappies geneig is om te dink nie. Nee, dis die vertaling van In Bocca Al Lupo, wat blykbaar ‘n ou Italiaanse manier is om iemand voorspoed toe te wens. Die karakters in hierdie bundel kortverhale het dan ook meestal al die goeie wense nodig wat hulle kan kry. Dis ‘n harde lewe in ‘n landstreek wat nie vir sissies bedoel is nie.
Die verhale Droomkatedraal aan die begin en In die mond van die wolf aan die einde bind die verhale effektief tot ‘n eenheid saam. Die eerste verhaal is dié van Salvatore Lombino wat met sy paar Merino’s die binneland ingetrek het om ‘n lewe te maak sodat hy die skone Ornella as sy bruid kan laat kom. Maar Ornella kon nie so lank wag nie. En met die Merino’s gaan dit ook nie aldag so voorspoedig nie … Hoe feitelik korrek die verhaal is, weet ek nie. Maar dat dit bekoor en aangryp, dit weet ek wel. In die mond van die wolf speel jare der jare later af op die plaas Bokloop, afgelei van die Italiaanse In Bocca Al Lupo van destyds. ‘n Man en vrou met hul baba sit in ‘n skuiling by die rivier, waar die man die seekoeie wil afneem. Die telefoon in die opstal lui. ‘n Vloed is aan die kom … Alte bekend in ons tyd van tsoenami’s hier en daar en oral (of so voel dit mos). Die paartjie weet hulle kan hulself nie red nie. Maar: Die vrou doen wanhopig en waansinnig van vrees wat net ‘n ma sal doen. Sy druk die kind in die koelboks en klap die deksel toe … Die man hou die vrou vas en sy lippe beweeg teen haar wang … Dit word donker, asof hulle meteens in die skaduwee van ‘n berg kniel. Toe tref die vloed hulle … Johannes Woestyn is ‘n geharde dief en moordenaar. Hy stap met ‘n kruiwa langs die vloed se spoor af …
Die verhale is gegrond op ware verhale wat Venter opgetel het in die streek waar hy nou bly. En soos die storieverteller wat hy is, nie alleen kon los om vergeet te word nie. Dieselfde mense of hul nasate kom telkens in die stories voor. Dit maak die verhale werklik vir die leser. Eg en menslik.
As jy lief is vir die Karoo, as jy lief is vir die land en sy mense, as jy humor geniet – moenie hierdie boek by jou laat verby gaan nie. Want ja, dis ‘n boek vol swaarkry, maar ook ‘n boek vol humor en plesier. En vol van die pragtigste Afrikaans.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s