Ek het die fliek gaan kyk in die week waarin ek met die dood geworstel het (darem nie my eie nie!), in ‘n doelbewuste poging om iets positiefs te doen en vir myself goed te wees. My gemoed was maar laag en
my verwagtinge baie min. Dalk is dit hoekom ek dit so geniet het. Dalk omdat ek nie die energie gehad het om regtig krities te kyk nie. Ek wou net graag lag – en glo my, ek het. Ongelukkig het die onaangename werklikheid maar weer buite die fliek gewag, maar vir daardie tydjie het ek van die meeste van die wêreld se ellendes skoon vergeet.
Vir Rachel McAdams ken ek van g’n kant af nie. Maar sy is pragtig en sy het wat my betref die rol uitstekend gespeel. Aan die begin is sy behoorlik soos ‘n kat op ‘n warm plaat – so springerig dat sy jou skoon moeg maak. En kan sy vinnig praat! Maar dis volkome funksioneel in die storie. Haar gedrewenheid word daardeur op humoristiese wyse oorgedra. En ook haar onbeholpenheid in sosiale situasies en haar pynlike onsekerheid daaroor. Die oorgang na die sterker, kalmer persoon waarin sy ontwikkel, is heeltemal oortuigend. (En dan sien jy eers behoorlik hoe mooi sy is.) Natuurlik kom sy baie vinnig oor haar onbeholpenheid, want daar is immers nie baie tyd binne die bestek van ‘n fliek nie. (Die openingstoneel het nie vir my heeltemal gewerk nie. Ek dink die storie kon meer met ‘n bang begin het. Asof ek nou iets weet van rolprent maak!) En natuurlik beland hulle vinnig in die bed – soos ek gesê het, die tyd is beperk. Dit help dat die romantiese held (Patrick Wilson) besonder sag op die oog is. En dat hy beslis kan toneel speel.
Maar die gróót lekkerte was die twee veterane – Diane Keaton en Harrison Ford. Ek gaan niks verder sê nie. As jy van een of albei van hulle hou, gaan kyk die fliek! Nie een van hulle is meer jonk en mooi nie, maar dit maak hulle eintlik interessanter. Keaton se rol is nie so groot nie, maar sy doen dit perfek. Ford s’n is veel groter, en hy doen dit onvergeetlik. Daar is humor, ja, maar daar is ook patos en die ouderdom wat nader kruip. En die kwessie van harde nuus teenoor borrelgomnuus. En die kuns van die maak van ‘n goeie frittata …
As jy ‘n bietjie hulp nodig het om weer in die goeie en mooie te glo en van Japan en ander ellendes te vergeet – kry Morning Glory in die hande!
Lees meer by http://www.imdb.com/title/tt1126618/
Lyk baie oulik. Wil ook probeer fliek ens. die vakansie. Indien moontlik, stuur vir
my jou e-pos adres. Indien jy dit nie doen nie, sal ek verstaan.
Diane is steeds vir my mooi. En stylvol. En sy kan goed snaaks wees!